Foto’s Francois Oberholster • Stilering Misi Overturf

WIE WOON HIER? Ceylan en Ian Thomson met hul kinders, Kaya (5) en Timo (3)
WAAR Tuine, Kaapstad
GROOTTE 120 m²

As ’n gesin wat graag oral stap of fietsry – hulle voel so sterk daaroor dat hulle eers onlangs ’n motor gekoop het – was ’n eiendom in die hartjie van Kaapstad ononderhandelbaar toe hulle in 2016 ’n blyplek begin soek.

Dit moes net ’n hanetree wees van waar hul daaglikse aktiwiteite hulle ook al neem, en omdat hulle voorstanders is van die “small house movement”, wou hulle graag ’n kompakte huis hê. Geen probleem in die Moederstad nie!

Die Thomsons wou ook ’n bekostigbare ruimte hê, ’n huis wat hulle kon opknap na hul smaak en omskep in ’n gesinstuiste met hul eie kontemporêre styl.

Ná ’n soektog van ’n paar maande het Ian, ’n entrepreneur en hoof-uitvoerende beampte van TooMuchWifi, en Ceylan, ’n besturende vennoot by Craft+Graft op Dunkley-plein, ’n klein Victoriaanse huis in Tuine gekoop. Die lieflike uitsig op Tafelberg, pragtige binnehof en detail soos 40 cm dik mure, 3,55 m hoë plafonne en oorspronklike houtvloere het hul hart gesteel.

Maar ’n 100 jaar oue huis kom nie sonder sy probleme nie! “Die uitleg was vreemd en elke ruimte was afgesonder van die res,” sê Ceylan. “Ons het nie gehou van die nou gang met vertrekke agter deure weggesteek nie; dit het alles donker laat voel.”

Baie van die huis se lieflike houtvloere is uitgehaal en vervang met onooglike grys teëls, en die paartjie het nie gehou van die kombuis wat in ’n afgesonderde hoek van die huis was nie.

Sewe maande lank het hulle binnemure uitgebreek en die huis se uitleg perfek vir hul leefstyl aangepas – alles sorgvuldig beplan rondom die kombuis en leefareas. Daarna het hulle dit versier met ’n duidelike visie vir elke vertrek. “Nou is daar gemaklike vloei tussen vertrekke, daar kom goeie natuurlike lig in en ons huis is gevul met goed wat ons na aan die hart lê,” sê Ceylan.

Ceylan en Ian het al die verflae van die oorspronklike hortjies afgeskuur om die pragtige hout daaronder te onbloot. Die buitemure was eers ’n saai geel, maar is nou ’n gesofistikeerde grys skakering met wit aksente.

Die donker, beknopte sitkamer is nou ’n ruim, gesofistikeerde vertrek. Die paartjie wou aanvanklik die mure ’n moderne donkergrys verf, maar het later besluit op ’n ligter skakering om die ruimte van die vertrek te beklemtoon.
Hanglamp van Aura Interiors; Eames-stoel van @home; koffietafel met swart blad van LIM

Ian het die kleiner koffietafel gebou met ’n basis gemaak deur Classy Steel Classics en ’n brons skinkbord wat hulle geërf het as blad.

Die eetkamer was eers klein en donker, maar nou kry dit tonne lig van die binnehof aan een kant en groot stapeldeure na die tuin aan die ander kant.
Mat van Herringbone; tafel van LIM; stoele van Chair Crazy; hanglamp van Arora Lights

Ons is dol oor die swart aksente in dié vertrek, wat treffende kontras skep.

Skildery deur Katharien de Villiers

Die oorspronklike sitkamer is verander in ’n “ruim kombuis wat perfek is vir onthaal”. Hoewel hulle al die deure tussen die onderskeie vertrekke uitgebreek het vir ’n semi-oopplanruimte, het hulle die “raamwerk” van elke muur behou om die verskillende ruimtes af te baken en hulde te bring aan die huis se oorspronklike Victoriaanse kothuisstyl. “Ek wou ’n kombuis met min losgoed en skoon lyne hê, daarom het ons laaie en kasdeure sonder handvatsels gekies. Daar staan ook net vyf toestelle op die werkblaaie, alles dinge wat ons elke dag gebruik,” sê Ceylan.
Kaste en eiland van Ismail Interiors; marmerblad van WOMAG; stoele van @home

Soldervertrek in wording: Die ontblote baksteenmuur was deel van die ou solder; die paartjie het dit net so gelos vir tekstuur.

Kalm en kontemporêr

Met inspirasie uit die natuur het die Thomsons ’n binnekant met rustige, aardse kleure en rou hout in gedagte gehad. Hulle het begin deur al die mure dieselfde liggrys te verf vir eenvormigheid.

En toe het hulle elke ruimte versigtig ingeklee. Elkeen moes sy eie styl hê, maar steeds subtiel inskakel by die res van die huis. Dit het hulle reggekry deur elemente te herhaal, soos die patroonteëls in die Marokkaanse styl in albei badkamers, asook rondom die kaggel en braai.

Die paartjie het ook rondgesoek na oudhede wat hulde sou bring aan die huis se Victoriaanse styl. “Ons hou van eenvoud, maar wil ook ’n sekere sofistikasie bewerkstellig,” sê Ceylan. “Dit het ons reggekry met ’n paar elemente soos die groot marmerblad vir die kombuiseiland en die oorgroot hanglampe in die leefareas. Kleiner items soos lampe, matte, kuns en dekor is toe uitgekies om dit te komplementeer.”

Eers wou die paartjie die mure in die hoofbadkamer (onder) swart verf vir ’n bietjie drama, maar op die ou end het hulle besluit op dieselfde liggrys as die res van die huis. “Ons is bly, want dié skakering laat die badkamer groter en geselliger lyk as wat andersins die geval sou wees,” sê Ceylan. Hulle het wel ’n treffende fokusmuur in die stort geskep met vertikale swart teëls teen die muur en blou patroonteëls in die Marokkaanse styl op die vloer.

Die wasbakkas in die en suite is gemaak van die huis se ou vloerplanke. “Ons wou baie graag die ou eikehoutvloere hou, maar dit was deurtrek van termiete en ons moes dit weggooi,” sê Ceylan.
Koper-stortkop en -krane van John Brass Taps & Fittings; swart teëls van Tiletoria; vloerteëls van Moroccan Warehouse

’n Verseëlde afgevlakte sementvloer en geteëlde fokusmuur gee ’n gesofistikeerde voorkoms aan die kinders se badkamer.
Krane van Exquisite Bathrooms; teëls van Moroccan Warehouse

Slim plan! Dié nisse is ’n ruimterekker in ’n knus ruimte.

’n Groot spieël in die en suite weerkaats die binnehof langs die hoofslaapkamer.

Ons is dol oor die groot deure in ons slaapkamer; smiddae val die son net reg op die bed. – Ceylan

Die binnehof was ’n groot trekpleister vir die paartjie, wat graag onthaal. Hulle het ’n ekstra badkamer uitgehaal om dit te vergroot en nou maak die eetkamer en slaapkamers ook daarop oop. Smal houtdeurtjies is vervang met metaalraam-stapeldeure vir ’n titsel moderne styl en om die natuurlike lig te benut.

Beddegoed van IKEA; geel hanglamp van Inhouse Furniture; Umbra-kapstok van superbalist.com

aaN diE werk …

FaSade

leefarea

Heelwat binnemure is uitgebreek, soos dié een tussen die ou sitkamer en gang, om ruimer vertrekke te skep.

BINNEHOF

Die klein deure is met groteres vervang en veiligheidshekke wat die uitsig na die binnehof belemmer het, is verwyder.

kombuis

Die kombuis is geskuif na die middel van die huis. Dié ruimte is nou die kinders se slaapkamer en badkamer.

gesinskamer

Die oorspronklike gesinskamer is nou die oopplankombuis.

V&A met Ceylan en Ian

Wat is van die grootste lesse wat die projek julle geleer het?

Dis baie, baie moeilik om ’n opknapprojek te bestuur sonder vorige ervaring, veral met twee kinders onder drie!

Enige geldspaarwenke?

Kombineer ’n paar treffende stukke met meer bekostigbare items.

Is daar enigiets wat julle volgende keer anders sal doen?

Ons sal kontrakteurs deegliker navors en ons instink vertrou.

VERSKAFFERS
  • @home 0860 576 576, home.co.za
  • Arora Lights 021 949 2520, aroralights.co.za
  • Aura Interiors 021 447 8808, aurainteriors.co.za
  • Chair Crazy 021 465 9991, chaircrazy.co.za
  • Classy Steel Classics 021 551 7705, classysteel.co.za
  • Exquisite Bathrooms 021 418 7626, exb.co.za
  • Herringbone 021 418 0787, herringbone.co.za
  • Inhouse Furniture 061 589 0858
  • Ismail Sambo Interiors 021 703 9578/79, isambointeriors.co.za
  • John Brass Taps & Fittings 021 447 2807
  • LIM 021 423 1200, lim.co.za
  • Moroccan Warehouse 021 461 8318
  • Outdoor Workz 021 555 2742, outdoorworkz.co.za
  • Tiletoria 021 202 0160, tiletoria.co.za
  • WOMAG 021 447 6161, womag.co.za