Ek het ’n wilde perd opgesaal en omdraaikans is daar nie ... Die oordrag van die stukkie grond wat ek op Hermanus aangeskaf het, is so te sê afgehandel – die koeël is deur die kerk. 

Ek het ook pas toestemming van die verkoper gekry dat ons vandeesmaand die erf kan begin skoonmaak, hoewel registrasie eers amptelik oor twee weke plaasvind. Done, dusted.

Dit beteken dié leek gaan begin bou en haar begeef in ’n wêreld wat vêr verwyder is van haar alledaagse bestaan en kennis – dié van woorde soos air duct, casing, dry wall – om nie eers te praat van wanneer die binnenshuise versiering begin en daar op (skielik) belangrike dinge soos “ruimte”, “beligting”, “afwerking” en “kleurskemas” besluit moet word nie ... Ek lees onlangs in Die Burger se Eiendomme-bylae dat hoë plafonne, granietwerkblaaie, groot porseleinteëls, gelamineerde vloere, ’n gaskaggel en buitebraai van vlekvrye staal maar net van ’n paar van die “vereistes” is waaraan ’n “propperse” huis op die platteland moet voldoen. Dis duidelik nie ’n goedkoop onderneming nie en met ’n beperkte begroting soos myne gaan ek kreatief moet dink. Ek skrik nie vir ’n uitdaging nie, maar ek hoop ook nie die erf van 495 m2 (wat ek ietwat impulsief aangekoop het) wat nou so onbewerk en onindrukwekkend daar in Sesde Straat staan, my nog lelik in die agterstewe gaan byt nie ...

Die erf
Die droom

Die bal is nou aan die rol en danksy ’n gemeenskaplike vriend het die bekende Paarlse ontwikkelaar Fanie Theron (van Chianti Property Holdings) ingestem om ’n paar lede van sy span tot my beskikking te stel en my pophuis te bou. Ek moet dadelik byvoeg dat so ’n projek nie normaalweg in Fanie se portefeulje gevind sal word nie. Manne soos Fanie bring landmerke tot stand en kan selfs daarmee spog dat hulle die bouers is van Hermanus se nuwe onkologie-hospitaal – kompleet met bunker en elegante wooneenhede vir pasiënte. Ons het op 20 Oktober op die erf ontmoet en dit het baie mooipraat gekos om hom aan boord te kry. My huisie gaan dalk nie een van sy kroonjuwele wees nie, maar ek het vir mnr. Theron en die projekbestuurder Sean Gründlingh gewaarborg dat hulle wel baie pret gaan hê met die Pophuisprojek.

Sean Gründlingh en Fanie Theron.

Ek het ná die vergadering met ’n sprong in my stap en ’n ligte hart in my karretjie geklim. Ek het ’n bouer! 

Ná die aanvanklike beklemming om my hart begin die verroeste kreatiewe moertjies in my brein ook nou beweeg. Ek dink die gedagte dat ek vir die eerste keer (en waarskynlik ook die enigste keer) die geleentheid gaan hê om my droomhuis te besit, het my deur ’n kennersvriendin se stapel dekortydskrifte laat blaai. Haar instruksie was: “Lizzy, doen jou huiswerk: navorsing, navorsing en nog meer navorsing!” 

My eerste amptelike vergadering met die bouers en tekenaar het op 26 Oktober plaasgevind by Chianti se kantore in die Paarl. My maag was op ’n knop, want hier stap ek nou pens en pootjies in die wêreld van bou in! Ek is ingewag deur Danie Kruger, ’n ervare hand by die bou van huise én hospitale. Danie met die vonkel in die oog het reggesit met ’n eerste, voorlopige sketsie – hoe ongelooflik opwindend om iets op papier te sien! 

Minute later het die tekenaar Berto Palm by ons aangesluit en toe het daardie vertrek begin stoom soos die manne koppe bymekaar sit. Soos die koffies die een ná die ander ingedra is, het daardie beskeie tekeninkie skielik ’n lewe van sy eie gekry en was Danie Berto duidelik in hul element!

Danie se heel eerste skets!
Senior projekbestuurder Danie Kruger
Tekenaar Berto Palm

Die finale planne behoort binne 48 uur in my rekenaar se inboks te lê. Dit lyk nie presies soos die aanvanklike “droomhuis” nie – dis mooier!!!

Maar hoekom juis Hermanus?

Dis eenvoudig:

  • Dit klink soos ’n cliché, maar die platteland met sy eenvoud en rustigheid roep. (Hoewel Hermanus dalk nie daardie weggesteekte dorpie is waaroor so baie stadsmense droom nie, is dit mooi en stil genoeg – wel, in die buiteseisoentyd ...)
  • Die dorp word goed bestuur, het al die nodige geriewe en is boonop vol karakter
  • Die waterkrisis in Kaapstad bekommer my! Hermanus het ondergrondse water en die dorpsvaders en -moeders het ook al lank terug die skrif aan die muur gesien en hulle beplanning behoorlik gedoen. (Ek erken ruiterlik: Ek mis my bad!)
  • Dis koeler in Hermanus (Ek’s ’n wintermens.)
  • Dis net ’n uur en ’n half se ry uit Kaapstad.
  • Misdaad is proporsioneel baie minder.
  • As ’n enkellopende is vereensaming in die stad, veral as jy ouer word, ’n bekommernis. Van my beste vriende het vakansiehuise op Hermanus of beplan om daar af te tree.
  • Laastens, ek huur in ’n kompleks in Duiwelspiek en hoewel daar vir my gesê word dat ek veel meer met my geld sal kan woeker deur ’n eiendom in die Moederstad te koop, is dit net te duur! (Ek is op my eie en het nie veel binnenshuise ruimte nodig nie, maar weens my hondekinders is ’n tuin noodsaaklik en ’n grasperk in die stad gaan jou sak skud.)

Wat is die plan met die huis?

Dit word definitief nie beplan vir luilekker naweke nie. Die kothuis moet inkomste genereer! Ek wil dit vir ’n jaar of wat tydens vakansies uitverhuur, want al wat leef en beef uit die Noorde (en die Boland) trek oor die Paas- en Kersvakansie met hulle volgelaaide viertrekvoertuie daar in, so ’n tekort aan huurders gaan daar nie wees nie. Dis in die korttermyn. In die mediumtermyn wil ek self daar gaan bly, ’n besigheidjie begin maar genoeg tyd hê om daardie kronkelende kuspaadjies (twaalf kilometer lank van die Nuwe Hawe tot Grottostrand om presies te wees) met my viervoetiges te verken. In die langtermyn wil ek daar oud word – so eenvoudig soos dit.  Die Huisie moet dus so ontwerp en gebou word dat dit ’n ou tannie met ’n krom ruggie, stywe knieë en ’n kierie vrolik, veilig en versorg sal hou. (Dit moet trapvry wees en plek hê vir ’n permanente versorger.) En ja, die droomplek moet ook eko-vriendelik wees, want klimaatsverandering is ongelukkig nie net ’n gonswoord nie.

Weens my knap begroting gaan ek klein bou en hoewel en die see kan sien as ek op my tone staan, het ek ’n pragtige uitsig van die berg.

Voor ek groet, wat my bekommer is dat ek:

  1. niks van bouwerk af weet nie;
  2. ’n vrou is, wat dikwels met ’n slenter gevang word wanneer dit by projekte in die “manswêreld” kom (hoewel ek my bouspan ten volle vertrou!);
  3. ’n beperkte begroting het en dalk met minder tevrede sal moet wees of behoede ons, sal moet wag met die bouwerk as die bankbalans begin kreun;
  4. nie elke week kan koers kies oor Sir Lowry’s om self inspeksie te gaan doen nie. 

Kom stap saam, want ek glo dat my reis vir elkeen wat droom van ’n blyplek by die see, van almal wat die oorgang wil maak van stadsmuis na plaasmuis, klippe uit die pad sal rol. Ek gaan praktiese wenke deel; van flaters vertel; met die hulp van die bouspan slaggate uitwys maar ook die lekker van skep en mooimaak deel. The good, the bad and the ugly. En selfs al is jy knus en gekoester net waar jy is, sal Voëlvry in Voëlklip sommer net vermaaklike leesstof maak, want ek het so ’n gevoel so ’n onderneming gaan ’n vrou se karakter en geduld tot die uiterste beproef. Soos iemand een keer gesê het: Whatever good things we build end up building us.