Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

Elize Potgieter was vas van plan om uiteindelik alles wat onnodig was, te verkoop of weg te gee toe sy en haar man, Greg, drie jaar gelede Wellington toe trek. “Ek was altyd die koningin van my garage, maar elke keer dat ons verhuis het, het ek ’n bietjie van my houvas verloor. Nou kan ek nie eens meer die vloer of werkoppervlakke in my ateljee sien nie!”

Elize en haar ma maak kwilte, matte, mandjies en ander dekorartikels vir spesiale geleenthede as ’n stokperdjie, en sy wou dié ruimte meer funksioneel inrig ten einde haar kreatiwiteit aan te wakker. “In my kinderjare het ons baie getrek; dis dalk hoekom ek so geheg raak aan sentimentele goed. Maar my deurmekaar huis weerspieël nie wie ek is nie. Ek streef na daardie minimalistiese gevoel waar alles ’n plek het en elke ding op sy plek is.

Twee kabinette rug aan rug vorm ’n gemaklike werkoppervlak vir Elize.

’n Inspirasiebord met verfkleure en ander nuttige gereedskap verskaf sommer ekstra kleur in die ateljee.

Dié hoekie is ingerig vir foto’s neem. Hier kan Elize haar produkte stileer en afneem vir aanlyn-advertensies. In die kaste links van die foto-hoekie is materiale netjies op rakke georganiseer.

Elize Potgieter

Aan die werk

Met die hulp van ons ontrommel-kenners, Carin Smith en Jani Augustyn-Goussard, het Elize haar onderskeie stokperdjies saamgegroepeer en vir elkeen ’n toegewyde sone geskep: verf, borduurwerk, hekel en naaldwerk. ’n Ou bababed (daar was twee) is ook vinnig op Gumtree geadverteer om plek te maak vir ’n stel pasgemaakte kabinette deur Tuis se selfdoen-ghoeroe, Deon de Goede.

Elize is dol oor haar “nuwe” ateljee. “My gesin is ook te dankbaar dat ek nou ’n mooi spasie het waarin ek myself kan uitleef. Nou sien hulle my op my beste: gelukkig en kreatief!

“Die waardevolste les wat ek geleer het, is dat ontrommel nie net ’n fisiese proses is nie – dit leer jou ook om spasie te skep in jou kop,” vertel Elize. “Ek het soveel minder ‘onthouwerk’ om te doen, omdat ek presies weet waar elke artikel is. Dié proses het my geleer om elke ding reg in die ‘oë’ te kyk en dan te besluit in watter kategorie hy val, voor dit ‘vir anderdag’ op ’n rak beland. As ek ’n nuwe lap of woldraad inbring, pak ek dit nou dadelik weg!”

’n Strook swartbordverf bo die laaikas is gerieflik vir aantekeninge met kryt teen die muur maak.

Elize se dogter, Nicolene, geniet dit om saam met haar ma tyd in haar ateljee deur te bring. Dié bababed is omskep in ’n kindergrootte-lessenaar waar sy nou lekker kan sit en teken of verf terwyl haar ma werk.

VERKOOP JOU HANDEWERK MET GEHALTEFOTO’S

As jy ’n klein onderneming bedryf, is Gumtree ’n wonderlike plek om jou handgemaakte artikels te verkoop. Danksy Gumtree se gratis advertensies kan enigeen hul talente vir ’n ekstra inkomste inspan.

Jou kanse is soveel beter om jou skeppings vinnig te verkoop indien jy gehaltefoto’s kan neem wat potensiële kopers ’n duidelike prentjie daarvan gee. Volg dié wenke vir die beste foto’s van wat jy te koop aanbied:

• Neem sovêr moontlik foto’s in daglig en sorg dat die voorwerp goed belig is, sonder vreemde skaduwees wat jou advertensie kan benadeel.

• Jy het nie ’n professionele kamera nodig nie – selfoonfoto’s is deesdae van uitstekende gehalte.

• Maak seker jou foto’s is duidelik en in fokus. As mense nie kan sien wat jy aanbied nie, staan jou advertensie geen kans nie.

• Let op na wat in die agtergrond is en vermy enigiets wat die aandag van jou produk kan aflei. Jy kan ook soos Elize ’n foto-hoekie met ’n eenvoudige agtergrond inrig – in haar geval ’n rol papier op ’n stok.

• ’n Goeie advertensie het minstens drie foto’s nodig, maar jy kan tot nege foto’s by elke advertensie plaas. Hoe meer foto’s, hoe groter is jou kans op ’n vinnige transaksie.

VERSKAFFERS

Gumtree 

Paint & Decor 021 976 0114