Foto’s Justin Patrick | Stilering Marian van Wyk

Wie woon hier? Mark en Annie Steinhobel
WAAR Oranjezicht, Kaapstad

Vir jare was die houtdek voor Mark en Annie Steinhobel se huis in Oranjezicht, Kaapstad, net ’n verlengstuk van hul kuierarea. Hier het vriende en familie uitgespan en die pragtige uitsig op Vlaeberg en die stadskom geniet.

Maar onder die 10 x 5 m-dek was daar ’n leë ruimte, perfek vir ’n hele paar reënwatertenks – iets wat Mark en Annie beskou as ’n noodsaaklikheid, veral noudat die Wes-Kaap gebuk gaan onder ’n watertekort. Mark wou die ruimte ten volle benut en het besluit op genoeg tenks vir 10 000 liter water.

“Aanvanklik het ek nie so ver gedink om dit self te doen nie, maar kwotasies by twee loodgieters gekry,” verduidelik Mark. “Tot my skok was dit onderskeidelik R43 000 en R48 000 – en dit net vir die loodgietwerk!

“Toe besluit ek om dit self te doen; ek het navorsing aanlyn gedoen, YouTube-video’s gekyk van mense (hoofsaaklik oorsee) wat hul eie installerings gedoen het en plaaslik rondgesoek na die produkte en verskaffers wat ek sou nodig hê.”

Mark, voorsitter van VWV, ’n agentskap wat in handelsmerk-ervarings spesialiseer, het al sy naweke in Maart 2017 aan dié projek gewy. Hy moes genoeg dekplanke oplig sodat die nuwe tenks in die ruimte laat sak kon word, die huis se geute met die tenks verbind, en die nodige pype installeer om die tenks met die besproeiingstelsel te verbind.

Mark het ’n handlanger gekry om te help met die sementbasis vir die tenks, en toe dit tyd raak om die tenks te laat sak, het hy drie werkers op ’n bouperseel daar naby gevra om gou te kom hand bysit.

Op die ou end het al die materiaal hom minder as R24 000 uit die sak gejaag. Dis omtrent die helfte van wat ’n loodgieter hom sou kos – en sluit nie eens die koste vir ’n skrynwerker om die dek en dwarsbalke te help oplig, in nie!

Wat is volgende op Mark se lys? “Ek wil nou die reënwater ook na die huis herlei!” sê hy. Hou dop ...

Die vier tenks (foto heel bo) is met ’n 110 mm-PVC-pyp verbind sodat water van een na die ander kan oorloop. ’n Mens sou nooit kon raai dat daar 10 000 liter reënwater onder dié dek gebêre word nie.

Toe die vier tenks van 2 500 liter afgelewer word, het Mark drie handlangers gekry om dit oor die muur te lig, deur die huis te dra en op die voorbereide basis onder die dek neer te sit. “Die tenks weeg omtrent 30 kg wanneer dit leeg is, so ons kon dit deur die huis dra met eenvoudige draagbande en dit oor die balkon na die dek daaronder laat sak. Dit het minder as ’n uur geneem,” sê Mark.

Só het hy dit gedoen ...

1. Mark het ’n mengsel van 3 dele sand, 2 dele klip en 1 deel sement gebruik vir die basis van sowat 15 cm dik en dit oor ’n area van 2 x 8 m onder die dek gelê.

2. Om die tenks onder die dek in te kry, moes Mark heelparty van die dekplanke lig – daarvoor moes hy 400 skroewe uithaal. ’n Paar dwarslatte moes ook uit – dié het hy met ’n handsirkelsaag losgesaag en nadat die tenks geïnstalleer is, weer gelas met afvalhout van ’n ander projek. Daarna moes hy weer al die dekplanke terugsit en vasskroef.

3. Volgende het Mark die vyf geutpype buite die huis met sowat die helfte korter gemaak en blaarvangers en filters wat net skoon water deurlaat, tussen die geute en die pype na die tenks ingesit. Sowat 90 m pyp is aangelê om die reënwater van die geute na die tenks te herlei.

4. Mark het ’n addisionele filter gemaak met ’n plastiekemmer en broekiekouse. Hy het ’n emmer gekies wat knus in die hooftenk se opening pas, en ’n paar kouse oor die emmer se bokant gespan. Dit keer dat rotte of muise in die tenk beland. ’n Paar broekiekouse is ook oor die pype daarbo gespan en doen diens as derde filter.

5. Mark het ’n prop by ’n ongebruikte kragpunt onder die dek geïnstalleer en dit verbind aan die pomp en drukskakelaar. Van daar herlei 15 mm-pype water teen die kant van die huis op na twee krane, een in die botuin en een in die ondertuin.

Koste

Totaal: R23 950

Vier 2 500 liter-tenks R10 000
Sement, sand en klip vir die basis R850
90 mPVC-pyp (110 mm) R5 500
20 m PVC-pyp (50 mm) R430
PVC-elmboog- en T-pype R890
Vyf waterherleiers R2 000
Vyf blaarvangers R1 500
50 m waterpyp (15 mm) R220
Ander bykomstighede soos kleppe, krane, aansluiters R960
Pomp en drukskakelaar R1 600

V&A met Mark

Het jy enige foute in dié projek gemaak?

Nie regtig nie, hoofsaaklik omdat ek so lank voorberei het. Ek het wel kwaai tenniselmboog ontwikkel nadat ek al 400 skroewe met die hand moes vasskroef met die terugsit van die dekplanke, want die elektriese skroewedraaier het dit nie styf genoeg vasgedraai nie. Ek het ook eers ’n ingewikkelde roete beplan om die tenks tot by die dek te kry – oor die bure se muur en dak – tot iemand voorgestel het ons kyk of dit nie deur ons voordeur en balkondeure pas nie; dit het, met net 2 mm speling! Dit het my ure se harde werk gespaar!

Wat is jou topwenke vir selfdoeners wat ’n soortgelyke projek wil aanpak?
  • Doen deeglik navorsing, anders bestee jy dalk ’n fortuin aan die verkeerde produkte. Ek het R4 000 op die tenks bespaar deur RotoTank aanlyn op te spoor, al het ek voor die projek nog nooit van hulle gehoor nie.
  • Wees dapper genoeg om dit aan te pak; jy sal verbaas wees oor wat jy self kan vermag!
  • Moenie die eerste mens glo vir wie jy raad vra nie. Daar is talle maniere om so iets te doen; kry verskeie menings en doen navorsing voor jy besluite neem.
  • Sorg vir ’n oorloop: Ek het al my tenks met ’n 110 mm-pyp aan mekaar verbind; oorloopwater word na die buurman herlei. Het vriende en familie jou gevra om met soortgelyke projekte te help? Hulle het baie raad gevra en minstens drie het iets soortgelyks aangepak, maar ek gaan dit beslis nie vir hulle doen nie!
KONTAKTE

Tenks RotoTank (022 433 2342)
Pype en bykomstighede Builders (0860 284 533)
Pomp Aquamat (011 472 1311)