Foto’s Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER? Andrew en Sonja van Zyl
WAAR Roodepoort, Gauteng
GROOTTE 17,6 m²

Die Van Zyls was nog altyd van plan om hul onpraktiese kombuis op te knap, maar toe Sonja afgelê word, het sy summier die wiele aan die rol gesit. Daardie selfde aand nog het sy uit pure frustrasie ’n hamer opgetel en die outydse geteëlde toonbanke aan skerwe gekap.

En toe Sonja onverwags ’n bedrag geld van haar aftreefonds ontvang, het die paartjie besluit om die proses, wat begin het as ’n “stoomafblaas-oefening”, formeel voort te sit en hul kombuis behoorlik op te knap.

Andrew en Sonja se huis, wat hulle in 2014 gekoop het, is sowat 25 jaar oud – so ook al die afwerkings. “Gewapen met ekstragroot hamers het ons die hele kombuis afgebreek, plafon inkluis. Ná heelwat beraadslaging het ons ook die afgevlakte vloer uitgekap, want dit was nie oral gelyk nie,” sê Sonja. Die projek het hulle selfs geleer om met ’n hamerboor en sementmenger te werk – ’n proses wat vir hulle soos “avontuursport” gevoel het.

Al het hulle die meeste van die werk self gedoen, het hulle ’n elektrisiën ingekry om die oorspronklike leipype in die nuwe plafon te herlei en netjies te maak. Andrew het die kragproppe en stoof se isolator geskuif, en die nuwe gesonke LUD-ligte en hanglampe self geïnstalleer. Hy het ook van die waterpype herlei omdat die oorspronklike wasbak en skottelgoedwasser geskuif moes word.

Die Van Zyls se plan vir hul nuwe kombuis was duidelik: “Ons huis moet gemaklik wees; ons honde en katte mag op die meubels lê en hulle kuier saam in die kombuis. Ons wou ’n oop, ligte atmosfeer hê, daarom het ons die dakbalke ontbloot,” sê Sonja.

Die plafon word ingesit ...

Maar dít was op die ou end een van die moeilikste dele van die projek. “Ons het letterlik geen idee gehad hoe ons die verskillende vlakke sou skep en hoe die verskillende materiale saam sou lyk nie. Trouens, net om die plafonborde (nadat hulle op maat gesaag is) bo tussen die balke in te kry, was ’n uitdaging op sigself,” sê Sonja.

Gelukkig het die paartjie geen tekort aan motivering óf ondernemingsgees nie.

“Ek weet nou nog nie hoe ons die plafonborde in plek gehou het en vasgekroef gekry het nie, veral nie die groter dele nie,” sê Sonja. Dank vader vir ’n battery-aangedrewe skroewedraaier!”

Andrew sê hulle het wel met ’n plan gewerk, maar dit aangepas namate hulle gevorder het. “Die rooi baksteenbekleding rondom die venster bo die toonbank was nie in die plan nie, ook nie die Oregondennehoutrakke waar ons ons kosbaarhede uitstal nie. En pleks van die beplande polistireen-kroonlyste het ons ook liewer ’n skadulynprofiel geskep.”

Sonja en Andrew het ou plafonplanke van Oregondennehout by ’n herwinningsterrein gekry en dit gebruik om die kombuiseiland mee te beklee. ’n Werkblad van soliede mahonie (wat Sonja se pa geskenk en met liefde afgewerk het) rond die prentjie af. Op die ander kaste is naatloos bedekte Formica-werkblaaie met vierkantrande in die kleur Saxon Oak gebruik. Andrew en Sonja het die hanglampe self ontwerp en vir ’n appel en ’n ei gemaak. Die deur na die spens is bedek met swartbordverf – gerieflik vir lysies en boodskappe!

Die Van Zyls wou hê die vloer moet donker genoeg wees vir alledaagse glipsies, asook hul vierpootkinders, Lucy en Molly, se modderpote. “Aanvanklik wou ons ’n naatlose sementvloer hê vir ’n plaashuis-gevoel, maar toe besluit ons op groot porseleinteëls wat dieselfde voorkoms en gevoel het, en beter by die res van die huis inskakel.” Op een van die balke onder die IsoBoard-plafon sit ‘n hout-voël wat die paartjie in ‘n tweedehandswinkel gekoop en wit gespuitverf het.
Blindings van Blinds Direct

Só het Sonja en Andrew die lampe gemaak

Die hanglampe is eintlik emaljebakke; Sonja het dit gesien by hul plaaslike plastiekwarewinkel en ’n groene met ’n swart rand vir net R14 gekoop om te kyk of dit sou werk. Dís wat hulle gedoen het:

  • Eerstens het Sonja ’n plastiekkoppie bo-op die onderstebo bak gesit.
  • Toe het Andrew ’n gaatjie deur die bak en die koppie geboor en dit opgehang om te kyk of die hoogte en grootte sou werk.
  • Ná ’n paar aanpassings het hulle die hanglampe afgerond met houttolle wat Sonja se pa gedraai het. “Ons het koper-passtukke vir die gloeilampe gebruik en ou houtknope, wat swart gespuitverf is, om die elektriese koord te verbloem waar dit uit die plafon kom. Ons het ook op ’n swart koord besluit om te pas by die emaljebak se swart rand. Op die ou end het dit ons minder as R75 gekos om elkeen van die lampe self te maak!”

“Ons het die nuwe uitleg met standaard-karkasse beplan om geld te bespaar,” sê Sonja. Die kaste is op uitverkoping by Timbercity gekoop en ’n bestaande wynyskas en stoof moes by die uitleg ingewerk word. “Dit was goed om só te beplan dat elke toestel ’n bepaalde plek het en die vullisblik en gasbottel agter deure weggesteek word.”
Handvatsels van Wholesale Cabinet Fittings

V&A met Andrew & Sonja

Wat het julle uit dié projek geleer?

Bowenal het ons geduld geleer. Ons weet ook nou dat ’n projek van dié omvang tyd, tonne stamina en ’n gesonde humorsin vra. Dis ’n spanpoging: Albei partye moet ten volle toegewyd wees en hul kant bring – al is dit net om agterna skoon te maak.

Beplanning is ook noodsaaklik om die proses aan die gang te hou; ons kaste is byvoorbeeld veels te vroeg afgelewer; gelukkig het ons ’n spaarkamer gehad waar ons dit kon bêre tot ons dit nodig gehad het. En maak nie saak wat jy doen nie, daar gaan stof wees; dit gaan vir maande agterna nog in jou kombuis hang – maak maar vrede daarmee!

Enige geldspaarwenke?
  • Ons het gespaar deur feitlik alles self te doen; die plafon sou ons byvoorbeeld dubbel soveel gekos het as ons ’n kontrakteur gebruik het.
  • Ons het rondgesoek vir boumateriaal teen die beste pryse. As jy ’n duidelike visie vir jou eindproduk het, kan jy vooraf koop en winskope langs die pad raakloop.
  • Begroot! Ons het ’n Excel-spreiblad gemaak en elke item bygereken, van die kaste tot die skroewe vir die plafon. Ons is so bly dat ons ons begroting met net sowat R2 000 oorskry het!
Begroting

Totaal: R53 700

Toonbanke R1 600
Kaste, handvatsels en wasbak R19 900
Teëls (vloer en muur), sement en voegbry R8 100
Arbeid (teëlwerk en elektrisiën) R3 800
Beligting en elektrisiteit R3 500
Plafonborde R5 100
Huur van betonmenger R2 000
Loodgietersware, mengkraan R1 700
Bekleding en boekrak R1 300
Losgoed (skroewe, pleistermengsel, ens.) R4 300
Venesiese blinding R1 200
Rommelverwydering R1 200

1. Die Van Zyls se versameling kookboeke staan in ’n klein boekrak in die kombuiseiland. “Daar was ’n opening op die punt van die kas wat sitkamer toe wys, toe bou ons dit daar in met dennehoutrakke,” verduidelik Sonja. 2. Hartsgoed wat die paartjie by Andrew se ma geërf het, beklee ’n ereplek in dié hoek.

AFWERKING EN KONTAKTE

Verf

  • Mure in Plascon French Chartreuse
  • plafon in Duram Bathroom & Kitchen Anti-Bacterial Paint

Teëls

  • Vloerteëls Torre Stone Glazed Porcelain van Italtile (011 704 1104, italtile.co.za)
  • Muurteëls Gloss White Bodied Ceramic van Italtile (011 704 1104, italtile.co.za)

Baksteenbekleding Rustic Brick Tile Clay Cladding van CTM (011 704 3019, ctm.co.za) 

Kaste Timbercity (021 927 5000, timbercity.co.za)

Hanglampe

  • Emaljebakke van West Rand Pack (011 660 4160)
  • gloeilampe van The Lighting Warehouse (011 679 2820, lightingwarehouse.co.za)
  • draad en lamphouer van Penny Pinchers (011 675 3380, pennypinchers.co.za)

Plafonmateriaal CDS Westrand (011 028 3390, cdsupplies.co.za)

Herwinde Oregondennehout-plafonplanke Independent Traders, Randburg (011 026 0235, independent-traders.co.za)

Herwinde Oregondennehout-rakplanke Protector Build Honeydew (011 794 5109, protectorbuild.co.za)

Bykomstighede

  • Handvatsels van Wholesale Cabinet Fittings (011 791 5393, cabinetfittings.co.za)
  • blindings van Blinds Direct (087 802 6027, blindsdirect.co.za)