Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Lysbeth Bijlstra en Peter Annesley
WAAR Houtbaai
GROOTTE 50 m²

Dis moeilik om te glo dat dié helder, oop kombuis in Houtbaai eers uit vyf kleiner vertrekke bestaan het: ’n piepklein kombuis, ’n gang, studeerkamer, badkamer en ’n waskamer.

Lysbeth en Peter het die eiendom vyf jaar lank gehuur, en toe hulle die geleentheid kry om te koop, het hulle dit aangegryp en begin opknap; in die proses het hulle ’n ruim oopplan-kombuis-en-eetkamer geskep.

Om geld te spaar het Peter, wat al meer as 20 jaar in die boubedryf werk, en Lysbeth, ’n gesoute “oudhede-snuffelaar”, hul kombuis self in net minder as twee maande opgeknap. Hulle het ’n span werkers laat kom vir groter werk soos mure afbreek en die lê van die afgevlakte vloer, en daarna die ruimte gevul met items wat hulle óf self gemaak het óf by sloopwerwe, tweedehands- en liefdadigheidswinkels gekoop het. “Soos in die res van ons huis is alles in die kombuis herwin of hergebruik,” sê Lysbeth.

Deesdae het die kombuis ’n ruim eetgedeelte met stapeldeure wat op die tuin oopmaak; dit laat tonne natuurlike lig in en skep goeie vloei tussen die huis en tuin. “Ons boer omtrent in ons kombuis. Dis die perfekte binne-buitevertrek. Selfs die eekhorings weet nie meer waar hulle hoort nie!” sê Lysbeth.

Die eetkamertafel is gemaak van ou dakkappe uit ’n huis wat gesloop is. Die karkasse en deure van die kaste in die kombuis en eetkamer is van bekostigbare laaghout. ’n Leksel donkerblou verf en koperknoppe verleen ’n elegante voorkoms.
Hanglamp deur David Manando by die Houtbaai-hawemark; koperknoppe op kas van die Milnerton-mark

Vars idee!
Vir dié slim “speseryrak” is blikkies op magneetstroke, wat gewoonlik vir messe gebruik word, teen die muur gemonteer.

Peter het die beton-werkblaaie self gemaak met behulp van laaghout-vorms en staalmaasdraad. Nadat hy die beton vir 10 dae laat uitdroog het, het hy die vorms verwyder en die blaaie verseël met Coprox Waterproof Dualcoat.

1. ’n Helderrooi fokusmuur (Plascon Hot-n-Spicy) is ’n prettige element. Houtkas van Loft Living 2. Die porseleinwasbak is ’n tweedehandse kopie van Wauhaus in Kaapstad. “Een van die eienaars het dit in hul tuin ontdek!” sê Lysbeth.

Dié deur, aan die agterkant van die kombuis, is bygevoeg vir toegang tot ’n bestaande binnehof.

Voor

Die ou kombuis was piepklein! Moeilik om te glo dié is nou ’n ruim eetarea wat op die tuin uitkyk. Die ou badkamer en studeerkamer is by die ruimte geïnkorporeer. Eers nadat hulle sewe binnemure uitgebreek het, kon Lysbeth en Peter ’n idee kry van hoe die ruimte uiteindelik sou lyk.

V&A met Peter & Lysbeth

Watter uitdagings het tydens die opknap opgeduik?

Ons het besluit om net hier te bly terwyl die hele huis opgeknap word. Dit het gevoel asof ons in ons eie huis kampeer soos ons van vertrek tot vertrek moes swerf! Aan die begin was dit lekker, en selfs ’n bietjie romanties, maar die opknap het ’n jaar en ’n half geneem (die kombuis s’n ses weke). Toe die huis klaar was, moes ons begin herbou aan ons huwelik!

Enige geldspaarwenke?

Ons het soveel moontlik ou boumateriaal hergebruik. Dis ook lekker om iets by ’n sloopwerf op te tel en ’n nuwe nut daarvoor uit te dink. Agterna sien jy hoeveel oulike detail jou huis het.

Begroting

Totaal: R100 000

Materiaal vir kombuiskaste R20 000
Materiaal vir sementwerk R25 000
Stapeldeure R10 000
Afwerking R15 000
Arbeid R30 000

AFWERKING EN KONTAKTE

Bykomstighede

  • David Manando by die Houtbaai-hawemark (083 343 9468)
  • Loft Living (021 422 0088, loftliving.co.za)
  • Wauhaus (021 448 2884, wauhaus.co.za)