Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Felicia en Danie Kotze en hul kleuter, Joe (2)
WAAR Durbanville GROOTTE 24 m²

"Beknop, donker en outyds!” Dis hoe die Kotzes praat van die oorspronklike kombuis in hul huis in Durbanville, wat hulle in 2016 gekoop het.

Die paartjie dink eenders oor baie sake – albei het gedroom van ’n ruim, stylvolle kombuis, en dié opknap was heel bo-aan hul doenlys.

Felicia en Danie het ’n knap begroting gehad en wou die meeste van die werk self doen; gelukkig besit Danie sy eie boufirma en staan sy hande vir niks verkeerd nie.

Die eerste stap was om ’n muur tussen die ou waskamer en kombuis uit te breek sodat dit een oopplanruimte kon wees. “Danie het dit self gedoen voor ons ingetrek het,” sê Felicia. “Die kombuis was so te sê onbruikbaar, daarom moes ons die woonstelletjie se kombuis tydens die opknap gebruik – dit kan nogal lol met ’n drie weke oue baba!”

Maar dit was gewis die moeite werd: Nege maande later is die twee donker vertrekkies omskep in ’n ligte, lugtige kombuis. “Ons nuwe oopplankombuis skakel met die leef- en eetgedeelte en helder sommer die hele ruimte op,” sê Felicia.

Dis waar die beton-eiland nou staan. Danie het die kaste en melamien- blaaie uitgehaal; sommige is hergebruik in die woonstel op hul eiendom en in die garage. Al die ou teëls is uitgekap en die mure is oorgepleister en geverf.

In die opwaskamer is dieselfde blou patroonteëls as in die kombuis vir die spatpaneel gebruik. Teëls van CTM

Laaivoorkante en deure in die Shaker-styl is ‘n tydlose keuse! Die paartjie het nuwe Supawood-kasdeure gekoop en karkasse van bekostigbare wit spaanderbord gemaak – ’n slim manier om rande te rek! Hulle het ook randstroke gekoop om die kasdeure netjies af te rond. Hulle het ’n lugkompressor en verfspuit ingespan om die kasdeure met Plascon Velvaglo White, gemeng met verdunner (10:1), te spuitverf.

Só het Danie die eiland gemaak
  • ’n Steunmuur is gebou voor hy betonlateie in die lengte af daaroor gelê het. Toe die lateie eers op hul plek was, is dit met veselmaas omhul om die beton te versterk.
  • ’n Dik mengsel van wit sement en sand (1:6) is 2 cm dik aan die lateie gesmeer en vasgestamp met ’n swaar voorwerp voor ’n reihout gebruik is om dit gelyk te maak.
  • Om die sye en rande te pleister is water by die sementmengsel gevoeg om dit dunner te maak; die rande is glad afgewerk met ’n messel-strykplank.
  • Die oppervlakke is toe dig bestrooi met wit sement en die rustieke effek is verkry deur die blaaie met water te besprinkel terwyl dit gestryk word. Wenk Hou die oppervlakke klam deur dit vir 7–12 dae gereeld nat te spuit; dit sal sorg dat die sement behoorlik droog word en help keer dat dit in die toekoms kraak. Skuur die oppervlakke daarna met 120-grint-skuurpapier, gevolg deur 150-grint- en uiteindelik 200-grint-skuurpapier.
  • Nadat dit geskuur is, het Danie dit verseël met Sika Surface Hardener for Concrete, gevolg deur deursigtige epoksi.

V&A met Felicia & Danie

Wat is volgende?

Dié huis het baie potensiaal; ons is tevrede om te spaar en die hele opknap in fases aan te pak.

Julle het alles self gedoen; was julle ooit in die versoeking om hulp in te roep?

Al hulp wat ons gehad het, was met die uitbreek van mure en die skuur van die werkblaaie, wat ’n tamaai taak was! Maar ons weet wat ons wil hê en wil graag dinge self doen.

Enige geldspaarwenke?

  • Jy sal verbaas wees oor die oulike goed wat die groter winkels aanhou; moenie bang wees om artikels waarvan jy hou, op nuwe maniere in te span nie. Dink kreatief!
  • Doen jou navorsing en huiswerk voor jy ’n opknap aandurf; dit sal onnodige foute en uitgawes uitskakel.
  • Maak ’n inspirasiebord met al die kleure, teksture, afwerking en dekor waarvan jy hou; dit sal jou op die regte spoor hou.
Begroting

Totaal: R48 500

Krane R3 500
Betonblaaie R8 000
Kaste R17 000
Verf R3 000
Vloermateriaal R2 500
Granietblad by wasbak R4 000
Wasbakke R4 000
Ligte en hanglampe R2 500
Houtbalk R2 000
Loodgieterswerk R1 500
Elektriese werk 500

AFWERKING EN KONTAKTE
  • Teëls vir spatpaneel, wasbakke, krane CTM (010 003 9987, ctm.co.za)
  • Kasdeure en -karkasse SA Decking (083 793 6722, sadecking.co.za)
  • Bykomstighede MRP Home (0800 212 535, mrphome.com)