Foto: Isabé Steyn

Dís die droom, behalwe dat daar net een ons in die pond gaan wees, en twee hónde in die agterplaas ... Getrou aan ’n rubriekskrywer se beskrywing van die emosionele prosesse waardeur die huisbouer (dis nou ook die uwe) gaan, het die afwagting en opgewondenheid (Fase 1) gou plek gemaak vir frustrasie en vertwyfeling (Fase 2) ... 

“Hare op jou tande – dis wat jy gaan nodig hê!” Ek het dit al talle kere gehoor sedert ek bekendgemaak het dat ek gaan bou! My vertroue in my bouers én my onkunde oor die proses het my aanvanklik salig in die duister gehad tot DIE PAPIERWERK en onvoorsiene glipse en gruwels die proses so middel Januarie betree het. Mense, ek kán nou saampraat oor hare op die tande, want dit was in ’n stadium so erg dat ek gaan aanklop het by die oulike agent wat die erf aan my verkoop het om te hoor of ek die meulsteen om my nek (waarvan die fondasies toe al gegrawe is!) kan verkoop. Ek gaan julle nie verveel met die gory details nie, maar in ’n neutedop was van die grootste kinkels in die kabel die volgende:

  • Registrasie by DIE raad (NHBRC) – ’n eindelose proses waar die dokumentasie en rompslomp gemaak het dat ek my hare uit my kop wil trek, die bouery met byna twee maande vertraag het én my ’n sak geld gekos het!
  • ’n Munisipale servituut van 1904 (!) wat skielik, ná indiening van planne, vir die bekwame Berto terug na die tekenbord gedwing het
  • Planne wag weggeraak het (!) en van voor af ingedien moes word
  • ’n Munisipale opdrag om nuwe opmetings te doen (wat die beursie opnuut geruk het ...) Oor al die ander betalings voor die bouery nog begin het, wil ek nie eers praat nie!
  • En toe kom die normaalweg rustige kusdorp mos tot stilstand weens betogings ...

Maar terug by die slim rubrieksrywer se handleiding oor Die Proses. Al die frustrasie en bekommernis begin darem nou weer plek maak vir opgewondenheid en afwagting, want danksy die bekwame span bouers onder leiding van voorman Stiaan van Zyl (nie verwant) wat sy troepe soos ’n wafferse veldmaarskalk van ouds lei, staan my huisie nou dakhoogte! Hoewel dit nog vir my onkundige en onkreatiewe oog na ’n blote murasie lyk, hoor ek dat ek met die dak op, ’n gevóél vir en van my huis sal kry.

Die huis in wording ...

Fanie, die hoof van die boumaatskappy en sy regterhand, Danie, was verlede week hier by my aan huis om detail te bespreek. In hulle woorde was ek tot dusvêr die “ideale kliënt” omdat ek glad nie ingemeng het nie en hulle ten volle met die groot besluite vertrou het. Maar dié daggies is nou vir dié onkundige en onbetrokke bouertjie iets van die verlede.

My insette word nou benodig, wat beteken ek sal moet Google dat dit bars voor ek in my swart karretjie (met vreemde nuwe krapmerke) die pad Hermanus toe vat. Nou moet daar afwerking, beligting, kleurskema en vloerbedekking gepraat word!

Voor ek vergeet: te midde van al die aanvanklike frustrasies het ek my toekomstige bure op Hermanus gaan ontmoet (om sommer ook by voorbaat om verskoning te vra vir die geraas wat wag). Was dit nie lekker om ou bekendes so op my drumpel raak te loop nie – hier kom nog gróót kuiers!

Voorman Stiaan van Zyl en spanleier Stephen Gillion

Die winter is om die draai, en as alles volgens plan verloop, sal die bouers middel Julie vir oulaas oppak. Daar sal ’n kaggeltjie in die kombuis brand en dan kan ek weer saam met daardie legendariese folk rockers neurie wanneer hulle sing: “Staring at the fire four hours and hours.”