Foto's Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

Dewald en Erika van Zyl was in 2016 naaswenners in ons Regruk met Flair-kompetisie. Hulle is albei kreatiewe siele. Erika is ’n kunstenaar en Dewald het al geboer en skoolgehou; vandag is hy onder meer ’n prentramer. Deesdae is hulle in die gastehuisbedryf.

Hul inskrywing

KATEGORIE Gastehuis
WAAR Prins Albert
GROOTTE 35,5 m2 

In die romantiese Karoo-dorp Prins Albert is Dewald en Erika van Zyl se Ta Mala’s Cottages ’n gewilde toevlug onder stadsjapies. En as jy kyk na hul jongste toevoeging, ’n netjies opgeknapte ou “brakdakkie” (’n huisie met ’n dak van latte en klei so tipies van die Klein Karoo), is dit geen wonder stersoekers kies om hier te bly wanneer hulle die naghemel kom bewonder nie.

Die 35 m2-huisie met die bynaam Meerkat is rustiek, maar het elke gerief wat jy kan vra en ’n plattelandse bekoring soos min.

"Ons glo hoe meer jy jou kreatiwiteit oefen, hoe makliker raak dit om skeppend te wees." – Dewald

Hoewel die oorspronklike voorkant van die huisie behou is uit respek vir sy 200 jaar oue erfenis, het die binneruimte ’n algehele gedaantewisseling ondergaan – ’n liefdestaak wat die Van Zyls bykans sewe weke geneem het.

Mure is platgeslaan om oopplanvertrekke te skep, die dak is vervang, ’n badkamer is aangebou en groot vensters ingesit vir meer lig. Die oorspronklike sementvloere is behou, maar het ’n vars laag verf gekry. Die mure wat bly staan het, is steeds skeef, soos ’n mens van so ’n karaktervolle ou huis sou verwag.

1 en 2. Die tuin, wat ontwerp is met die strawwe Karoo-somers in gedagte, spog nou met helder kleurspatsels in die vorm van spekbome, rooi malvas, blomdraende rankplante en wildeknoffel. 3. Sterjasmyn en swartoognooi helder die braaiplek op. Die braaiplek is tydens die huis se opknap aangebou. Gaste wat by Meerkat oorbly, word aangemoedig om iets op dié muur te skryf. Die ou metaalkis was ’n rommelwerfvonds, terwyl die gruisklip plaaslik teen ’n appel en ’n ei gekoop is.

Al die deure en vensterrame is geverf in Dulux se Bonar Blue (Dewald en Erika noem dit sommer “Karooblou”). Die bad was bedoel vir die badkamer, maar omdat dit onherstelbaar beskadig is met die aansweis van die pote, het hulle dit met Dulux Golden Yellow geverf; nou vorm dit ’n treffende fokuspunt buite. Emalje-potdeksels wat R5 stuk by ’n welsynswinkel gekos het, verskaf ’n helder kleurspatsel teen die witgekalkte mure.

Verrassing!

Daar’s ’n amusante kinkel aan hoe die Van Zyls die eiendom gekoop het: Erika het in 2003 opdrag gekry om ’n Karoo-landskap te skilder vir Japie van Zyl, ’n sakevriend van Dewald wat dikwels in Lephalale, Limpopo, by hulle oorgebly het.

Toe die paartjie in 2013 die agent by die eiendom op Prins Albert ontmoet om die huis te besigtig, kondig dié aan hy het ’n verrassing vir hulle: oorlede Ta’ Mala (na wie die huis genoem is) se seun was op die dorp en wou graag die voornemende kopers ontmoet.

“Ek hou nie van verrassings nie,” vertel Dewald met ’n breë glimlag, maar omdraaikans was daar nie, toe stap hulle maar in.

En sowaar, daar staan dieselfde Japie wat tien jaar tevore die skildery wou hê. “Ta’ Mala was toe al die tyd sy ma!”

Die tipiese brakdak-struktuur bestaan uit balke met populierlatte bo-oor. Dis bedek met goiing waaroor ’n sout-enkleimengsel tot 400 mm dik gesmeer is. Dié isolering hou die huis heerlik koel!

’n Toevallige vonds

Erika en Dewald woon permanent in Lephalale, waar hulle verskeie gastehuise besit – dis die afgelope dekade hul brood en botter. Maar die paartjie het in 2013 tydens ’n besoek aan Prins Albert verlief geraak op dié Karoo-dorpie.

“Erika het ’n fotografiekursus by Louis Botha in Prins Albert vir my bespreek as ’n verjaardaggeskenk. Terwyl ek daarmee besig was, het sy die dorp verken,” vertel Dewald.

Soos die noodlot dit wou hê, het sy afgekom op Ta Mala se huisies, wat toevallig te koop was. Hulle het ’n aanbod gemaak en dit gekoop, ondanks die feit dat dit 1 400 km van hul huis in Limpopo is.

Kort daarna het hulle plaaslike bouers aangestel om met die opknapwerk te begin, maar dié kon net die hoofhuis klaarmaak en basiese opknapwerk aan Meerkat doen voor die bouersvakansie vroeg in Desember aangebreek het.

"As dit by kontrakteurs kom, kry jy nie altyd waarvoor jy gevra het nie. Ons het by onsself gedink: Dit kan nie so moeilik wees nie. Komons kyk hoe ver ons kom." – Dewald

“Ons het geen ander keuse gehad nie as om die werk self klaar te maak, want ons moes terug Lephalale toe en wou graag gereed wees vir gaste voor ons teruggaan,” sê Dewald. Ná vele lang ure van harde werk, en die hulp van hul seun Divan en dogter Tanya, kon hulle alles afhandel voor hulle huiswaarts keer.

“Ons het dalk ná die tyd gesê nooit weer nie, maar ek en Erika hou daarvan om ons hande vuil te maak.”

Die hoenderdraad wat aanvanklik in die vensterrame was, is vervang met glas. Nou tel die sonlig wat deur ’n versameling antieke bottels skyn, asook die verweerde bedkassies van Oregondennehout, die blou spatsels op wat regdeur die huis te sien is. Dewald en Erika het self die bamboesraam vir die muskietnet bo die bed gemaak. Ons is dol oor die geverfde sementvloer. “Dit was die enigste blik vloerverf op die dorp,” vertel Erika. “Ons moes maar verlief neem met die kleur!”

MEESTER MET ’N TROFFEL

Aangesien die badkamer nuut gebou is, is die mure gepleister voor dit geverf sou word.

“Ons het ’n plaaslike messelaar gekry wat fantastiese werk gedoen het – sy pleisterwerk was perfek in elke opsig,” onthou Dewald.

Maar dis nie wat hulle wou hê nie; hy en Erika wou die ouwêreldse gevoel van die huisie so goed moontlik bewaar.

“Toe sê ek vir hom ek is baie jammer, maar ek gaan jou pleisterwerk verniel om by die res van die huis te pas. Toe vat ek ’n troffel en maak die gladde mure grof en ongelyk. Daai man dink seker nou nog ek is van lotjie getik, maar dit moes so aards moontlik lyk!”

1. Die nuwe bad moes op ’n platform gebou word sodat die water vryelik kan uitvloei. En omdat dit ’n te groot waagstuk sou wees om deur die eeue oue kleimure te boor, is die koperpype buite-op aangebring. Rooi en blou houthartjies wys watter kraan is vir warm en koue water. 3. Dié buitestort is ’n wenner gedurende die snikhete somermaande! Die rooi keramiek-stortkop met wit kolle was ’n geskenk van ’n antiekhandelaar wat dit as “sampioen” in die winkeltuin gebruik het.

Die kombuis is ’n toonbeeld van die tradisionele plaasstyl, danksy ’n versameling tweedehandse vondste en die rustigheid wat die sagte blou kleur (Dulux Bonar Blue) aan die neutrale palet verleen.

V&A met Dewald en Erika

Het julle enige geldspaarwenke?

Omdat ons die oudheid van die huis wou behou, was dit maklik om geld te spaar, want heelparty bekostigbare items van tweedehandswinkels pas goed in die ou huisie. Wanneer jy so ’n ou gebou opknap, kom jy agter hoeveel van die werk vroeër jare met die hand gedoen is en hoe mense gebruik het wat beskikbaar was. Ons het dieselfde gedoen.

Waar kom al jul idees vandaan?

Tuis was ’n groot hulp! En daar woon soveel kreatiewe mense op Prins Albert dat ’n mens maklik geïnspireer raak.

Wat geniet julle die meeste van die plek?

Daar’s geen TV, moderne tegnologie of spitsverkeer nie. Ons bekoorlike huisie het dalk skewe mure en ’n ruwe vloer, maar dit het ook ’n groot hart. Ons is mal daaroor!

Het julle raad vir ander opknappers?
  • Moenie bang wees om foute te maak nie. Die kanse is skraal dat jy alles die eerste keer sal reg doen; dis maar ’n kwessie van leer en probeer.
  • Beplan deeglik – dit spaar jou heelwat tyd en geld.
  • Kyk uit vir items wat jy kan herwin of nuwe nut kan gee, soos ’n ou deur vir ’n tafelblad of ’n kosyn wat as vensterraam kan dien.
  • Vat kanse! Selfs al is die plek 1 400 km van ons huis af, kan ons dit suksesvol bestuur.
  • Maak jou hande vuil!
Wat’s volgende?

Omdat ons in die gastehuisbedryf is, is ons gedurig aan die opknap of uitkyk vir nuwe uitdagings.

In die oorspronklike vuurherd pryk nou ’n smeulstofie. ’n Wit kissie, wat ’n skamele R10 by die plaaslike rommelwerf gekos het, dra by tot die ouwêreldse gevoel.

Koste

Bouwerk/kontrakteurs R13 240
Boumateriaal (bakstene, sement, sand, ens.) R15 000
Skuifraamvenster R1 900

Sitkamer

Kaggel R8 000
Slot R50
Ou kas R50
Ou kis R10
Staanskinkbord 150
Verf 650
Subtotaal R8 910

Slaapkamer en kombuis

Glas R220
Deur R200
Slotte R100
Wasbak R1 200
Toebehore R2 100
Krane R300
Deur R700
Subtotaal R4 820

Badkamer

Toilet R210
Kassie R150
Bykomstighede R90
Bad R6 000
Wasbak R420
Waskom R250
Subtotaal R7 120

Buite

Verf R120
Kalk en allerlei R1 580
Subtotaal R1 700

TOTAAL R52 690