Foto’s Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER?

Cobus en Maritza Kriek en hul drie seuns, Micha (17), Joël (14) en Benyamin (9)

WAAR Potchefstroom

GROOTTE VAN KOMBUIS 22 m²



"Ons het geweet ons gaan eendag die kombuis oordoen,” vertel Cobus Kriek, ’n professor in chemie aan die Noordwes-Universiteit, “maar daar was ander, dringender sake wat eers moes aandag kry – soos om ’n kuiergedeelte op die stoep in te rig en die hoofslaapkamer te vergroot.

Voor

“Maar mettertyd het die kombuis ons ál meer gepla. Ons gebruik dit baie, omdat ons so gesond moontlik leef. Ons maak byvoorbeeld baie groen sappe en vrugte-smoothies en maal ook GMO-vrye mielies vir pap.”

Intussen het die Krieks ’n draai in Denemarke gaan maak. “Ek het van Augustus 2012 tot Maart 2013 aan die Deense Tegniese Universiteit gaan navorsing doen. Daar het ons toe van die “hygge”-leefstyl geleer,wat onder meer daaroor gaan om die gewone meer spesiaal te maak.” Uiteindelik sou hulle dié gevoel in hul kombuis vasvang en vandag is hul lang, smal kombuis nie net mooi en gerieflik nie, maar ook warm en gesellig –die ene hygge.

[WAT IS HYGGE?]

Die Deense begrip hygge (uitgespreek “hoo-ga”) kan beskryf word as ’n gevoel van geselligheid, warmte, geluk, tevredenheid, veiligheid, gerief en eenvoud. Om hyggelig te wees, help die Dene nie net om hul koue, donker en eentonige winters te oorleef nie, maar ook om hul somers meer te geniet. In die winter kan hygge beteken jy kan jou hyggebusker (’n los, gemaklike langbroek) dra, en in die somer dat jy in die park gaan piekniek hou. 

Dit gaan altyd daaroor om bewus te wees van ’n goeie oomblik, soos kerse aansteek tydens aandete, blomme koop vir jou huis of tee maak in ’n oulike potjie.

Meik Wiking, die hoof van die Institut for Lykkeforskning (navorsingsinstituut vir geluk) in Kopenhagen en skrywer van The little book of hygge: Danish secrets for happy living, sê hygge is die najaag van alledaagse, doodgewone geluk – ’n drukkie sonder aanraking. 

Bronne hyggehouse.com; countryliving.com; self.com

Maritza het die kleurskema van die kombuis gekies. Die gebruik van wit, swart en grys teen die helderheid van die lig deur die venster is treffend en eenvoudig.

’n Kombuis wat werk

Dit was aan die begin van 2019 dat die gesin besluit het tot hiertoe en nie verder nie. “Teen daardie tyd het ons ’n duidelike prentjie gehad van hoe ons kombuis moet lyk,” vertel Cobus. 

“Hoewel die kombuis reg langs die woonkamer is, was dit altyd heeltemal afgesonder daarvan. Ons wou eenheid tussen die twee vertrekke skep sonder om deur te breek, want deurbreek sou ruimte mors.” ’n Venstermuur tussen die twee vertrekke was die ideale oplossing. 

Dit het beteken die gasstoof en kombuiskaste wat teen dié muur gestaan het, moes skuif; outydse muurteëls en melamien-werkblaaie moes uit; en dit was tyd om die ou wit wasmasjien, skottelgoedwasser, yskas en mikrogolfoond met nuwe grys toestelle te vervang. 

Omdat Cobus, Maritza, Micha en Benyamin regte koffiepotte is, was ’n nuwe koffiemaker ook op hul lysie. Cobus het deeglike navorsing gedoen en uiteindelik in ’n Italiaanse espressomasjien en koffiemeul belê.

In die sewe maande wat die opknap geduur het, het hulle die kombuis ontruim en klaargekom met ’n tweeplaatgasstofie en ou mikrogolfoond in die eetkamer. “So ’n lang tyd sonder ’n kombuis is nie maklik nie,” onthou Cobus. “Maritza het selfs ons wasgoed by vriende gaan was.” 

Hy vertel die opknapping het so lank geduur omdat van die diensverskaffers hulle aan ’n lyntjie gehou het. “Twee verskillende mense wat ons gevra het vir kwotasies, het dit nooit gelewer nie,” vertel Cobus. “Hulle het wel kom mate neem, maar ons het nooit weer van hulle gehoor nie. Hulle wou ook nie die ou Oregondennehout wat ek gehad het, gebruik nie, want hulle was bang dit het spykers in wat hul saaglemme sou beskadig. Hulle wou net nuwe hout ten duurste aankoop. Ek het toe ’n groot deel van die houtwerk self gedoen en net die kombuiskaste laat maak en insit.” 

Ander oponthoude het wel ’n goeie uiteinde gehad. Cobus vertel van die kopkrap, moeite en tyd wat die buitengewone spatpaneel agter die stoof gekos het: “Maritza het die prentjie van koperlepeltjies vol saffraan gekry en ons het dit by Hope vol Hoop op perspeks laat druk. Die eerste weergawe het ek met silikoonrubber teen die muur vasgesit, maar dit het ná ’n dag losgetrek. Toe maak Hope vol Hoop weer een, teen die helfte van die prys. Maar toe kom daar fout met die drukwerk, sodat die prent greinerig was. Hulle het dit kosteloos oorgedoen. Met die derde weergawe het een van die perspekshoeke afgebreek tydens die vervoer van Kaapstad af. Dis toe weer kosteloos oorgedoen. Hulle diens was inderdaad baie goed. 

“Ná die tyd was dit vreemd om weer ’n volwaardige kombuis te hê, maar ons is baie tevrede daarmee. Ons kombuis werk nou vir ons.”

Die smal kombuis het met die slim gebruik van ’n venstermuur deel geword van die woonkamer langsaan. “Die venstermuur laat dit voel asof ons in dieselfde vertrek is,” sê Cobus. Soliede hout van Country Woods

Cobus het al die oop kaste en die houtrakke gemaak. “Om ’n rustige, oop gevoel in die smal kombuis te skep, moes die ou kombuiskassies teen die mure waai,” vertel hy. “Dit het ’n mens vasgedruk laat voel en ons het ons koppe daarteen gestamp. Hulle was boonop van spaanderbord gemaak, en die laaie en laailopers het nie gewerk nie.” Nuwe rakke is gemaak van soliede hout wat Cobus reeds voor die opknap oor die melamienoppervlakke gesit het. Die oop kas onder die werkblad is van ou Oregondennehout.

Die Krieks het die gasstoof jare gelede gekoop, maar dit het teen die woonkamermuur gestaan en moes skuif toe hulle die venster daar insit. “Hier teen die buitemuur is dit ook nader aan die gassilinder buite,” sê Cobus. “Ons het die wasbak, kraan en mikrogolfoond in swart gekies om die grys kleur van die yskas, wasmasjien en skottelgoedwasser te komplementeer.” Ingeboude kaste deur PJ’s Carpentry &Construction; horlosie van @home

Totaal R106 245

Bou- en elektriese werk 36 800

Kwartsblaaie 28 087

Kaste en laaie 24 700

Wasbak en kraan 5 758

Spatpaneel 3 400

Verf en vernis 2 800

Staalhakies vir oop rakke 2 150

Oregon-dennehout 1 800

Glas 750



[COBUS SE OPKNAPWENKE]

• Wees bereid om te wag vir wat jy regtig wil hê; moenie kortpaaie neem om tyd te bespaar nie.

• Hou by jou visie. Moenie dat iemand jou wysmaak dit wat jy beplan, gaan nie werk nie.

• Met tyd kom raad. Ons het die kombuis met verloop van tyd self ontwerp, presies geweet wat ons wou hê en by ons droom gehou.

• Balans tussen minimalisme, ruimte, geselligheid en vloei is belangrik.

• Selfs al is die kombuis in ’n ou huis, is daar altyd ’n manier om dit deel van ’n oopplanruimte te maak.

• Bevraagteken alles wat ’n verskaffer jou aanbied. Jy betaal op die ou end vir wat jy kry –en swak gehalte kan jou duurder te staan kom.

Cobus het oral gesoek na geskikte rakstutte. “Die lelike standaard-stutte sou net nie werk vir die hygge-gevoel nie,” verduidelik hy. “Toe ontwerp ek dié minimalistiese staalstutte saam met die universiteit se werkswinkel; hulle het dit toe gemaak.” Werkblaaie van Stone Dynamics

Cobus het die perspeks-prent vir die spatpaneel teen die muur geheg tussen 4 mm-glas aan die voorkant en 8 mm-Supawood agter, en met behulp van twee klampe van vlekvrye staal.

Wasbak en kraan van House Shop

VERSKAFFERS

@home 0860 834 834

Country Woods 011 444 6705

Hope vol Hoop 083 703 5512

House Shop 082 885 2953

PJ’s Carpentry & Construction 083 256 4647

Stone Dynamics 018 293 2854