Foto’s Francois Oberholster

Kleur vir kaste

Haidee hou baie van kleur en het al heelwat projekte in haar huis met Annie Sloan-verf aangepak. Gelukkig kan dit op melamien gebruik word – die kombuiskaste is getooi in Aubusson Blue, een van Haidee se gunstelinge. Die bestaande kasdeure het ’n vars voorkoms gekry met nuwe randafwerkings en koperhandvatsels. Die kasdeure bo die stoof is verwyder om oop rakspasie te skep.

Melamienskinkbord met voël-ontwerp R59, Home Etc; uil-bekers R89 elk en Top Deck-katoenmat R459, MRP Home; die ander items behoort aan die huiseienaar

Wenk

As jy randafwerkings op hoekkaste wil aanbring, maak die nodige berekenings voor jy saag om te verseker die deure maak reg oop.

Voor die voet

Dis in die algemeen nie raadsaam om ’n teëlvloer te verf nie, en dis ook nie ’n permanente oplossing nie. Maar Haidee wou graag ’n verandering hê en verf was die antwoord – ’n vinnige oplossing op ’n klein begroting. Fired Earth se Ultra Pave in die kleur Dynamo skep diepte omdat die houtskool vloer neutraal genoeg is dat die kaste al die aandag trek.

Wanneer jy met vloerverf werk (trouens, met enige verf), is dit belangrik om die aanwysings te volg – só sal jy die beste resultate kry.

Fired Earth se Ultra Pave in die kleur Dynamo is op die vloerteëls gebruik.

Só het Haidee haar vloerteëls geverf

  • Gebruik ’n skuurmasjien om die keramiekteëls voor te berei.
  • Was dit met ’n seepoplossing soos suikerseep.
  • Wend die eerste laag met ’n goeiegehalte-roller aan. Laat genoeg droogtyd tussen lae; ons het drie lae aangewend omdat die oppervlak baie voetverkeer moet hanteer.
  • Met verloop van tyd sal die vloere krapmerke kry; Haidee het twee lae Sabre Stoneseal aangewend om die afwerking te beskerm. ’n Glyvaste mat werk ook goed om krapmerke op die nuut geverfde vloer te voorkom.

Só verf jy ’n melamien-kombuis

  • Begin deur al die deure af te haal en was dan die kaste deeglik om van alle vullis ontslae te raak.
  • Al is dit nie nodig om oppervlakke te skuur of voor te berei wanneer jy Annie Sloan-verf gebruik nie, is die deure tog liggies geskuur met growwe skuurpapier om te verseker die verf klou aan die gladde melamienoppervlak. Toe is ’n universele onderlaag vir melamien aangewend.
  • ’n Raam van dennehout-dekstroke (38 mm) is vir al die deure gemaak en met gom en spykers vasgesit.
  • Verf jou eerste laag, wag tot dit droog is en skuur weer die deure met waterpapier.
  • Seël die verfwerk ná ’n tweede laag met ’n produk soos Sabre Stoneseal.

Die rande van die oop rakke is geverf met Annie Sloan se Duck Egg Blue, terwyl ’n laag English Yellow aan die binnekant ’n tikkie kleur verleen.Planthouer R59,99, MRP Home

KONTAK EN VERSKAFFERS
  • Annie Sloan Paint 083 635 5583, anniesloansa.co.za
  • Fired Earth fired-earth.co.za
  • Home Etc 021 551 3311, homeetc.co.za
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • Sabre 021 931 7231, sabre.co.za
  • vanBougaardt Décor Solutions 082 448 3796