Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

Wie het die ruimte ontwerp? Catalina Baliña
WAAR Observatory, Wes-Kaap
GROOTTE 50 m2

Catalina Baliña is passievol daaroor om ou, moeë plekke in pragtige ruimtes te omskep – en in haar jongste projek het sy dit opnuut reggekry!

Catalina het die huis in Observatory, ’n suidelike voorstad van Kaapstad, sowat vier jaar gelede gekoop en kort daarna aan die werk gespring.

“Voor die opknap was die leefruimtes – die kombuis, sit- en eetkamer – baie donker, en die binnehof is nooit gebruik nie,” vertel sy. Maar danksy slim planne en Catalina se regruk- towerstaf is nie net die binnehof se volle potensiaal ontsluit nie, die leefvertrekke en kombuis het ook nuwe lewe gekry danksy al die natuurlike lig wat nou by die huis instroom.

Deure vanuit die kombuis en eetkamer dra by tot ’n gemaklike vloei tussen binne en buite.

“Ek dink dis belangrik om by jou huis te onthaal, daarom wou ek die binnehof ten beste benut.”

’n Waterglanspunt in een hoek dien ’n dubbele doel: Dit verfraai die ruimte, en met ’n stortkop daarbo kan die huismense dit ook as buitestort gebruik.

“Daar is ’n wateruitlaat wat die water uit die ‘fontein’ kan herlei om die plante in die kuier-area nat te maak. Dit gaan dus nie verlore nie.”

Die hout vir die afwerking teen die muur agter die fontein/buitestort was oorblyfsels van een van Catalina se vorige projekte – dis nou ’n treffende fokuspunt in dié gesellige agterplaas.

’n Erg verweerde struktuur in die binnehof is tydens die regrukprojek omskep in ’n ekstra slaapkamer met ’n eie badkamer.

Die gruis is ’n praktiese keuse as grondbedekking en maak die binnehof maklik om te onderhou. Dit dra boonop by tot veiligheid – jy hoor maklik ongewenste besoekers se voetstappe daarop knars.


Die rankplant, ’n Pandorea jasminoides, is ’n vinnige en geharde ranker met pragtige wit blomme, wat dit ideaal vir hierdie binnehof maak, sê Catalina.
Kussings in Mona C:01 (teëlmotief) en Nevis C:03 (strepe) van U&G Fabrics

Uit haar notaboek

As jy ’n winskoop raakloop, gryp die kans aan, want jy weet nooit wanneer jy dit nodig kry nie.

V&A met Catalina

Enige geldspaarwenke?

Ek is altyd op die uitkyk vir mooi tweedehandse houtdeure en -vensterrame. Nuwes is baie duur, so ek hou my oë oop vir Gumtree se kennisgewings en besoek ook gereeld slopingsterreine. Wanneer ek hierdie spesiale juwele ontdek, koop ek dit en hou dit vir toekomstige projekte.

Watter raad het jy vir opknappers?

Beplan vooruit. Voeg 25% by jou aanvanklike begroting en laat ekstra tyd vir die projek toe.

Waarvan hou jy die meeste in die nuwe ruimte?

Ek is mal oor die vloei tussen binne en buite, en met al die lig wat nou hier inkom, is die leefruimtes heerlik lig en helder.

Koste

Totaal: R11 100

Boumateriaal en arbeid R3 000
Uithaal van ou bome en skoonmaak R2 000
Loodgieterswerk R1 000
Besproeiing R800
Gruis, plaveistene en plante R2 800
Verf en arbeid R1 500
(Ekstra slaapkamer en badkamer uitgesluit.) 

Die afwerking
  • Grondbedekking: Gruis van Mica Hardware (086 112 2114, mica.co.za)
  • Muurligte: Eagle Lighting (021 511 2640, eaglelighting.co.za)
  • Plante en besproeiing: Starke Ayres (021 685 4120, starkeayresgc.co.za)
  • Verf: Wit Plascon Wall & All en Velvaglo
  • Bykomstighede: U&G Fabrics (031 275 3100, 021 914 8180, ugfabrics.com)