Foto’s Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER? Talia en Nick Botha met hul vier kinders, Trent, Troy, Taryk en Teabella

WAAR Johannesburg

Grootte 43m2 insluitend die sit-eetkamer

Die spatpaneel is afgewerk met teëls in die Delft-styl van Tile Africa – die Bothas het die idee gekry toe hulle iets soortgelyks in die kombuis van Regruk met Flair 2017 se naaswenners, Nuno en Ramona Afonso, gesien het.

“Ná 17 jaar van beknopte vertrekke was dit omtrént tyd!” sê Talia Botha oor die opknapprojek waartydens die triestige ou kombuis en eetkamer in hul Johannes-burgse huis ’n pragtige oopplanruimte geword het.

“Ons het as jong paartjie met ’n gesin begin en nou is ons ses – die klein, aparte ruimtes het net nie meer gewerk nie,” verduidelik dié ma van vier.

“Ons huis is in een van die ou myn-gebiede in Johannesburg-Suid en die vertrekke is almal knap ... Dit het lank gevat, maar ons het uiteindelik besluit om ’n paar mure uit te breek en ’n meer funksionele leefarea vir ons gesin te skep.”

Getrou aan die gees van die Regruk met Flair-kompetisie het Talia en manlief Nick, ’n IT-kenner, self ingespring. “Die klein vertrekke was nie al probleem nie,” onthou hy. “Elke keer as jy aan die warmwater-kraan in die badkamer gevat het, het dit jou liggies geskok. As deel van die opknap moes ons ook al die bedrading oordoen.”

Gelukkig het Nick ’n pragmatiese benadering tot die lewe. “Bedrading werk maar soos rekenaarkabels,” sê hy oor die taak wat eintlik deur ’n elektrisiën gedoen moes word. “Die skok is net anders!” 

V&A met Talia

Enige geldspaarwenke?

Moenie bang wees om hulp te vra nie; baie mense het nuttige vaardighede en soms is ’n koek as betaling genoeg. Vriende en familie se weggooigoed is dalk vir jou goud werd.

Waar kom jul idees vandaan?

Ek kyk na huisversiering- en tuinmaak-idees op Instagram, Pinterest en Facebook, en The Home Channel wanneer ek ’n tydjie het.

Enige ander wenke?

Wanneer jou begroting knap is, sal jy wonderlike maniere bedink om jou gewenste voorkoms te kry sonder om duur te betaal vir wat ook al trendy is. Beplan goed en snuffel rond.

Wat geniet julle die meeste van die voltooide projek?

Dat ons gesin bymekaar is! Pa kan aanlynspeletjies speel terwyl ek aandete kook, en die ouer kinders kan by die eiland sit en huiswerk doen terwyl die jongste op die vloer sit en speel – en almal kan met almal gesels!

Wat’s volgende?

’n Opknap vir die badkamer en ’n tweede toilet! 

Die kaste met glasdeure spog met pragtige toile-gordyne wat Talia self gemaak het.

Houtvoorkoms-teëls van CTM

Verfkleur
Duram Deep Dark Shadows

Plek vir almal

Die Bothas se huis is sowat 60 jaar oud, en Nick en Talia is maar die tweede eienaars. Omdat hulle al amper twee dekades hier woon, het hulle presies geweet wat hulle wou doen – en die mat in die kombuis was die heel eerste ding wat moes waai. Al het hulle ’n blokkiesvloer onder die mat ontdek, was dit taamlik beskadig, toe verruil hulle die bruikbare hout vir herstelwerk aan hul kar toe dié onklaar raak.

Vir Talia, wat bak en spesialiskoeke versier, was ’n praktiese kombuis die perfekte oplossing vir haar onderneming. “Ek is vir 70% van my dag in die kombuis besig en dit was altyd moeilik om toesig te hou oor die ouer kinders terwyl hulle huiswerk doen en terselfdertyd ’n kleuter in ’n ander vertrek besig te hou.” Nou is dié dilemma iets van die verlede.

“Dit het vyf maande se geduld gekos – nie net met die geldsake nie, maar ook met die ontwrigting wat so ’n projek meebring – maar ons is so trots op wat ons bereik het!” sê sy. “My nuwe ruimte weerspieël my persoonlikheid en ek is dol oor die plaasstyl met sy titsels industriële styl en Frans landelike sjarme. Ons gesin kan regtig gehaltetyd saam deurbring in dié pragtige ruimte.”

Om koste te bespaar het Nick se pa, Rudi Botha, die Supawood-kaste gemaak. Hy het 3 mm-groewe in die voorkant gesaag vir die plaashuis-voorkoms waarvoor Talia so lief is. 

Verfkleur
Fired Earth 3-in-1 Cabinet Paint in die kleur Mocca Chocca

Die handvatsels is leerstroke wat met moere en boute vasgesit is.

Die eiland is my bakplek en die apploustrekker in die kombuis. Dis dieselfde ryk blou as wat ek in die eetkamer en opwaskamer gebruik het. – Talia

Aan die werk ...

Die muur tussen die sitkamer en kombuis is uitgebreek om een groot oopplanruimte te maak.

Die geiser in die badkamer is buitentoe geskuif sodat die toilet, wat direk langs die kombuis was, na die badkamer geskuif kon word. Die muur tussen die ou toilet en spens is uitgebreek om plek te maak vir die opwaskamer.

Die deurgang tussen die sitkamer en gang is toegebou en die kombuisdeur is gang toe geskuif.

Die oorspronklike agterdeur, wat op ’n toegeboude stoep oopgemaak het, is ook toegebou om die ruimte meer funksioneel te maak.

Twee klein vensters is uitgehaal en vervang met ’n effens groter venster wat uitkyk op die groentetuin en ’n groot deel van die agterplaas waar die kinders graag speel.

Die nuwe mure en die bakstene wat tydens die breekproses onbloot is, is toegepleister; daarna is die vloere bedek met teëls met ’n houtvoorkoms.

Kostes

Totaal: R48 892

Boumateriaal 5 670

Beligting 870

Elektriese werk 2 500

Teëls 8 250

Pasgemaakte kaste 15 000

Gasstoof, plate en mikrogolfoond 9 650

Verf 2 512

Afrondings 940

Bouer/loodgieter 3 500

Die afwerking

Hout en werkblaaie Boardmaster (011 680 5722)

Kas-toebehore en vlekvryestaal-items M&N Fittings (011 435 1115)

Gesonke ligte, hanglampe en gordyne China Mall (011 830 1588)

Glas en verf Builders (0860 284 533)

Delft-teëls en wasbakmengkraan Tile Africa (0800 002 783)

Vloerteëls met houtvoorkoms CTM (010 003 9987)

Lap Chamdor (011 762 1401)