Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Grant Newman en Melissa Kretschmer-Newman met hul seun, Hunter Rocket (2)

WAAR Bergvliet, Kaapstad

GROOTTE 125 m²

Die nuwe kombuis, geïnstalleer deur Holly Wood Kitchens and Furniture, spog met ’n stylvolle palet van vlootblou kaste (Plascon Bluebeard), blaaie van Franse eikehout, ’n spatpaneel van Lilac New York-marmer en titsels koper.

Kroegstoele van @home; groen-en-goue sampioenlamp van Sobeit Studio; hanglamp van Eagle Lighting

Mat, kanttafel en strooikussings van Weylandts; Chesterfield-bank en oorgroot swart spieël van @home; bokkop van Sobeit Studio

Die groot laboratoriumwasbak in die kombuis staan in ’n eenheid van Franse eikehout.

Ons het meer as 10 jaar gelede die eerste keer kennis gemaak met Grant Newman en Melissa Kretschmer-Newman toe hulle as ons heel eerste Regruk met Flair-wenners aangewys is. Die omskakeling van hul garage in ’n kuierruimte in Wynberg, Kaapstad, was ’n kitstreffer. Oor die jare het ons nog van hul projekte gewys, waaronder ’n solder-opknap wat hulle met hul prysgeld gedoen het, ’n oopplan-slaapkamer en ’n binnehof. Ná die geboorte van hul seun, Hunter Rocket, in 2016, het die paartjie besef hulle het ’n groter huis nodig. “Ons wou ’n plek met ’n groot tuin hê, en ons hande het gejeuk vir ’n nuwe uitdaging,” sê Melissa.

Grant het grootgeword in Bergvliet en het geweet dié buurt met sy goeie skole en groot erwe is ’n goeie plek vir ’n gesin. Daarom het hulle net hier begin soek. “Ons het ’n 60 jaar oue huis opgespoor en was dadelik verlief op die pragtige tuin,” sê Melissa. “Die erf is ’n ruim 900 m² en die huis het ’n goeie raamwerk – dis goed gebou met sterk potensiaal vir ’n opknap.”

Binne was die huis netjies, maar klein vergeleke met die tuin, en die vloei was hier en daar ongemaklik. Die kombuis, drie badkamers, vloere en beligting was oudmodies en het persoonlikheid gekort. Toe hulle dus in die middel van 2017 intrek, het ’n grootskaalse opknap gewag. Hulle het die hulp van ’n beproefde bouer en kontrakteurs ingeroep vir die sement- en loodgieterswerk en die kombuis. Wat die afwerkings betref, het hulle besluit om die taak self aan te pak en sodoende ’n paar rand te spaar.

“Ons langtermyn-visie is om uiteindelik ’n moderne plaashuis te skep,” verduidelik Melissa. “Maar ons is nou eers in fase twee van vyf – so ons is nog ver van klaar af!”

Die nuwe oopplan-sitkamer-en-kombuis het ’n kontemporêre afgevlakte vloer reg deur vir eenvormigheid. Die sydeur wat na die tuin oopmaak, is vervang met ’n groot aluminium-stapeldeur wat die uitsig pragtig omraam.

Die lekker lewe

Tipies van ouer huise was die kombuis en leefarea deur ’n muur geskei; die smal U-vormige kombuis was ook taamlik knap.

Die paartjie wou ’n moderne, oopplan-leefarea skep waar hulle die uitsig op die tuin kon geniet, vriende en familie onthaal en ’n oog oor hul bedrywige kleuter hou.

“Die ou sitkamer het net twee sydeure gehad wat nie die tuinuitsigte ten beste benut het nie,” sê Melissa. “Nadat ons alles oopgebreek en ’n groot stapeldeur ingesit het, is die ruimte nou modern en oop, met naatlose vloei van binne na buite. Dis ons gunstelingvertrek in die huis en ons bring ure hier as gesin saam deur. Dis ook wonderlik om te sien hoe die eekhorings oor die grasperk hardloop terwyl hulle kos bymekaarmaak.”

Die kombuiskaste is ingesit deur Holly Wood Kitchens and Furniture. “Nadat ons eenkeer gesien het watter goeie werk hulle doen, was ons oortuig hulle moet ons nuwe kombuis ontwerp,” sê Melissa.

Al was die eindresultaat “spoggeriger” as wat sy en Grant aanvanklik wou hê, is hulle dol daaroor – en hul gaste ook. “Ons is mal oor hoe dit die nuwe oopplanruimte verbeter het en oor die fantastiese tuinuitsig wat ons het terwyl ons kook. En ons hou van die visuele warmte wat die kombuis verskaf met sy weelderige, rosige gloed.” 

Die muur is beklee met viniel-vloerplanke met ’n houtvoorkoms, wat lieflike kontras met die sement-wasbakkas vorm. Sweefrakke en groot vintage-spieëls rond die prentjie af.

Rek jou rande Vir die handdoekreling het Grant loodgieterspasstukke en ’n koperreling gebruik; hy het eenvoudig twee gate in die beton geboor en die passtukke met epoksi daarin vasgesit. Om te keer dat die koper aanslaan, is dit met Rust-Oleum Crystal Clear Enamel verseël.  

Die en suite-badkamer se venster is vervang met ’n aluminium-stapeldeur wat tonne natuurlike lig inlaat. Die paartjie het ’n wasbakkas met ’n growwe sementafwerking laat inbou en dit afgerond met ’n glansseëlaar.

Vloer- en muurteëls met ’n sementvoorkoms kontrasteer met die warmte van die koper-elemente. Voor die badkamer wat op die geil buiteruimte oopmaak, is ’n 2 m lange stoep aangebou.

V&A met Grant en Melissa

Enige geldspaarwenke? As jy kan bou, teël, verf, stik of skuur, besluit watter dele van die opknap jy self gaan behartig; die res kan jy aan die kenners oorlaat. Gebruik materiale en bykomstighede wat in jou motorhuis rondlê – dit bring karakter in. As jy teen die einde van die jaar bou, kyk uit vir winskope op Swart Vrydag.

Wat sou julle volgende keer anders doen? Ons het vir amper ’n maand in die opgeknapte motorhuis gewoon terwyl ons die hoofhuis onder hande geneem het, wat nogal stresvol kon wees – veral met ’n kleuter, oppasser én twee katte! Daarom sal ons liewer meer spaar om elders of by familie te gaan bly vir almal se sielerus.

Enige ander wenke? Wees goedgesind teenoor jou maat – ’n opknap kan emosioneel en finansieel uitputtend wees.

Wat het julle die meeste van die projek geniet? Om weer ons hande vuil te maak met ’n nuwe kreatiewe uitdaging! Die opknap-gogga het meer as ’n dekade gelede gebyt en het ons nog nooit laat los nie. Jy kan seker sê dis ’n tipe verslawing.

Wat’s volgende? Ons beplan om ’n buitekuierplek, ’n garage in die skuurstyl en ’n plonspoel te bou.

’n Werkende pootjiesbad onder ’n groot boom versier met feetjieligte staan net buite die hoofslaapkamer se en suite. Vir privaatheid is die Vibracrete-grensmuur verhoog met latpanele. Latpanele van The Pole Yard

Twee kleiner badkamers is uitgebreek om ’n groot gesinsbadkamer te vorm. ’n Bad met koperpootjies en ’n swierige wasbakkas gee glans aan dié vertrek.

Tot hul groot vreugde het Grant en Melissa ’n blokkiesvloer onder die mat in hul slaapkamer ontdek. Dit was in ’n uitstekende toestand en met die nodige skuur- en seëlwerk kon hulle dit weer tot sy vorige glorie herstel.

Aan die werk ...

Ons wou nog altyd ’n plaasspens hê, en dié droom het waar geword toe ons dit as deel van die stoep kon aanbou. – Melissa

’n Moet vir die gesin was ’n stoep wat reg rondom die huis strek. Die grasperk is daarom opgegrawe, ’n baksteenfondament gelê en ’n 1,8 m breë stoep aangebou. Bakstene vir die buitebraai is met wit sement vasgemessel vir kontras; dié deel van die stoep het later ’n dak gekry.

Die kombuiskaste is uitgehaal en die muur tussen die kombuis en sitkamer is uitgebreek. Die ou kombuisdeur (waar die stoof nou staan) is toegebou en die ou wasbakdeel is nou ’n breë deurgang na die nuwe spens.

’n Groot stapeldeur is in die sitkamer ingebou sodat dit op die nuwe stoep kon oopmaak. Die vloerteëls is vervang met ’n afvlaklaag en nuwe ligtoebehore is ingesit. Twee lang vensters is aan weerskante van die kaggel aan die agterkant van die sitkamer ingebou vir beter uitsigte op die tuin.

Die hoofslaapkamer en sy en suite het beknop en oudmodies gevoel. Die deurgang tussenin is verbreed om die vertrek oop en ruim te laat voel.

Die badkamer het min natuurlike lig gekry. Al die badkamertoebehore is uitgehaal en die ruimte is in ’n spatvertrek verander.

’n Stoep van 2 m lank buite die badkamer verbind die hoofslaapkamer met die geil tuin.


Kostes

Totaal: R525 000

Bouer en materiaal 220 000

Kombuis en spens 130 000

Aluminiumdeure 45 000

Vloere 10 000

Teëlwerk 10 000

Sanitêre ware en badkamertoebehore 50 000

Elektrisiën 18 000

Loodgieter 37 000

Ander (verf, skuurwerk, vloerlyste, beligting, ens.) 5 000 

Die afwerking

Bouer Smallworks (Peter Foale, 083 468 8225)

Kombuis Holly Wood Kitchens and Furniture (021 701 7737)

Beligting Eagle Lighting (021 424 4071)

Deure Glassmen (021 701 5821)

Teëls en sanitêre ware CTM (010 003 9987)

Loodgieter Plumber Assist (076 767 2317)

Latpanele The Pole Yard (021 200 0425)

Meubels en dekor @home (0860 834 834); Sobeit Studio (021 788 9007); Weylandts (0860 103 400)