Foto’s Justin Patrick

Die huis dateer uit die laat 19de eeu en was die dorp se eerste skool. Op snikhete dae hou die afdak en hortjies die huis koel. Die lang tafel in die kombuis kom van Emile se skool, waar dit met waterskade en vol duimspykers en kramme buite gestaan het. Die vinielvloerteëls met ’n houtvoorkoms sluit perfek aan by die houtvloere in die res van die huis.

Wie woon hier? Darryl en Amelia Caalsen en hul kinders, Emile (7), Monet (6) en Mathias (3)
WAAR Riebeek-Wes
GROOTTE 350 m²

Min dinge laat Darryl en Amelia Caalsen se vingers so jeuk soos ’n verwaarloosde huis wat lank leeg gestaan het ...

Geen wonder die egpaar het in 2013, toe hulle hier vakansie gehou het, hul hart verloor op ’n ou vervalle huis met ’n toegegroeide tuin nie. “Ons het die geleentheid aangegryp om hier te kom woon,” vertel Amelia. Die egpaar was toe nog voltyds in Engeland, maar deesdae pendel Darryl, ’n regsadviseur, tussen Kaapstad en hul huis.

Hulle verkies dit om ’n ou plek te koop sodat hulle dit na hul eie smaak kan inrig, verduidelik Amelia. Dié ma van drie is voltyds betrokke by die egpaar se opknapprojekte – hulle koop ’n huis, trek in, maak reg, en verkoop dit weer. En so het dié twee gesoute opknappers al ’n halfdosyn huise in ere herstel – twee in Engeland en vier in Suid-Afrika.

So tussen die verouderde afwerking en onooglike aanbousels het die Caalsens heelwat potensiaal raakgesien. Dit was immers ’n geskiedkundige huis wat aan die NG Kerk oorkant behoort het, met hoë plafonne, houtvloere, sjarmante houthortjies en pragtige uitsigte: op die Kasteelberg aan die agterkant, en aan die voorkant op die kerk en hoë plataanbome.

Buiten die algemene verval was die uitleg baie ongerieflik en die vertrekke donker.

“Agter was ’n onooglike aangeboude opwaskamer,” onthou Amelia. “Die enigste badkamer naby die slaapkamers is deur vorige eienaars aangebou, maar met heelwat laer mure as die res van die huis. Die eiendom is langs die kerksaal en gelukkig kon ons die kerkkombuis, wat reg langs ons hoofslaapkamer was, ook koop sodat ons dit in ’n en suite-badkamer kon omskep.”

’n Muur is uitgebreek tussen die eetkamer en kombuis, wat dit nou een oopplanvertrek maak. “Die uitbreek van hierdie muur, en nuwe oopswaaideure na die stoep, het die grootste verskil gemaak aan hoe die huis leef,” sê Amelia. Sy het die vertoonkas en muur in die Plascon-kleur Houri geverf, en die tafel met Harlequin’s White Woodwash.

Die lang tafel in die kombuis kom van Emile se skool, waar dit met waterskade en vol duimspykers en kramme buite gestaan het. Die vinielvloerteëls met ’n houtvoorkoms sluit perfek aan by die houtvloere in die res van die huis. Die eens aparte, outydse kombuis is nou nommerpas vir ’n bedrywige, moderne gesin se leefstyl – en Amelia se liefde vir bak.

Die koperplaat bo die stoof (foto1) was ’n ou kaggelskerm. Amelia het die pote afgehaal, en siedaar. “Ek vee dit net af met ’n klam lap.” ’n Klein kamertjie (foto2 langs die kombuis is in ’n spens omskep met plek vir die ys- en vrieskas. “Ek is nie lief vir ’n yskas in die kombuis nie; dit doen net afbreuk aan ’n huislike gevoel,” sê Amelia. Dubbele oopswaaideure (foto3) verbind nou die agterstoep met die kombuis en eetkamer. Die kerskandelaber is by ’n straatsmous op Clarens in die Vrystaat gekoop.

Harmonie met drie kinders onder 8

Jy sou nooit kon raai hier woon drie kinders onder agt nie, maar Amelia soek haar mooigoed fyn uit en gaan slim te werk met wasbare oppervlakke.

“Ek gebruik altyd ’n goeie wasbare muurverf en het wasbare los oortreksels op die rusbanke.

“Op die meubels wat nie gestoffeer is nie, het ek met kleure en krytverf-tegnieke rondgespeel (Amelia meng haar eie krytverf – sien kassie onder). Van die meubels se handvatsels het ek vervang om ’n Franse gevoel te skep, wat die afgewitte vloere komplementeer.

“Ek het al die deurkosyne, hortjies en vloerlyste in Plascon se French Chartreuse geverf pleks van die gebruiklike wit – dit skep meer karakter en warmte. “Al die kandelabers en lampe kom van oudhedewinkels, terwyl die metro-teëls in die badkamer meer modern is.”

Amelia se krytverfresep
  • ½ koppie gips
  • ½ koppie koue water
  • 1½ koppie verf met ’n waterbasis (ek gebruik Plascon Polvin) in die verlangde kleur

Meng eers die gips en water goed en voeg dit dan by die verf (gooi nog water by as dit te dik lyk).

Die agterstoep en braaiplek is haas onherkenbaar. Hier moes die Caalsens ’n aangelapte waskamer afbreek en 12 vragte grond wegry om die terrein gelyk te maak vir ’n nuwe sementblad en ’n steenvloer. Skadunet oor die nuwe prieel hou die stoep en die huis smiddae koel en die jong olyfbome is in pas met die omgewing.

Die Caalsens se en suite was voorheen die kerksaal se kombuis, wat hulle apart kon koop. Hulle moes die vloer met ’n meter lig om dit gelyk met die slaapkamervloer te kry. Die mure is nie geteël nie, want Amelia wou die gevoel van ’n leefvertrek skep. Sy het maande lank na die regte wasbakkas gesoek; die kandelaber en mat is ook tweedehands gekoop.

Talle uitdagings

Die Caalsens het in Februarie 2014 ingetrek en dadelik laat waai met die opknapprojek. “Ons doen altyd die meeste van die werk self, maar kry bouers vir die breek-, bou- en pleisterwerk,” verduidelik Amelia. Met elke projek tot dusver was hul grootste uitdaging om die regte materiale en dekorartikels teen bekostigbare pryse in die hande te kry. Maar dié keer was die lys van struikelblokke langer…

Die egpaar het gou besef hul grootste uitdaging is om in die huis te bly terwyl hulle dit opknap. Een van Amelia se sterkste herinneringe is die stof – dít terwyl sy swanger was met Mathias!

“Ons het al die plafonne uitgebreek om die mooi houtbalke te ontbloot, en die stof was iets verskrikliks. Die mure was net tot plafonhoogte gepleister, en moes dus in elke vertrek tot by die balke afgewerk word. Ons het maande lank die studeerkamer as kombuis en leefvertrek gebruik.”

Darryl het van die loodgieterswerk en die meeste van die elektriese werk self gedoen en ’n 200 liter-sonkraggeiser laat installeer. Hulle het die aangelapte opwaskamer afgebreek, van die binnemure uitgebreek en staalraamvensters aan die agterkant met skuifraamvensters (alles veilingkopies wat herstel moes word) vervang – die perfekte resep vir stof, stof en nogmaals stof.

Maar kort voor lank was die stof so te sê vergete, want vir die Caalsens is niks lekkerder as om net by die huis te wees nie. “Dis altyd so bevredigend om te weet dat jy iets kon verbeter of mooier maak. ’n Mens vergeet gou van al die slegte werk en leer baie lesse met elke projek,” sê Amelia.

Hier is nie ’n enkele nuwe meubelstuk in ons huis nie. Ek hou van ou meubels omdat dit ’n huis uniek maak. – Amelia

Dié badkamer (foto1) was klein en donker, met lae mure en ’n aparte toilet langsaan. Die muur tussen die twee vertrekke is afgebreek en al die mure is opgebou tot dieselfde hoogte as dié in die res van huis. Amelia het die bad se buitekant swart geverf met dakverf. Die hoofslaapkamer (foto2) is merkbaar ligter danksy die witgeverfde houtplafon. Amelia het die bed se kopstuk, die aansteekbord gordyne en kussings self gemaak, en die kandelaber was ’n tweedehandse kopie.

Die regte afwerking

Al die lampe en kandelabers is spesiaal uitgesoek en meestal tweedehands gekoop om die landelike argitektuur te komplementeer; Darryl het almal self gehang. Hy en Amelia het die vloere afgewit en verseël terwyl hul tuinier, Godfrey Mpate, met die verfwerk en ander take gehelp het.

En toe kom die lekkerste deel: die dekor. Amelia is baie lief vir naaldwerk en het al die gordyne, blindings en strooikussings gemaak. Haar liefde vir opknap en mooimaak kom uit haar kinderdae. “Kleintyd het ons baie rondgetrek en moes ons altyd eers die huise verf en opknap. My liefde vir ’n klassieke Europese styl en aardse kleure het ontwikkel terwyl ek en Darryl in Engeland gewoon het.

“Ek verkies ’n sagte, neutrale palet van vuilpienke, gryse en swart vir ’n gevoel van warmte en huislikheid. Ek gebruik dit ook in kussings, dekens en matte, en meng verskillende teksture. Maar ek kies my kleure só dat dit in die meeste mense se smaak sal val indien ons die huis sou verkoop.”

Dié beginsel werk blykbaar, want die huis het intussen nuwe eienaars gekry. Die gesin het na die Paarl verhuis, waar ’n nuwe Caalsen-opknapprojek nou onderweg is.

Emile se houtbedjie kom van Colonial Antiques in Port Elizabeth, en is met Woodoc Polywax Sealer verseël. Amelia het self die patroon op die muur gestensil. Die Caalsens het ook die ou skoolkas langs die bed gerestoureer. Dit spog met nuwe reliëfrande op die deure en nuwe handvatsels, en is met Amelia se eie krytverfmengsel geverf.

Monet se bed kom uit haar ouma Ans Lingenvelder se huis; Amelia het dit in die Plascon-kleur French Chartreuse geverf en Harlequin’s Antique Varnish bo-oor aangewend. Sy het die strepe op die muur geverf met Plascon Cashmere Bedouin Sand en Hammerite Metal Paint in die kleur Hammered Gold. Die deken en engel met feetjieliggies is tweedehandse kopies.

Uit hul notaboek

Ná ses opknapprojekte ken die Caalsens elke moontlike hindernis, truuk en geldspaar-plan in die boek.

Totale koste R476 063

Algemeen
Bouers en arbeid 115 000
Stene 10 753 Bousand en klip 9 040
Vinielvloerteëls – kombuis en badkamers 25 535
Loodgieterswerk 19 304
Verf 46 578
Elektries 12 599
Lateie en sement 15 099
Rommelverwydering en nuwe grond 15 000
Huur van stellasies, ens. 4 073 Sonpaneel en geiser 20 364
Skuifraamvensters 3 200
Dubbele oopswaaideure 5 000
Ligte en hanglampe 7 405
Allerlei (glas, plafonrose, fonteinpomp, dadorelings, vloerlyste, ens.) 65 084

Kombuis
Potrak met lampe 2 067
Werkvlakke 19 000
Kombuiskaste 12 790
Krane 2 280
Wasbakke 3 924
Antieke rak met deure 4 500
Deurhandvatsels 443
Spensrakke 2 725

Eetkamer
Kandelaber 7 000
Groot kas 10 000

Badkamers
Bal-en-klou-wasbakkas 2 900
Wasbakke 3 530
Krane 3 220
Stort-installering 1 500
Teëls 6 044
Toilette 3 300
Stortdeure 6 667
Handdoekhake 360
Pootjiesbaddens 3 500
Herseël van baddens 2 000

Stoep
Prieel: stutte en pale 3 158
Sementbak vir fontein 500
Sementstutte vir braai 620

Die afwerking
  • VERF
    Binnemure Plascon Polvin in French Chartreuse en Plascon Houri
    Buitemure Plascon Micatex in Mosaic
    Hortjies, buitedeure en houtmeubels Plascon Velvaglo in French Chartreuse
    Kaste se verfkleur Plascon Corinthian Pillar (onder); Plascon Houri (bo)
  • STOEP EN BRAAI
    Vloerstene van Tulbagh Bakstene (023 230 0691)
    Sementvloer geseël met Coprox Wall & Floor Sealer
    Sementstutte vir braaiplek Ital Cement (021 510 8181, italcement.com)
  • KOMBUIS
    Kaste Mistry’s Pine Furniture (021 510 2426, mistrys.co.za)
    Werkblaaie Quartz Technistone in Crystal Sahara van Builders (0860 284 533, builders.co.za)
    Hanglampe DIY Lighting Supplies (041 365 2384, diylighting.co.za)
    Potrak met lampe Radiant Lighting (011 386 0000, radiant.co.za)
    Porseleinwasbak On Tap (033 345 1647, ontap.co.za)
  • BADKAMERS
    Baddens Boland Auctions (021 872 6470, bolandauctions.co.za)
    Stortglas Bathroom Bizarre (0861 555 000, bathroom.co.za)
    Teëls CTM (0861 433 337, ctm.co.za)
    Wasbakkas, spieëls Second Time Around (041 372 1763)
    Wasbakke En suite: On Tap (033 345 1647, ontap.co.za); ander badkamer: CTM (0861 433 337, ctm.co.za)
  • VLOERE
    Hout afgewit en geseël met Woodoc Polyurethane Indoor Floor Sealer Matt Clear Vinielteëls Aspen Click Rustic Pine van Cape Flooring (021 851 0755, capeflooring.co.za)
  • MEUBELS EN DEKOR
    Alles tweedehands, erfstukke en veilingkopies.
    Kandelare Sitkamer: Barter Buy Antiques (011 615 6920, barterbuyantiques.co.za); eetkamer: The Gables Antiques (021 863 4903, thegables.co.za)