Foto's: Francois Oberholster

Begin in die slaapkamer ...

PROJEKGIDS

Harde werk 3/10

Vaardigheidsvlak 3/10

Tyd nodig Naweekprojek

Doen die hele projek vir R6 267:

Verf R910, gordynreling R500, gordyne R760, Giant Peony-muurplakkers R1 597, spieëls R500, kristalle R250, goue viniel R200, gehekelde tafeldoek R50, mat R1 500

Sit jy met ’n saai slaapkamer en ’n knap begroting? Dis tyd om ’n bietjie drome te droom... Tuis se selfdoenkenner Shelly Bergh wys ons hoe om ’n splinternuwe voorkoms te bedink – en doen jy dit in fases, sal dit boonop nie jou sak ruk nie.

Dis wat sy gedoen het ...

Moet nooit die trefkrag van ’n fokusmuur onderskat nie. Shelly het die muur agter die bed in ’n pragtige groen – Duram Wall & Ceiling in die kleur St Francis Heights – geverf en balans gebring deur die ander mure ’n laag Duram Classic Matt in Ceres Blush te gee. Pragtige Giant Peony-muurplakkers verleen ’n titsel romanse.

Giant Peony-muurplakkers van stickythings.co.za; wit duvetstel, wit katoendeken, kunspels en terrarium van @home; lang strooikussing met roosgoue detail van MRP Home; ander kussings van H&M Home

Goue viniel van Maizey; kristalle van Global Beads

Dis in die detail

’n Droommooi plafonroos verleen tonne sjarme aan die slaapkamer en met ’n bietjie Brasso het die ou hanglamp sy sprankel teruggekry! Shelly het kristalle aan die lamp gehang en ’n krans uit goue viniel geknip vir ’n bietjie glans.

Dis in die detail

Shelly het die retro-bedtafeltjie opgekikker met Tjhoko Paint in die kleur Sherif’s Stone. Al die plat oppervlakke is geverf, maar die houtrande is afgeskuur en ontbloot gelos.

Knyp die geldjies?

Doen dit stuk-stuk!

Met R1 000: Verf die mure en meubels.

Met R2 500: Kry ’n nuwe gordynstok en gordyne.

OF

Met R4 000: Sit die Giant Peony-muurplakkers by.

Het jy R5 500? Bederf jouself met die mat!

Haal als uit: Voeg die kristalle, krans van goue viniel en spieëls teen die hangkaste by.

Gordynreling van Decorland

Dis in die detail

’n Gordynreling wat lank genoeg is om oor albei vensters te strek is teen die plafon geïnstalleer; ekstralang linnegordyne laat die vertrek en die vensters groter lyk, en versterk die romantiese atmosfeer.

Ronde spieël en mat van MRP Home

Die losstaande kas is ook geverf met Tjhoko Paint Sherif’s Stone. Spieëls is gesny om in die panele te pas en toe vasgesit met spieëlkleefband. Maklik!

En nou vir die badkamer ...

Lampkap en seep van MRP Home; hangplant, ronde spieël, wit handdoeke, pantoffels en kamerjas van @home; klein spieëls, handdoek en wasgoedsak van H&M Home

PROJEKGIDS

Harde werk 3/10

Vaardigheidsvlak 2/10

Tyd nodig 1 dag

Doen dit self vir R1 970: Grafika op vloer R1 090, lap R260, spuitverf R100, balau-dekplanke R520

Die en suite-badkamer is agter dubbeldeure wat deel uitmaak van die ingeboude melamienkas en Shelly het dieselfde kleur verf as in die slaapkamer gebruik om ’n tweekleur-effek in die deurgang te skep.

Maar eers het sy die melamien met suikerseep gewas en voorberei met Plascon Tile and Melamine Primer. Toe het sy die boonste deel geverf met Duram Classic Matt in die kleur Ceres Blush en die onderkant met Duram Wall & Ceiling in die kleur St Francis Heights.

Lap van Skinny laMinx; plante van MRP Home; skinkbord, parfuumbottel, kers en handdoek van H&M Home

Dis in die detail

Dié klein en suite was reeds netjies geteël van die vloer tot die plafon; ons het besluit om die ligpienk teëls teen die mure net so te los, maar die vloerteëls ’n nuwe baadjie te gee. Vir definisie het ons die bestaande gordynreling swart gespuitverf met Rust-Oleum in Flat Black en toe ’n eenvoudige blinding gemaak met grafiese lap. Ons het ook ’n rustieke rakkie gemaak met ’n afvalstuk steierplank en dit bo die toilet opgesit vir pakplek. Geil groen plante bring die natuur binne en versag die ruimte.

Dis in die detail

Ons het die vierkantige spieël vervang met ’n ronde een met ’n swart rand en kleineres bygevoeg om die illusie van ruimte te skep en liggehalte te verbeter. ’n Oorgroot rottang-lampkap en plante skep ’n tropiese gevoel.

Blink idee!

Om die vloerteëls in die stort te verbloem het ons ’n “plankmat” gemaak van balaudekplanke – dit pas perfek. Ons het dit behandel met Woodoc Gel Stain in die kleur Ebony en toe dit heeltemal droog was, verseël met Woodoc Water-Borne Deck.

Balau-dekplanke van Ticktin Timbers

Die grafika op die vloer is bedrukte vinielplakkers van Hope Vol Hoop wat pasgemaak is om presies op elke teël te pas. Viniel-teëlplakkers is ’n kostedoeltreffende manier om ’n bestaande vloer te moderniseer; jy trek eenvoudig die papierrugkant af en plak dit vas.

Die plakkers is effens kleiner as die vloerteëls – dis só gedoen om te keer dat dit van die bestaande teëls, wat ’n afgeskuinste rand het, loskom. Die ekstra “lyne” wat tussen die plakkers uitsteek, skakel netjies in by die sterk grafiese patroon.

Die plakkers is semi-deursigtig, sodat die kleur van die oorspronklike teëls nog sigbaar is. Dit skep samehang met die muurteëls, wat net so gelos is.

VERSKAFFERS

@home 0860 666 674

Decorland 0800 002 635

Duram 0800 500 222

Global Beads 021 976 8091

H&M Home 0860 690 707

Hope Vol Hoop 082 703 5512

Maizey 0861 100 420

MRP Home 0800 212 535

Skinny laMinx 021 424 6290

Ticktin Timbers 021 447 4176

Tjhoko Paint 073 206 3104

Woodoc 0800 411 200