Foto’s Amora Erasmus | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Andrew en Karin Yates

WAAR Knysna

GROOTTE 10 m²

Wanneer Andrew en Karin Yates terugdink aan die verwoestende brande wat in 2017 deur Knysna en die omgewing gewoed het, kan hulle net dankbaar wees. Dit was ’n wonderwerk dat hul huis bly staan het.

Maar die verterende vlamme het nogtans ’n losstaande houthuisie, waar gaste altyd oorgebly het, op hul hoewe van 10 ha verswelg. Heelparty bome is ook tot as verbrand. “Met die pragtige boswêreld daarmee heen, wou ons seker maak ons nuwe gasteblyplek is iets besonders,” verduidelik Andrew, ’n afgetrede meganiese ingenieur.

En spesiaal is dit voorwaar! Pleks van ’n huisie het hy besluit om ’n sigeunerwa te bou. “Ek het gedink die oulike ontwerp – ’n outentieke replika van ’n regte sigeunerwa – sou ’n prettige verrassing vir gaste wees.” Hy het die wa eiehandig gebou (al wat hy nie self gedoen het nie, was die vensterglas se insit en lasersnywerk vir detail); sy vrou, Karin, ’n afgetrede laerskoolonderwyser, het die binneversiering behartig.

“Hier het al baie gaste in die wa oorgebly,” sê Andrew. “Dis ’n wonderlike ruimte om van alles te ontsnap. ’n Wal keer alle geraas van die teerpad sowat ’n kilometer weg, en saans hoor jy hoe die branders nege kilometer hiervandaan breek. “Ons is so dol hierop dat ek en Karin dit soms self as ’n wegbreekplek gebruik!”

Die kombuisie het ’n kroegyskas, mikrogolfoond, ketel en koffiemasjien. Karin het ’n vars palet van wit en blou gekies en al die sagte meublement gemaak. Proppe vir selfoon- en skootrekenaar-laaiers, verdofskakelaars vir die ligte en ’n elektriese kombers is net ’n paar van die geriewe wat gaste in dié wa kan verwag.

Andrew het die wa só ontwerp dat dit vensters in al vier sye het en hortjies aan die drie hoofvensters om die temperatuur binne te help reguleer. Vensterglas van PG Glass

Die rakke is geïnspireer deur dié wat in oorspronklike sigeunerwaens was, en uit MDF gesny. Lasersnywerk deur Laser-Cut Studio

Dis die perfekte toevlug as jy ’n paar uur se rus en vrede nodig het. – Andrew

Laat die wiele rol

Die wa bestaan uit ’n slaapkamer met ’n dubbelbed, ’n toilet en klein kombuisie; gaste kan ’n badkamer in die hoofhuis daar naby gebruik.“Die wa se ontwerp het omtrent ’n maand geneem en die bouwerk het so vyf maande geduur,” vertel Andrew. Hy het ’n CAD-program gebruik vir die ontwerp en het sigeunerwaens aanlyn nagevors. “Ek het baie foto’s gevind wat uit elke denkbare hoek geneem is, asook fantastiese gedetailleerde tekeninge.

Ek het besluit om ’n bietjie met die tradisionele grootte te kul en het so 500 mm oor die breedte en lengte bygelas om dit effens ruimer te maak, met genoeg plek vir ’n toilet.”

Andrew het ses verskillende vloerplanne geteken. Hy en Karin het almal bespreek tot hulle besluit het op die finale uitleg. “Dit het regtig gehelp om die hele ontwerp op papier neer te sit, insluitend al die mate, tot die dikte van die hout,” sê hy.

Luike aan die buitekant kan toegemaak word om die felste sonlig uit te hou. 

Aan die werk ...

Wiele
Stutte

Elke wawiel se velling is gelamineer met 18 lae uiters dun houtblaaie wat twee-twee op ’n slag gelym en geklamp moes word. “Dit het baie geduld gekos!” sê Andrew. Hy het die geboë dakbalke met ’n soortgelyke proses gemaak. Die hele struktuur rus op bloekomstutte ten einde skade aan die houtvellings weens stygende vogtigheid te beperk. Die wiele raak trouens nie eens aan die grond nie.

Ter wille van waterdigtheid en stabiliteit bestaan die wa se dak uit vyf lae: tong-en-groefdennehout vir die plafon, polistireen-isolasie, Sisalation-foelie vir termiese isolasie en waterdigting, mariene laaghout wat waterdig verseël is en ’n laag Malthoid-waterdigting met bitumen-verseëling. Die geute is waterdig gemaak met bitumen-geutlap en het ’n dekoratiewe spuier op die vier hoeke.

Andrew het heelwat steierwerk nodig gehad om man-alleen die lang houtdele van die raam, dak en mure te maak. “Dit was ook ’n groot uitdaging om die hoeke en ware lengtes van die skuins mure uit te werk. Dis waar die CAD-program baie nuttig was,” sê hy.

TOTAAL R141 039

MATERIAAL 130 232

Hout: meranti, dennehout, mariene laaghout 68 115

Boute, skroewe, spykers, stutte, skarniere en diverse ysterware 16 454

Elektrisiteit: verdeelbord, kragproppe, draad 5 335

Loodgieterswerk: septiese tenk en dreineerput, toilet, wasbak, kraan, pype en toebehore 10 981

Waterdigting en isolasie 9 479

Verf 19 868

KONTRAKTEURS 10 807

Vervaardiger van staalvering-onderdele 3 192

Draaiwerk van wielnawe en -speke 2 310

Lasersny van sierdetail 3 620

Vensterglas 1 685

Volg dié stappe as jy ’n houtstruktuur verf om dit teen die elemente te beskerm, sê Jenny Moolman, handelsmerkbestuurder by Duram:

Vir ’n houtoppervlak buite beveel ek aan jy behandel die hout met Duram Wood Primer wat dit verseël en beskerm. Laat dié onderlaag heeltemal droog word en verf dan met ’n laag Duram Universal Undercoat om die klewing tussen die onder- en bolaag te verbeter; gee dié laag 12 uur kans om droog te word. Wend vervolgens drie lae waterbasis-emaljeverf aan, en laat die verf goed droog word tussen lae (4–6 uur). Skuur dan liggies en vee die oppervlak met ’n klam lap af om enige stof op te tel.

KONTAKTE

Laser-Cut Studio 044 871 0178

PG Glass 044 802 9600