Dit was dalk donker en beknop, maar Tammy en Alistair Holmes het dié huis so reg uit die sewentigs in Parkmore vir ’n goeie prys gekry, en tussen dié vier mure het hulle nog net geluk beleef.
Die paartjie, wat in 2015 op Tinder ontmoet het, het in April 2016 die huis se sleutels gekry en daardie selfde aand het Alistair vir Tammy die groot vraag gevra. Hy het gesê hulle gaan uiteet, maar eintlik was hulle op pad na die huis, wat sy toe nog nie gesien het nie.
Sy was geblinddoek terwyl Alistair haar binnegelei het na waar hy “Sal jy met my trou?” op die grootste oop muur gespuitverf het.
“Toe hy die blinddoek afhaal, was ek heeltemal verward, want hier staan ons in ’n vreemde, leë vertrek,” vertel Tammy. “Toe sien ek Al is op een knie en ons is omring met honderde rooi rose. Hy het die mooiste toespraak gemaak, ek het ja gesê en die sjampanje se kurk geskiet. Eers toe sien ek die vraag teen die muur!”
“Ek het geweet ons sou tog verf!” sê Alistair en lag. “En dis spesiaal om te weet my woorde is nog daar, onder ’n paar lae verf.”
Die lekkerste verrassing van als? Die dag toe hulle intrek, ná vyf maande se opknapwerk, het hulle uitgevind Tammy is swanger met hul dogter, Ivy.
Die blouste blou
Omdat die badkamer te groot en onpersoonlik gevoel het, het die paartjie ’n donkerblou fokusmuur (dieselfde Dulux Shutter Blue as in die kombuis) geverf en die interessante spieëls daarteen gehang om die ruimte knusser te laat voel. “Ons was van plan om ’n fortuin te bestee aan ’n afvlaklaag vir die badkamervloer, maar ons bouer het voorgestel ons skuur eenvoudig die beton nadat ons die teëls uitgekap het. Ons is mal oor die industriële voorkoms!” sê Tammy.
Spieëls van MRP Home; kandelaber van bidorbuy.co.za; blinding-lap van Mavromac; leer van @home; krane van Bathroom Bizarre
Stylvolle grys
Die paartjie het ’n koue, donker patio omskep in ’n gesellige kuierplek kompleet met ’n kaggel, kroeg en pizza-oond. Met die oog op ’n oop, lugtige ruimte het hulle die bestaande dak vervang met ontblote balke en wit Chromadek-dakplate. Spatsels kleur, soos die geel geverfde kas (’n erfstuk), gee dit ’n kontemporêre gevoel.
Groen met spatsels pienk
Vrolike geel
’n Muur tussen twee slaapkamers is uitgebreek om Tammy en Alistair se slaapkamer met sy en suite-badkamer te skep. Hulle wou onderskeid tref tussen hul slaapkamer en die res van die huis, en met die geel aksente en treffende materiaal het hulle dit beslis reggekry!
Die kombinasie van geel en grys was vir hulle so mooi dat hulle dit in die studeerkamer ook gebruik het; die lang gordyne met die tropiese patroon sorg vir visuele drama.
Van oudmodies tot kontemporêr
Tammy en Alistair wou graag met ’n skoon skilderdoek werk en het daarom mure uitgebreek en ou deur- en vensterrame vervang.
Daarna kon hulle begin met Tammy se gunstelingdeel – die dekor! Sy het nog altyd ’n oog gehad vir mooi en funksionele binneruimtes; haar ma is die interieurversierder en ontwerper Sue Lederle.
Tammy wend haar kreatiwiteit aan in verskeie sakebelange, onder meer haar binneversiering-onderneming Ivy Décor & Design en loveables.co.za, ’n dekorgeskenkwinkel.
Met die beplanning van elke vertrek se styl het Tammy maande lank deur winkels, tydskrifte, webwerwe en dekorjoernale gesnuffel op soek na net die regte kleure en teksture sodat hulle nie tyd mors op duur foute nie.
Sy het nuwer stukke met knoopdetail, natuurlike hout, linne en fluweel (haar gunsteling-dekorkeuses) gekombineer met ouer rusbanke, ottomans en tafels uit hul vorige huis.
Alistair, die stigter en eienaar van Holmes Underwriting Agency, het dit geniet om meubels vir die huis – soos rakke en die pragtige bed in Ivy se kamer – te bou uit ou dakbalke.
Maar dit was kleur wat die grootste rol in die mooimaakproses gespeel het, sê Tammy. “Ek wou ’n neutrale agtergrond hê met prettige spatsels kleur in verskillende dele. Ons is mos nog jonk (35 is immers die nuwe 25), so ek wou nie die ruimte te ernstig maak nie.”
Met kleur as riglyn beteken dit alles pas op ’n manier by mekaar en daar is eenvormigheid en vloei.
“Ek het elke vertrek se kleur beplan rondom hoe ons die ruimte wou gebruik – daarom is my studeerkamer speels, kleurvol en kreatief, en het die koninklike blou gastesuite ’n prettige, vroulike element.”
Voor die opknap ...
V&A met Tammy en Alistair
Julle was tevrede met jul bouer en argitek. Watter raad het julle vir opknappers wanneer dit kom by diensverskaffers kies?
Ons het begin met aanbevelings van vriende; dis ’n goeie plan, want jy kan na die betrokke diensverskaffer of kontrakteur se handewerk gaan kyk. Dis belangrik dat jy jou instink vertrou. Ons het ’n paar bouers ontmoet, maar daar was iets wat ons dadelik van sommige van hulle afgesit het; jy sal dadelik weet wanneer jy en jou bouer op dieselfde golflengte is. Ons het die argitek deur ons bouer ontmoet.
Enige ander raad vir opknappers?
Verwag om minstens 50% meer as jou beplande begroting te spandeer; jy kan jou maar regmaak vir onverwagte probleme en onbeplande uitgawes.
By watter dekorwinkels koop julle graag?
Ons bring ure by Block & Chisel deur. Ons snuffel ook graag unieke stukke by tweedehandswinkels uit; twee van ons gunstelingitems kom van antiekwinkels – die kristalkandelaber van Mahlah’s Antiques in Greymont en die magenta dientafel in die eetkamer van Redecorate in Parkhurst.
Argitek Ingrid Moralee (072 413 9565, ikm@mweb.co.za)
Bouer Gavin Painting (083 307 9777, gvpainting@mweb.co.za)
Kombuisontwerp en al die kaste Kitcor Kitchens (072 394 4035)
Gelamineerde vloere Top Carpets and Floors (087 236 6304)
Bykomstighede
- @home 0860 576 576
- Bathroom Bizarre 0861 555 000
- Block & Chisel 021 691 0878
- Cane World 021 510 3757
- Comfy Mummy 082 921 1032
- Constantia Fabrics 021 761 9648
- Dassiesfontein-plaaswinkel 028 214 1475
- Dovetail
- Handles Inc. 021 422 2322
- Hertex 011 025 8483
- la Basse-cour 071 684 0181
- Lots and Crates 011 326 2508
- Mahlah’s Antiques 082 320 1712
- Mavromac 011 444 1584
- MRP Home 0800 212 535
- Redecorate 083 647 0891
- The Lighting Warehouse 0861 5444 8464
- Woodbender 011 262 0312
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET