Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

Dis dalk ’n cliché, maar dit bly waar: As die opknapgogga jou eers gebyt het, laat hy jou nie sommer los nie. In die Du Toits van Swellendam se geval is dit nie net die huisgogga wat hulle gebyt het nie, maar ook die woonwagogga: Saam het hulle al drie huise én twee woonwaens opgeknap!

“Ons eerste karavaan het ons in 2014 gekoop en gerestoureer,” vertel Karen. “Dit was ’n stokou Jurgens wat ons by ’n pêl op Barrydale gekoop het. Die woonwa was grasgroen geverf en het in die bos op sy plaas gestaan.”

Omdat dit ’n baie ou model was, was ’n vintage-voorkoms die logiese keuse vir sy nuwe baadjie. ’n Swart-en-wit blokkiesvloer het gevolg, asook ’n vintage-prikkelpop aan die buitekant geverf.

“Die webblad Lekker Kampplekke het ons gevra om hom by hul stalletjie by ’n buitelugskou op die Lourensford-wynplaas uit te stal,” vertel Karen. “En daar koop ’n Franse filmmaker hom toe op die plek! Deesdae gebruik hy dit vir gasteverblyf op Stanford.

“Noodgedwonge moes ons toe begin uitkyk vir ’n plaasvervanger ...”

Met hul volgende projek het hulle die bod hoër ingesit. “Ons het spesifiek na ’n ou VW Jurgens Autovilla gesoek omdat ons van retro-goed hou en lus was om een van dié golden oldies mooi te maak!” Ná ’n groot soektog het hulle ’n 1976-model op Gumtree raakgeloop vir R34 000 – “in ’n lopende toestand” in Pretoria.

Hulle wou nie ’n kans waag nie en het die Autovilla agterop ’n vragmotor laat afbring Wes-Kaap toe, maar met ’n groot skok uitgevind dié huis op wiele was nie eens in staat om van Worcester, waar hy afgelaai is, tot op Swellendam te ry nie!

Dit het hulle nie afgeskrik nie en hulle het hul kopie stuk vir stuk herstel en mooigemaak. Uiteindelik was hulle so in hul noppies daarmee dat hulle dit vir Tuis se Regruk met Flair-kompetisie ingeskryf het. Laas jaar het die Koegelenbergs van Caledon hoeka ons verbeelding aangegryp met die ombouing van hul Bedford-bus; ons reken die Du Toits hoef nie terug te staan met dié mooi projek nie.

Voor

Bo die kajuit is ’n dakrak aangebring, met ’n ou koffer daarop – dis waarin die noodwiel en kampgereedskap saamry! Tafeldoek met polkakolle van Glenn Barker Fabrics

Die bruin kleure waarin die Autovillas in die sewentigs uitgekom het, was net te morbied vir Karen, ’n skilder. “Ons het besluit om hom in my gunstelingkleur te laat spuitverf,” vertel sy. “Daarna het ek ’n paar toetspotjies van die motorverf by die bakverwers gekry sodat ek self die hippiemeisie op die kant kon verf – dit was nogal senutergend, want die verf raak feitlik onmiddellik droog en daar is nie tyd vir foute regmaak nie!”

Met sy turkoois-en-wit kleurskema sorg die Autovilla altyd vir ’n glimlag in die verkeer. – Karen

Die nuwe swart-en-wit vinielvloer was die perfekte keuse vir die “diner”-voorkoms uit die 50/60’s wat die Du Toits wou hê. Om ’n sagter basis vir die vinielvloer te skep en terselfdertyd die pad se geraas te verminder, het Steph eers die hele vloeroppervlak bedek met ’n sponslegkaart soos dié waarmee klein kinders gewoonlik speel. Steph het die bed gebou met pakplek onder; daar is ook ’n klerekas.

DIE MEGANIKA
Die Toyota-enjin waarmee die Autovilla toegerus was, is met ’n herboude VW 2.1-brandstofinspuit-enjin vervang en ’n nuwe ratkas is ingesit. Die skokbrekers is vervang, asook al die rubbers in die stuurkolom. “Nadat alles reg was, het ons hom op sy eerste uitstappie gevat – Rustenburg toe,” vertel Karen. “Daar het iemand aanbeveel dat ons die bande vervang, want die datum op die bande was 1984! Ons het nooit eens geweet ’n mens kan sien hoe oud motorbande is nie. Dit was November 2014 – die bande was toe al 30 jaar op die Autovilla!”

V&A met Karen

Wat is jul grootste geldspaarwenk? Doen soveel moontlik self.

Waar het jy jou idees gekry? Ek is verslaaf aan Tuis en Pinterest, en omdat ons so ingestel is op regruk is ons altyd op die uitkyk vir interessante idees wanneer ons op nuwe plekke kom.

Wat geniet jy die meeste van die voltooide projek? Dat ons op die ingewing van die oomblik net ’n paar kledingstukke en kos kan inpak en inspring vir ’n vinnige wegbreek.

Wat is volgende? Ons beplan nie om binnekort weer ’n woonwa aan te skaf nie, want ons is nou besig om ses selfsorgeenhede op die dorp in te rig.

Koste

Enjin en ratkas R45 000
Onderstel R6 500
Spuitverf buite R22 000
Verf binne R1 000
Vloer R700
Bed, beddegoed, TV, yskas en mikrogolfoond R6 000

Totaal: R81 200

Die Afwerking

Boumateriaal Sentraal-Suid Koöperasie (028 514 8600, ssk.co.za)
Verf Prominent Paints (0861 77 66 46, prominentpaints.co.za)
Spuitverfwerk Hoeks Bakwerke (028 514 2141)
Motoronderdele Andreno Engine Rebuilders (028 840 2087)
Lap Glenn Barker Fabrics (021 703 0397/87)

Foto’s geneem by Drostdy-museum, Swellendam (drostdy.com)