Die tydelike slaapkamer.
 

Laatsomer het ons ’n paar keer gaste ontvang, onder andere my nefie-hulle wat uit Duitsland kom kuier het. Ons het ’n tydelike slaapkamer vir hulle ingerig in een vertrek wat in Julie opTuis se webblad verskyn het. Met besoeke van ook ander vriende was ons aandag verdeel tussen die werk, kuiergaste en die aanloklike water van die meer. Tog het ons steeds goeie vordering gemaak en ons restourasiereis voortgesit.

Ons het ’n paar projekte gelyktydig aangepak, maar moes die planne ’n paar keer aanpas – soos die installasie van die buite-badkamer se toilet en wasbak net voor ons gaste se aankoms. Ons het ook die vloer in hierdie badkamer geteël. Die stort wag egter nog geduldig vir ’n kans om sy regmatige plek in te neem.

Die ruwe mure van die keldervertrek het ’n paar lae verf gekry om dit effens ligter te maak. Ons het messelwerkverf met ’n growwe tekstuur gebruik wat by die aardsheid van die vertrek met sy grondvloer pas. Die eikehout wat ons vir die rakke in die keldervertrek wil gebruik, word tans in die eetkamer gedroog.

Tydens die verfproses het my kinders ’n paar geroeste sleutels ontdek wat in holtes van die muur versteek was. Ek beplan om die sleutels in skadubokse te raam as deel van ’n galery van die ontdekkings wat ons tot dusver gemaak het.

Die afgelope paar weke het ons op die ingangsportaal en die gastevleuel gefokus. Albei ruimtes het verdere interessante ontdekkings opgelewer in die vorm van ou steenboë wat agter pleister bokant ingange versteek was. Ons het die ou pleister weggebeitel en die indrukwekkende steenboog in die voorportaal ontbloot. Daar was ook ’n kleiner steenboog bo die deur wat uit die voorportaal na die eetgedeelte van die kombuis lei. Die ou deurkosyn is verwyder en ons het ’n nuwe breër ingang met ’n eikehoutkosyn aangebring. Die kosyn is gebeits sodat dit by die hout op die mure pas.

Die ingangsportaal voor die werk

Die ou geskeurde muurbehangsels en die res van die pleister in die ingangsportaal is ook verwyder om die steenmure te ontbloot. Ons het toe die openinge tussen die stene op die tradisionele manier gevul met ’n mengsel van fyn en growwe bousand en kalk. Daarna is die mure geseël om dit te beskerm teen verkrummeling.

Agter die stowwerige en geskeurde ou muurbehangsels in die ingangsportaal was ’n vals muur met ’n versteekte nis. Ons het dit oopgemaak en beplan om ’n antieke meubelstuk en skildery as fokuspunt hier te gebruik. Ons het reeds ’n kollig aangebring, maar soek nog na die regte skildery om daar te hang. Ek dink selfs daaraan om ’n stuk van die ou muurbehangsel met sy leeumotief te raam en daar te hang as ’n kopknik na die eertydse dekor.

Die nuwe vertikale houtbalke en vloerlyste is gebeits om by die ou hout in te skakel. Die hout teen die muur het ons slegs met lynolie behandel om dit donkerder te maak. Die kandelaber en die ander ligte het ons tweedehands op Marketplace aangeskaf – toevallig stem die blommotief baie ooreen met dié van die vloerteëls.

Die ingangsportaal ná die werk.

Die teëls in die ingangsportaal is ou handgemaakte teëls. Ek het dit skoongemaak en ’n lagie was daarop aangewend. Die sement waarvan die teëls gemaak is, is poreus en die was trek daarin. Daar is ’n paar teëls wat nie perfek is nie, maar ek wou graag hierdie oorspronklike kenmerk van die kasteel behou. Ná 484 jaar verwag ’n mens in elk geval nie perfeksie in so ’n ou gebou nie.

Op die tweede vloer het ons aan die oostelike vleuel van die kasteel gewerk waar ons ’n gaste-suite vir familie en vriende wil inrig. Ons gesin se slaapkamers sal in die westelike deel van die kasteel wees, maar ons beplan om eers vroeg volgende jaar aan daardie kamers te begin werk.

Die beplande biblioteek voor die werk.

Die vertrek wat aanvanklik deel sou wees van die gaste-suite het ’n smal deuropening gehad met ’n ingeboude kas reg langsaan teen ’n muur wat veel dunner as die ander kasteelmure was. Dit blyk dat die muur en kas in latere jare aangebring is. By nadere inspeksie het ons ’n steenboog aan die binnekant van die kas gevind wat so te sê oor die breedte van die vertrek strek. Ons het besluit om die muur af te breek en die boog met sy pragtige steenwerk te onthul.

Die beplande biblioteek ná die werk gedoen is.

Dit was die regte besluit, want die boog verleen iets besonders aan die vertrek noudat lig die voorheen donker gang binnestroom. Om die vertrek steeds deel van ’n private gaste-suite te maak, sou beteken dat ons deure moes aanbring. Maar ons wou nie die nuutgevonde lig verloor nie. Nadat ons idees op ons Facebook-groep gevra het, het ons besluit om die vertrek in die kasteel se biblioteek te omskep. Die gaste-suite sal nou uit twee vertrekke nader aan die toring bestaan en aan weerskante van die gang wees.

Die gesin se kat, Sokkies, inspekteer die werk aan die gastevleuel.

Die vloer van die suite se leefarea het werk nodig gehad. Ek wou, waar moontlik, die oorspronklike houtvloer behou, daarom het ons die houtvloer van ’n ander vertrek op die derde verdieping opgeoffer sodat dié planke vir herstelwerk gebruik kon word. Die vloer moes gelyk gemaak en selfs plek-plek met ander stukke hout opgevul word alvorens ons die vloerplanke bo-op kon inskroef. Agterna het ons die hout geskuur en met was behandel. Ons is heel in ons skik met die eindproduk.

Die hoeveelheid werk is nie altyd opsigtelik nie, maar ander opknappers sal verstaan wanneer ek sê daar is baie ander werk ook in hierdie vertrek gedoen. Ons het drie verskillende lae muurpapier verwyder; die stukkende plafon is vervang en geïsoleer. Daar is kragpunte aangebring. Die kaggel se marmer is herstel en gapings tussen die stene in nog ’n klein boog is met kalkmengsel opgevul.

Die gastevleuel ná die werk.

Ons het die steenmuur agter die kaggel ontbloot, maar die stene langs die skoorsteen was nie mooi nie. Die oplossing was om pleisterbord rondom die kaggel aan te bring sodat net die mooier stene op die muur vertoon word. Die nuwe pleisterbord is tydelik wit geverf. Daar sal altyd in die toekoms kans wees om met kleur te speel, net soos die seisoene met kleur in ons tuin kom speel. Die wit gee vir ons ’n skoon doek om enige antieke kopies makliker by die dekor te laat inpas. Ek het juis onlangs ’n oudhedewinkel met die mooiste antieke meubels skaars 12 kilometer van Château de Capelle af ontdek. My man het dalk rede tot kommer, want ek het reeds my hart op ’n paar stukke verloor...

Die keldervertrek
Die buitebadkamer

My hande jeuk om te begin mooimaak en die kasteel te meubileer, maar ek herinner myself gedurig dat dit ’n reis is, nie ’n resies nie. Elke seisoen bring sy eie geleenthede om verder te skryf aan die kronieke van ons kasteel. Ons wens is dat elke leser ons storie sal geniet en inspirasie verkry uit ’n verre land.

Met groete uit Frankryk tot volgende keer.