Foto’s Peter Rimell en verskaf | Stilering Marian van Wyk

Wie woon hier? Werner en Tanja Schneeberger en hul kinders, Emma en Sybil
WAAR Kaapstad
GROOTTE 18 m2

Dis nie die eerste keer dat Werner en Tanja ’n regrukprojek aanpak nie. Sewe jaar terug het dié twee ’n hele huis in Engeland van voor tot agter opgeknap. Waar Werner die kap- en bouwerk gedoen het, het Tanja afgeskuur, aangedra en geverf.

In 2014 het hulle teruggekeer Suid-Afrika toe, en hier huis gekoop – weer ’n opknapper se droom. Maar dié keer het hulle ’n kompromie aangegaan: Werner sou die kombuis op sy eie regruk, maar die res van die huis moes deur ’n kontrakteur onder hande geneem word. Hiervoor het hulle die hulp van Darling Homes ingeroep.

Dis in die detail

Nie net die werkblaaie is van eikehout nie, van die laaie is ook van dié duursame hout gemaak – ’n treffende kontras met die wit MDF-panele.

“Die vorige ronde was leersaam, lekker en opwindend, maar sedertdien het die kinders bygekom. Dié slag sou ons ook spoed en gerief in ag moes neem,” verduidelik Tanja.

Die kontrakteur het weliswaar hand bygesit met die nuwe vensterrame en suigwaaier in die kombuis, maar die res was Werner se handewerk: Hy het die blaaie, die koffiestasie se kaste en die spatpanele en -skopplate gemaak, alles van eikehout.

“Hy was ook verantwoordelik vir die bou en insit van die laaie, gemaak van wit MDF. Hy het alles self gedoen – drie maande se werk, maar die moeite werd!” vertel Tanja trots.

Werner het al die houtwerk self gedoen en die kaste ingesit. – Tanja

Werner se liefde vir meubelontwerp het gemaak dat hy die kombuis soos een groot meubelstuk benader het.

Werner, ’n ingenieur, het nog altyd in houtwerk en meubelontwerp belang gestel. Sy broer, Heinrich, het ’n onderneming wat kaste bou en instandhouding doen (Hands on Homes), en dit was sy werk om die nuwe karkasse te installeer.

Tanja vertel dat hulle aanvanklik Caesarstone-werkblaaie oorweeg het, maar dit sou te duur wees. Dis toe dat hulle besluit het op houtblaaie, wat Werner self kon maak. Hulle het eikehout gekies – nie net omdat dit ’n hardehout is nie, maar dis ook relatief bekostigbaar en maklik verkrygbaar. Vir ekstra beskerming is die blaaie met drie lae Woodoc 30 behandel.

Die kombuis pas by hul styl, wat Tanja beskryf as “eenvoudig, maar met ’n duidelike belangstelling in die Skandinawiese manier van doen”. Daarom ook die kombinasie van wit panele en eikehoutblaaie.

In die week is Werner die kok, maar naweke hou Tanja daarvan om nuwe resepte uit te toets. “Ons hou van Mediterreense kos, vars kruie en enigiets deur Jamie Oliver!” Pot van Le Creuset; groen bekers en groen bakkies van MRP Home

Die afwerking
  • Eikehoutplanke van Ian Fuller Agencies (021 534 6135)
  • MDF van DIY Cupboards (021 945 4421)
  • Laailopers, skroewe, skarniere en karkaspote Unitraco (021 507 0100)
  • Spaanderbord en hout vir karkasseChipbase (021 701 1128)
  • BouwerkDarling Homes (021 554 3515)
  • Karkasse deur Hands on Homes (072 377 8529)
  • Bykomstighede
  1. Le Creuset (086 177 3321)
  2. MRP Home (0800 212 535)

Uit hul notaboek

Die goeie hout was elke sent werd; en gelukkig kon boet Heinrich die karkasse gratis inbou.

Koste 

Totaal: R35 000

Eikehout R15 000
Karkas-hout R5 000
Ysterware R5 000
Laaie en deure (wat nie van eikehout gemaak is nie) R10 000

V&A met Tanja en Werner

Vanwaar die inspirasie vir jul kombuis?

Die huis se palet (skakerings van wit en grys, met eenvoudige meubels van ligte beuke-, essen- en eikehout) laat natuurlike lig in die huis in en skep ’n rustige atmosfeer. Die kombuis was ’n voortsetting hiervan.

Jul kombuis lyk baie Skandinawies. Was dit doelbewus? En is dit relevant in die Suid-Afrikaanse klimaat?

Dit was nie doelbewus nie, maar eenvoud en funksionaliteit is vir ons baie belangrik. Onthou darem ook dat die Mediterreense argitektuur – dink byvoorbeeld aan Griekeland – ook baie op wit staatmaak, so dit pas ook goed in Suid-Afrika.

Gepraat van funksionaliteit – hoe het julle die uitleg beplan?

Ons het begin met die driehoek-reël vir ’n doeltreffende kombuis: Die meeste take in die kombuis wentel om die yskas, wasbak en stoof, wat gevolglik naby mekaar moet wees. Verdere oorwegings was hoeveel plek ons vir potte en panne, en kruideniersware nodig het, sodat ons die laai- en rakspasie teenoor mekaar kon opweeg. Ook om te dink aan hoe ons die kombuis wil gebruik, waar die speserylaai moet wees, plek vir ’n komposdrom; of ons om die stoof gaan kuier; waar ons gaan koffie maak en drankies skink.

Is houtblaaie duursaam? En hoe het julle dit behandel?

Ja, eikehout is hard en daarom redelik bestand teen impak en hitte; dit kan ook heelwat nattigheid verdra. Ons het die hout behandel met drie lae Woodoc 30, ’n seëlaar vir buitegebruik. Sover hou dit baie goed; enige onverskillige meskepe kan maklik uitgeskuur word indien nodig. Daar is talle ander houtsoorte wat ewe goed kan werk, soos kiaat, beukehout of selfs okkerneut as jou begroting dit toelaat.

Enige wenke oor hoe om koste in toom te hou?

Die enigste manier is om kwotasies te kry, ’n begroting op te stel en dan daarby te hou – anders kan dinge baie vinnig handuit ruk.

Waarop spaar ’n mens nié?

Goedkoop is duur koop! ’n Mens spaar nie deur goedkoper kontrakteurs te gebruik en dan weet hulle nie wat hulle doen nie.