Foto: Stiaan van Zyl, bouer/ voorman

Twee spesiale goed het vandag gebeur. ’n Vriendin wat swaargekry het, het ná ’n lang tyd weer ’n diep-uit-die-maag-lag gegee, en ek het my bouers vir die laaste keer gegroet ... 

My pragtige klein “plaashuis” in die skaduwee van Maanskynkop op Hermanus is klaar!

Máánde van bouers, banke en besluite is iets van die verlede! Nege maande om presies te wees – soos met ’n baba ...

Ek was nooit in die posisie om mini-mensies van my eie te hê nie en soos die mens seker maar is, wil jy iets nalaat – iets wat gaan voortleef; iets konkréét wat gaan sê: “Ek was hier.”  

Nou het ek iets staangemaak – iets wat in die aarde geanker gaan wees lank nadat die wind en sand my voetspore op Grottostrand uitgevee het. ’n Huis wat hopelik vir baie mense ná my groot plesier gaan gee. ’n Huis waar die sorgvrye, vrolike lag van kinderstemme gehoor sal word. ’n Huis waar liefde die werkwoord gaan wees.

Ek is vir die eerste keer in my lewe ’n huiseienaar. 

Ek is trots daarop.

En ek het met dié projek reusespronge buite my gemaksone gegee ... Die laaste halfjaar van my lewe sedert die fondasies gegrawe is, was tydrowend, so wees gewaarsku as jy dalk van plan is om te bou!

Soos ek al gesê het, die papierwerk is op sigself ’n berg om te klim; dit terwyl die vordering aanvanklik maar stadig is en ’n mens sukkel om daardie droomhuis te visualiseer. Ek het dit meer as een keer sterk oorweeg om die projek te laat vaar en die erfie-in-wording te verkoop want vir my “haastige persoonlikheid” was al die admin en tegniese/strukturele prosesse vooraf sieldodend.

Die meeste mense wat ek ken wat al gebou het, het láng stories oor wat ’n nagmerrie dit was en dat niks volgens plan verloop het nie – nie die begroting nie, ook nie die duur van die bouery nie. 

Hier kan ek egter ondanks die ander frustrasies ’n ander storie vertel, en nee, daar’s geen baantjies vir boeties nie. 

Ek het met mense gewerk wat hulle storie kén en wat deurentyd professioneel was – mense wat my met elke tree bygestaan en hul woord gestand gedoen het. Hoewel onvoorsiene munisipale uitgawes (nuwe regulasies!) my geldsake hier reg teen die einde ’n lelike duik gegee het, was die bouers getrou aan hulle woord en was die huis soos beloof op 31 Julie 2018 klaar! 

Reg vir intrek. 

Kan jy dit glo? 

Chianti Property Holdings, julle is in jul eie liga! Die manne van die Paarl-span en die tekenaar Berto het al almal hier op my blog gepryk – Fanie, Danie, en bouer/voorman Stiaan – maar nou’s dit daardie formidabele, omgee-vroue se beurt wat met geduld, begrip en vernuf die dolle dae draaglik gemaak het. 

Voor: Zelda Bester, agter: Sandra Palm en Amanda Kruger

Om jou in so iets te begeef is senutergend, veral as jy soos in my geval so min van bousake af weet. Daar kom tye dat die lewe veeleisende verantwoordelikhede jou so tap dat jy bloot niks energie oor het vir ander besluite nie. 

’n Hele paar engele het die opdraande stryd makliker gemaak – mense soos Willie, vir wie niks ooit te veel moeite was nie, wat tyd en insette met ’n oop hart gegee het sonder om ooit iets terug te verwag. Dan was daar Santa, Jaime, Louise F., Danielle, Dawid, Lanie, Melinda, Louise S., Pieter, Ursula, Lorraine,  Pieter, Charl, Gregory, Tanya, René, Jenny, Lawlien, Aretha, Toyer, Andrea en Angela – almal noodsaaklike skakels in dié lang ketting. As ek ’n lys moet maak van die A-span van Regs-, Bank- en Bouwerk sal dié mense en hul maatskappye voor in die ry staan. 

En dan is daar die span manne wat dag in en dag uit, onder leiding van die raakvatter-bouer/voorman Stiaan van Zyl (nie verwant nie) te midde van gure weer én oproer op Hermanus, met spit en graaf ’n onindrukwekkende, toegegroeide erfie tot my tuiskoms, my hártsplek omskep het. Stiaan, jy kan hierdie mooie huis eendag vir jou dogtertjie gaan wys en vir haar met groot trots sê: “Pappa het dit gebou!” 

My punt is: gaan doen jou huiswerk. Jou keuse van bouer is van kardinale belang en so ook wanneer dit by diensverskaffers kom. 

Behalwe vir dié bepalende besluite het ek ook ander topwenke:

  • Kom dadelik skriftelik ooreen met die boumaatskappy wat die begroting is en vra vir ’n lys van maandelikse uitgawes en fakture sodat jy op koers kan bly.
  • Hou boek van elke sent wat jy uitgee (en hou iets oor vir onverwagte uitgawes, want dit gáán opduik!).
  • Maak seker registrasie by die relevante bou-owerhede is in plek.
  • Onderhandel met diensverskaffers – moenie die eerste en beste prys aanvaar nie.
  • Wees betrokke regdeur die besluitnemingsproses. Kommunikeer met die bouer/boumaatskappy en moenie bang wees om te vra as iets jou pla nie.
  • Staal jouself vir hope papierwerk, prokureurs- en bankbesoeke sowel as EFT’s. 
  • Dink langtermyn en dink prakties wanneer jy besluit oor afwerkings ens. Daar is talle opsies, so jy moet seker wees van jou saak! 
  • Gaan eko-vriendelik te werk: begroot vir ’n watertenk en plant inheems
  • Rome is nie in een dag gebou nie – wees geduldig. Daar is prosesse wat gevolg móét word.
  • En laaste, maar ’n nie die minste nie: die hele proses gaan makliker én lekkerder wees as jy ’n goeie verhouding met jou bouspan en diensverskaffers het.
Ek het my huis Izinja’s Inn gedoop – “Izinja” is die Xhosa- en Zulu-woord vir “honde” – my getroue kamerade oor soveel jare. Ek beaam wat iemand een keer gesê het: Dis eintlik húlle huis – ek betaal net die verband. My tuin is byvoorbeeld baie hondevriendelik met genoeg snuffelhoekies; ’n goeie balans van son en skadu, ’n lappie gras en net hier en daar ’n klein (noodsaaklike) trappie vir my driebeen se gemak en vir wanneer al die wollerige lywe met ouderdom seer en styf begin word. (En dit geld ook vir wanneer dié lyf se moertjies eendag begin verroes.)

Ek het nie die luukse om Izinja’s Inn as naweek- of vakansiehuis te gebruik nie. Iemand anders gaan daardie huis vir eers geniet (en huur betaal) totdat ek ’n geldjie (terug) gemaak het. 

Die dag gaan egter kom dat ek my swart karretjie gaan pak en koers kies Hermanus toe. Ek gaan die vensters oopgooi sodat die seelug kan instroom. Ek gaan ’n tafel dek vir agt – mense vir wie ek lief is en ons gaan op daardie “plaasstoep” sit en kuier tot die son oor Maanskynkop sak en die wêreld stil word. Maar eers gaan ons ’n glasie klink op uitdagings, want dis net deur onsself so ’n bietjie te “strek” en uit ons gemaksone te beweeg dat ons die lewe in sy volle glorie kan beleef. 

Ek het ’n idee Sir Winston Churchill was reg toe hy gesê het: “We shape our dwellings and afterwards our dwellings shape us.”

Ek groet; dankie, Tuis-lesers dat julle in dié avontuur gedeel het!