Château de Capelle is 484 jaar oud en gedurende die laaste 30 jaar het die kasteel vergete gelê aan die voet van ’n klein dorpie tussen Toulouse en die Spaanse grens. Afgesien van die dak wat ses jaar gelede vervang is, is daar vir jare geen instandhouding gedoen nie, en die hoeveelheid restourasiewerk wat dit nodig gehad het, het vele potensiële kopers die hasepad laat kies.

Ons het besef hoeveel werk dit sou kos om dié gebou se eertydse prag en praal te herstel. Die agent wat ons rondgewys het, het gemeen dis te veel van ’n wrak vir ’n jong gesin en was gretig om ons eerder ander eiendomme te gaan wys. Die plek het egter vir ons ’n vreemde bekoring ingehou – selfs die kinders het uitgelate van kamer tot kamer gehardloop en verskrikte vlermuise verjaag!

Nadat ons 41 eiendomme besigtig het, was dit steeds die “wrak” wat in ons gedagtes bly vassteek het. Dis naby genoeg aan die dorpie, maar ver genoeg om privaatheid en stilte te geniet. Die tuin grens aan ’n gholfbaan en is ’n paar minute se stap van ’n berg-omsoomde meer met ’n uitsig oor die Pireneë-berge. Dit was die perfekte ligging vir ons. Al was dit erg verwaarloos, het die huis hope karakter gehad.

Selfs die mees gesoute opknappers sal dalk twee keer dink voordat hulle ’n ou kasteel sonder water, elektrisiteit, dreinering of ’n verwarmingstelsel koop. Daar was verbrokkelde vloere, ou waterskade aan die plafonne, die tuin was ’n oerwoud en dele van die mure en vensters (die wat wél glas ingehad het) was toegerank met klimop.

Maar ons was verlief, en het potensiaal in hierdie vergete juweel gesien. Die vertrekke was ruim met massiewe vensters, hoë plafonne, houtvloere en pragtige marmer-kaggelomrandings. My man het oorgevlieg vir ’n tweede besoek en ’n argitek en bouingenieur het bevestig dat die struktuur in ’n goeie toestand is. Ek was steeds huiwerig, maar my man se entoesiasme was aansteeklik en ons het ’n aanbod gemaak.

Op 23 Oktober 2019 het ons die trotse eienaars van hierdie 16de eeuse kasteel geword. Ons het saam met die sleutels ook ’n stapel ou, vergeelde briewe van die agent ontvang. Hierdie briewe dateer uit die 1700’s en tussen die daaglikse werskaf is ons besig met die vertaling en navorsing daarvan. Ek is baie nuuskierig oor die inhoud van elke brief, maar werk kry meestal voorkeur bo my nuuskierigheid.

Ons wou so gou moontlik ’n deel inrig en leefbaar maak vir ons gesin. Ons eerste prioriteit was om die water en elektrisiteit weer aangesluit te kry. Dis binne ’n paar dae gedoen, maar die installasie van ’n septiese tenk en aanlê van die nodige pype het heelwat langer geneem as wat ons verwag het. Ná ’n gewik en geweeg het ons besluit om die aangrensende buitegeboue aan die linkerkant van die porte cochere (inryportaal) in ’n eenslaapkamerwoonstel te omskep.

Die vloer in hierdie gedeelte was verbrokkel en ons moes ’n leer gebruik om deur ’n venster te klim tot op die tweede vloer. ’n Ou wasbak wat tussen hemel en aarde gehang het, was die enigste getuienis dat daar vroeër ’n vloer was. Ons het nuwe vloerbalke gebou, ’n vloer gelê en dit met kastanjehout bedek. Ons het vensters ingesit (dit het net hortjies gehad), die plafon geïsoleer en met houtpanele tussen die dakbalke bedek (ons inspirasie was die Saint Sulpice-kerk in Pierrefonds met sy pragtige plafon). Ek was versot op die pragtige bouklip onder die pleister, so ons het die ou pleister weggebeitel en die klipmure aan die ooste- en westekant onthul. Die ander twee mure is eers geïsoleer en toe met pleisterbord bedek.

Ons het ’n voorafvervaardigde kombuiseenheid vir die woonstel gekoop. Dit was te modern na my sin, maar was ’n maklike oplossing wat vinnig geïnstalleer kon word om ’n leefbare spasie te skep. Maar ons het ’n paar dae later ’n groot eikehout-blad gebou en met lynsaadolie behandel om die kombuis ’n meer rustieke voorkoms te gee.

Tans is dit ’n kombuis wat daagliks vyf monde voed (ses as jy die kat bytel!) en pakplek kan nogal ’n uitdaging wees. Ons het losstaande rakke onder die werkvlak gesit met mandjies om baguettes, croissants, groente en vrugte in te stoor. Die hoofhuis het ’n massiewe kombuis, so op die ou end sal dié kombuisie werk vir familie en ander besoekers wat nie langtermyn-pakplek benodig nie.

Die badkamer het aanvanklik net die noodsaaklikste gehad met ’n bad en toilet. Die installasie van die wasbak, stort en teëls was volgende op die doenlysie, maar die grendeltyd het ons aan bande gelê en sommige take moes uitgestel word. Die ysterwarewinkels se deure was vir weke gesluit, so ons fokus was op die materiaal en gereedskap wat tot ons beskikking was. In die stoor het ons tuingereedskap, ’n paar blikke verf en sakke waterkalk en fyn sand gehad. Met dié voorraad het ons aan die tuin gewerk en die mure in die woonstel geverf. Ons het van die klipmure in die hoofhuis ontbloot en ’n mengsel van water, kalk en sand aangewend om die mure waterdig te maak en te beskerm.

Teen die einde van die grendeltyd kon ons weer planne maak om stelselmatig deur die vertrekke in die hoofhuis te werk. Die afgelope paar weke werk ons onverpoosd aan een van die woonkamers. Ons het die plafon vervang, dakbalke met lynsaadolie behandel, gapings in die mure opgevul met klippe uit die tuin, verslete plakpapier verwyder en geverf. Dit het verskeie skoonmaaksessies gekos om van die “antieke” stof op die houtvloere ontslae te raak.

Die houtbalk bokant die ingang na die woonkamer het oor die jare “gesink”. Ons het ’n nuwe eikehoutraam onder die oorspronklike een aangebring om dit te versterk. Die hout is toe gebeits om by die ou dakbalke in te pas, en die gapings is met klippe en ’n waterkalkmengsel gevul. Laastens het ons ligte aangebring wat ons tweedehands op Facebook Marketplace gekoop het, en voila!

Ons eerste vertrek in die hoofhuis is byna klaar! Die Franse het ’n spreekwoord: “Petit a petit, l’oiseau fait son nid”. Dit beteken “bietjie vir bietjie maak die voël sy nes”. Mettertyd sal ons die château se destydse swier en ouwêreldse sjarme herstel! Geniet die restourasiereis saam met ons en Tuis!