Foto’s Francois Oberholster | Stilering Misi Overturf

Gewilde keuse

Vakansiehuise in die A-raamstyl is gewild weens die kombinasie van betreklik lae boukoste, aanpasbare binneruimtes, geen nodigheid vir lasdraende mure nie (die dakbalke dra al die gewig), en natuurlik die besonderse vorm.

Brendan Hart van Mayat Hart Architects and Heritage Consultants sê die huidige herlewing van die styl kan moontlik toegeskryf word aan die andersheid, asook nostalgie. Hy verduidelik die herkoms van die A-raam-bouvorm:

A-raamstrukture is al duisende jare met ons. ’n Mens sien hulle in die primitiewe argitektuur van Noord-Europa en Skandinawië, Suidelike Stille Oseaan-gebiede soos Nieu-Seeland, asook dele van Asië, soos China.

Teen die einde van die dertigerjare van die vorige eeu het moderne A-raam-geboue te voorskyn getree toe vroeë moderne argitekte met dié ongewone boustyl geëksperimenteer het. En van die 1950’s tot die 1970’s was dit baie gewild.

A-raam-strukture se grootste aantrekkingskrag is hul kostedoeltreffendheid, verduidelik Leanie van Schalkwyk van KMMA Architects:

Dié geboue kan binne ’n kort tyd op die perseel opgerig word met die minimum arbeidsintensiewe boumetodes, wat groot besparings meebring.

Nog ’n voordeel is die aanpasbaarheid van die struktuur; dit laat jou toe om ’n bestaande A-raam-gebou uit te brei of te verander binne die modulêre raamwerk. Binnemure is gewoonlik nie struktureel nie, daarom kan die vloeruitleg maklik aangepas word. Dis wel nodig om professionele raad te vra wanneer mure wat ’n solder struktureel ondersteun, verwyder word.

Indien eienaars meer lig wil inlaat, kan hulle eenvoudig dakligte of soldervensters agterna by ’n bestaande A-raamgebou insit. Die gebou se oriëntasie moet altyd in ag geneem word by die plasing van vensters, aangesien direkte sonlig die interne hitte kan verhoog.

KONTAKTE mayathart.com, kmma.co.za

WIE KUIER HIER?

Wilma en Marius Louw

WAAR Struisbaai, Wes-Kaap

GROOTTE 150 m2

Wilma Louw het eintlik nog altyd gedroom van ’n lappie grond in die Karoo waar die sonbesies skree. As gebore Laingsburger wat die katastrofiese vloed van 1981 in dié Karoo-dorp self beleef het, is sy nie juis dol oor water of die see nie, vertel sy. Maar toe sy tydens een van haar aanlyn-snuffeltogte dié A-raam-huis op Struisbaai op Property24 raaksien, het sy planne begin beraam vir haar eie vakansieplek – nes die A-raam-huise wat sy op die TV-program Great Canadian Cottages gesien het. En al hou sy dalk nie van water nie, is haar man, Marius, en hul seun, Jacques (17), dol oor die see…

So het hulle in Junie 2017 ’n kans gevat en ’n astrante aanbod op ’n verwaarloosde A-raam-huis gemaak, sonder dat Wilma al ooit ’n voet op dié kusdorp gesit het. En toe ander kopers se aanbod deur die mat val, was die huis hulle s’n – teen ’n winskoopprys.

Voor: vooraansig

Die kenmerkende A-raam-struktuur het ’n algehele gedaantewisseling ondergaan. “Ons het basies die hele voorkant van die huis vervang – letterlik ’n face lift!” verduidelik Wilma. Waar daar eers houtpanele op die boonste verdieping was, is nou groot vensters wat baie meer lig inlaat. Wilma wou aanvanklik stapeldeure op die onderste vlak insit wat op die nuwe dek van saamgestelde hout (links onder) oopmaak, maar die sterk wind wat soms hier waai het haar laat besluit op skuifdeure met aluminiumrame wat na die kante toe oopskuif. Langs die skuifdeure onder is die ou steenwerk beklee met aluminium, wat nou die huis teen die elemente beskerm.

Glas, skuifdeure en aluminiumbekleding van Suidpunt Glas en Aluminium

Leefarea

• Die grondvloer van 90 m² bestaan uit ’n leefarea, kombuis en ’n nuwe gastetoilet. Weens krake in die ou sementvloer het die Louws dit opgekap, ’n nuwe afvlaklaag gegiet en gelamineerde houtvloere bo-op geïnstalleer.

• Die wankelrige houttrap na die soldervlak is uitgehaal en vervang met ’n nuwe staaltrap wat Marius na die teenoorgestelde kant van die leefvertrek by die ingang van die nuwe gastetoilet geskuif het. Grafiese plakpapier skep hier ’n treffende fokuspunt. Wilma het die wynkratte by die Stellenberg-Feesmark gekoop.

• Die binnewande van die A-raam is met Isoboard beklee – dit hou die ruimte heerlik koel tydens warm somervakansies.

KronoSwiss-vloere van Flooring Solutions; plakpapier van La Perle

eetarea

Om die boonste vloer te ondersteun het Marius twee ekstra drabalke oor die lengte van die huis bygevoeg.

Eetkamertafel van Incanda; stoele van Coricraft; buffetkas van Weylandts; hangligte van Eagle Lighting; tafelloper en servette van La Perle

Mat van Incanda; rusbank van Sofaworx; strooikussings van La Perle

kombuis

Die oorspronklike kombuis was net ’n enkele kassie met ’n wasbak, en ’n losstaande kombuiseiland. Die nuwe U-vormige kombuiskaste, wat Marius self gebou het, bied nou heerlike ruimte waar Wilma na hartelus kan bak en kook. Die nuwe stoof was een van Wilma se vereistes toe hulle op dié huis besluit het. “Marius het op Oukersdag die stoof se gas gekoppel en op Kersdag kon ons ’n hele ete vir ’n spul gaste voorsit,” onthou sy van hul eerste vakansie in Desember 2017 in die nuwe huis.

Kelim van Persian Rug Store; vadoek van La Perle; Caesarstone-werkblaaie van FJ Snyders Ingeboude Kaste

Boekrak van MRP Home

Marius het die koffiekas self ontwerp. Dit dien ook as afskorting wat die yskas, wasmasjien en tuimeldroër wegsteek van die res van die oopplan-leefvertrek. Die onderste laai is waar Wilma haar potte en panne bêre. Aanvanklik het Marius ook deure ontwerp vir die kas, maar Wilma het gesien dit gaan nie nodig wees nie – by die see kuier ’n mens heeldag met ’n koppie koffie en ’n boek in die hand; die deure sou nooit toe gewees het nie!

Marius se tweede naam is ‘Ek-doen-dit-self’! – Wilma

Twee jaar later...

Met die koop beklink, het Wilma elkeen van die foto’s op Property24 noukeurig bestudeer, en begin notas maak van alles wat herstel moet word. Teen die tyd dat hulle drie maande later die sleutels gekry het, het Marius reeds die planne opgetrek en kon hy wegspring met die opknapwerk. “Gelukkig is hy ’n ou hand as dit by bou en opknap kom – hy het reeds in sy matriekjaar saam met sy pa hul eie gesinshuis in Kenridge gebou,” vertel Wilma. “Ons is ’n gedugte span. Ek wys vir hom die prentjies, en hy maak dit gebeur!”

Net minder as twee jaar nadat die opknapwerk begin het, spog die hoofhuis nou met ’n oopplan-kombuis-en-leefvertrek op die onderste verdieping en ’n ruim slaapkamer met en suite-badkamer vir Wilma en Marius bo, terwyl Jacques in die kothuis langsaan met sy eie kombuisie, potspeltafel en slaapkamer saam met sy vriende kan kuier.

En dis alles ver genoeg van die see dat die “onrustige gedruis” haar nie pla nie, sê Wilma met ’n glimlag.

Wilma bedryf ’n lap-onderneming in die Paarl en het dié Van Gogh-kussings self gedruk. “Omdat daar nie mure is waarteen ek kuns kan hang nie, het ek besluit om kunswerke op die strooikussings te druk!”

Strooikussings van La Perle; ottomans herstoffeer deur Kingdom Upholsterers

badkamer

Marius het die oorspronklike beknopte badkamer op die grondvloer in ’n gastetoilet omskep. Die en suite-badkamer bo is splinternuut gebou.

Handdoeke van Woolworths; plakpapier van La Perle

Slaapkamer

Die boonste vlak van net 60 m² was voorheen verdeel in drie kamers wat met konsertinadeure toegeskuif het. Omdat die huis ’n ruk lank leeggestaan het, het vlermuise hier ingetrek. Ná die opknapwerk is daar nou ’n ruim oopplan-slaapkamer en suite. Wilma het rolblindings laat installeer teen die vroegoggendson.

Mat van Rugs Original; duvet van Woolworths; kussings van La Perle

Wat was die grootste uitdaging?
Marius het die hele balkon op die grond gebou en aanmekaargesit, vertel Wilma. Toe een van die bure verbystap en wou weet waarmee hy besig is, moes hy gedink het Marius is van sy kop af! Maar uiteindelik het hy en Jacques die hele balkon met toue en ’n katrolstelsel tot bo gelig en dit daar vasgesit. Toe die buurman die volgende oggend weer verbystap, kon hy natuurlik skaars sy oë glo!

VERSKAFFERS