Foto’s en stilering Henrique Wilding • Assistent Suné Esterhuizen

WIE WOON HIER? Jessika Nilsson en haar lewensmaat
WAAR Soutrivier, Kaapstad
GROOTTE 180 m²

Jessika Nilsson, ’n gebore Sweed, was al twee jaar aan die huis soek in Kaapstad toe sy uiteindelik ’n karaktervolle Victoriaanse huis na haar smaak raakloop. Sy wou oorspronklik graag in Oranjezicht of Tamboerskloof koop, maar kon niks kry wat aan al haar vereistes voldoen nie. Toe besluit sy om haar net wyer te gooi en Soutrivier en Bo-Woodstock in te sluit – en kort daarna het sy dié skat ontdek.

“Dié buurte maak deesdae deel van die stadskom uit. Nadat ek maande lank die eiendom dopgehou en ’n paar keer daarna gaan kyk het, het ek en my lewensmaat op die ou end besluit om ’n aanbod te maak,” sê Jessika, stigter van die reisonderneming Safarisource.

Die paartjie was nooit van plan om ’n huis te koop om op te knap nie, maar hulle het hul hart op die argitektuur en geskiedenis van die huis verloor en besluit om die moue op te rol. “Dis ’n groot erf vir die omgewing, en die sjarmante stoep, geperste plafonpanele en swembad het ons oortuig dat dit ná ’n bietjie werk regtig ’n treffer sou wees. Ons grootste uitdaging was die kombuis; dit moes heeltemal oorgedoen word,” voeg Jessika by. Hulle het ’n projek-bestuurder aangestel en kort voor lank het hul droomhuis vorm begin aanneem.

Elke meubelstuk in die sitkamer het ’n interessante geskiedenis: Die konsolekas van Wauhaus is gedurende die 1920’s in ’n motorherstelwinkel in Woodstock gebruik, en die glas-koffietafel is gemaak van ’n ou weermagkampbed wat Jessika by Onsite Gallery gekry het.
Strooikussings van Carole Nevin Design

“Ons het mentgroen verf vir die kombuismure gekies, maar op die ou end het dit meer lemmetjiegroen gelyk. Ek het besluit om dit so te hou omdat dit nogal verfrissend is en goed by die hout-kombuisblaaie en beige tone in die eetdeel langsaan pas,” sê Jessika.
Eetkamertafel deur Devon Solms; stoele van Milano

Dié sithoekie is in die oopplan-eetarea langs die kombuis. Die “Jan Smuts Airport”-bord is die oorspronklike een wat bekende reisigers jare lank na die BBP-sitkamer gelei het. “Ek is ’n lugvaart-entoesias en ’n leerling-vlieënier, toe raap ek dit op by Wauhaus,” verduidelik Jessika.
Stoele en tafel van Delos Antiques and Furniture

Dié ruimte word as formele eetkamer gebruik; die prettige planeet-bewertjie is geïnspireer deur ’n soortgelyke een by die Planet Bar in die Mount Nelson-hotel.

1. Twee vintage-plakkate uit New York het die sitkamer se koel blou kleurskema geïnspireer.
Strooikussings van Ikea, Isobel Sippel Studio en Habitat; lamp van Klooftique

2. Jessika wou aanvanklik sitplek in die komvenster inbou van waar sy die uitsig op Tafelberg kon geniet. “Maar toe ek die Georgiaanse reistafel raakloop, het ek van plan verander,” verduidelik sy.
Tafel van Le Brocanteur

1. Die oorspronklike plafon in die hoofslaapkamer was in ’n uitstekende toestand – dit het net ’n vars laag verf nodig gehad.
Strooikussings van Isobel Sippel Studio en Ashanti; die deken is modderdoek uit Mali; lampe van Ikea

2. Die pragtige oorspronklike kaggel in die hoofslaapkamer.

Ek hoop Ikea maak eendag ’n winkel in Kaapstad oop, maar ek weet my plek sou nie so spesiaal gewees het as ek als daar gekoop het nie! – Jessika

Skouer aan die wiel

Die opknap het in Julie 2017 begin en vyf maande geduur. Daar was ’n paar nare verrassings, soos die vrot houtvloere. Dele daarvan kon gered word, maar die meeste planke moes heeltemal vervang word. “Ons het moeite gedoen om herwinde Oregondennehout te soek wat inskakel by die huis se Victoriaanse karakter,” sê Jessika. Hulle het ook tekens van klammigheid ontdek, wat beteken het hulle moes die mure se pleister afkap en met ’n spesialis-vogdigtingsproduk behandel.

Daarna het ’n paar strukturele veranderinge gevolg. Eers is ’n muur uitgebreek om ’n en suite-badkamer vir die gastekamer te skep; dié en die hoofslaapkamer se aparte badkamer is aangepas en nuwe sanitêre ware en teëls is ingesit.

Omdat die huis meer as 100 jaar oud is, moes van die bedrading vervang word om nuwe beligting te akkommodeer wat Jessika van oor die wêreld aangeskaf het. Uiteindelik is die huis in ’n sagte beige-bruin geverf. “Ons noem die kleur ‘Mount Nelson-beige’,” verduidelik sy. “Dis dieselfde kleur as in die bekende hotel in Kaapstad; ons het die concierge se hulp gevra met die skakering sodat ons dit presies so kon laat meng.”

1. Jessika wou ’n fokusmuur agter die hemelbed in die gastekamer hê, maar toe sy dié Isobel Sippel-lap sien, het sy liewer dit oor die raam gehang.
Bed van Weylandts; strooikussings van Svenskt Tenn en H&M Home; tafel van La Grange

2. Twee los stoele in die gastekamer, tipies van die Skandinawiese styl, skep ’n knus atmosfeer.
Gestoffeerde stoel van Insitu Design; mat en draadraamstoel van Weylandts; bedlampie van Ikea

Al die detail

Jessika het ’n eklektiese kombinasie van dekor in die Victoriaanse, Skandi- en Afrika-styl in gedagte gehad vir die huis – ’n voorkoms wat sy oorsprong het in haar kinderdae in Swede, waar haar grootouers gewoon het, en Tanzanië, waar haar ouers gewerk het.

“Goeie interieurontwerp moet ’n storie vertel van wie en waar jy is, en ook waarheen jy en jou dekor op pad is,” sê Jessika. Sy was vasbeslote om besonderse artikels vir haar huis te vind en het twee weke bestee aan “verkenning”, soos sy dit beskryf.

“Ek het by elke meubel-, antiek- en ontwerpwinkel in Kaapstad gaan aanklop met al my vrae.” Dié proses het haar gehelp vasstel waar sy die basiese benodighede kan kry, asook meer besonderse items om die ruimte karakter te gee. Jessika het ook ’n paar plaaslike juweeltjies uitgesnuffel. “Ek het heelwat lap en kussings van die ontwerper Isobel Sippel gekoop – haar ontwerpe is beslis van my gunstelinge.”

Jessika het haar vondste gekombineer met kussings, lampe, lap en kuns wat sy uit Swede saamgebring het. “Ek het baie by Josef Frank gekoop en heelwat beligting van die Sweedse ontwerpwinkel Ikea.”

1. ’n Rooi bad van Victorian Bathrooms kontrasteer met die beige mure in die hoofbadkamer en pas perfek by die argitektuur van die huis. 2. Die gastebadkamer se deur, wat eers in die eetarea oopgemaak het, is geskuif om ’n en suite-badkamer te skep.
Sanitêre ware, teëls en spieël van Victorian Bathrooms

Die landskapargitek het potplante vir die binnehof gekies wat mettertyd die res van die groenigheid sal aanvul.

Die breë stoep was een van die eiendom se grootste trekpleisters. Dit het nog die oorspronklike vloer en hortjies, en Jessika het ’n knus sithoekie hier ingerig.
Sanofu-bed van Weylandts; strooikussings en deken van H&M Home

Al het ’n paar eiendomsagente kom aanklop om die huis teen ’n aansienlike wins te verkoop, gaan ons nou nêrens nie. Dis ons huis dié. – Jessika

1. Die voorportaal het nog sy oorspronklike vloerteëls. Lig stroom deur die glaspanele weerskante van die oorspronklike Victoriaanse deur. 2. ’n Skaduryke hoekie bied ’n uitsig op Tafelberg.

AAN DIE WERK

Aanvanklik het niks in die kombuis reg oop- of toegemaak nie en die hout was nie afgewerk nie. “Die kontrakteurs het dit met ’n giftige produk verseël wat verwyder moes word – en hulle het vergeet om ’n opening vir die suigwaaier te maak!” sê Jessika. Die vrot houtvloere moes uitgehaal word.

Koste

Totaal: R700 000

Arbeid en kontrakteur 300 000
Kombuis 30 000
Dak 70 000
Badkamers 60 000
Swembad (skoonmaak, verseël en herstel) 15 000
Vloere (vervang en herstel oorspronklike Oregondennehout) 80 000
Vogdigting 50 000
Nuwe muur vir gastebadkamer 5 000
Diverse (insluitend nuwe vensters en elektriese passtukke) 30 000
Verf 40 000
Landskapwerk, plante 20 000

Die afwerking

Badkamerteëls, -bykomstighede en sanitêre ware Victorian Bathrooms (021 852 3439)

Kombuis MDF-kaste met Shaker-styldeure en beukehoutblaaie geïnstalleer deur Rodney Beck Construction (021 552 5555)

Slaapkamergordyne gemaak deur Fiona Loxton van The Cover Studio (083 309 3149)

Vloere Rodney Beck Construction

Landskapwerk Starke Ayres (021 685 4120)

Meubels en bykomstighede

KONTAK