Toe Andrew en Victoria Zekveld van Pretoria af na Pietermartizburg verhuis, het hulle afgekom op ’n huis in die buurt Clarendon – die omgewing en prys was nommerpas, maar die huis self was in ’n treurige toestand. “Hoewel die leefareas net ’n laag verf gekort het, was die kombuis ’n heel ander storie,” sê Victoria. Dit was klein en donker, die ou kaste was lendelam en die werkblaaie het kwaai waterskade gehad.

“Andrew is ’n lang man en moes altyd buk om nie sy kop teen die lae boogingang na die kombuis te stamp nie. Daar was ook nie naastenby genoeg werkspasie nie,” voeg sy by. Die Zekvelds het besluit om twee mure uit te breek en die kaste te vervang namate hul begroting dit toegelaat het. Maar toe hulle die hamers begin inlê en begin kaste uitbreek, was daar geen keer nie. En daar was nog groter haas nadat Victoria ontdek het sy is swanger met klein Judah.

Die paartjie het kwotasies aangevra, maar omdat dit so hoog was, het hulle besluit om die projek liewer self aan te pak. “Ons is ’n enkelinkomste-gesin en moes eenvoudig ’n ander plan bedink. Toe teken ons ons droomkombuis op ’n stuk papier en ontwerp kaste wat perfek by die ruimte pas,” sê Victoria, ’n argitek. Terwyl Andrew, ’n pastoor, by die werk was, was dit Victoria se taak om die kaste by hul plaaslike Timbercity-tak te bestel en af te haal.

“Oor die daaropvolgende paar weke het ek ’n bekende gesig in die winkel geraak soos ek (telkens met ’n groter boep) ’n bestelling kom gee of optel het – eers die karkasse, toe die deure en uiteindelik die boonste kaste,” vertel sy laggend. Die installering is in fases gedoen om seker te maak elke deur, laai en rak pas perfek. “En ek kan met trots sê dat ons niks twee keer moes laat saag nie!” voeg Victoria by.

Nadat die teëls met hul houtvoorkoms gelê is, het die volgende uitdaging voorgelê: die sement-werkblaaie. En dís waar vanjaar se wenners gewys het wat in hulle steek. 

Voor
Die sementblaaie is op een slag gegiet vir die gladste afwerking, sonder lasplekke.
Die Zekvelds het die keramiekteëls met ’n houtvoorkoms in ’n visgraatpatroon gelê. “Ons het die lasplekke tot ’n minimum beperk en grys en bruin voegbry gemeng om die regte kleur te kry,” sê Victoria.

Dis in the detail 

Die Zekvelds het gemik vir ’n moderne, eklektiese voorkoms. Vir warmte het hulle die boonste kaste en voorkant van die toonbank beklee met palethout wat hulle gratis gekry het by ’n vriend wat ’n fabriek besit. 

Hulle het die kroegstoele se pote aanlyn by thestreets.co.za gekoop; die Zekvelds is dol oor die kombinasie van die ongeverfde metaalpote saam met die sitplekke van eikehout wat hulle van elders herwin het. Wat ’n slim geldspaarplan!  

Die paartjie het versterkte glas pleks van teëls gebruik vir die spatpaneel; hulle het die agterkant met wit poliuretaan- emalje geverf. 


Sementblaaie

Voor hy met die werkvlakke weggespring het, het Andrew die proses deeglik nagevors. “As jy in Amerika of Engeland woon, kan jy ’n spesiale sementmengsel en gietvorms koop wat jou taak vergemaklik,” sê hy. “Aangesien ons in Suid-Afrika woon en nie geld soos bossies het nie, moes ons ’n gewone sementmengsel gebruik en ons eie gietvorms maak. Ons het dié voora ereide mengsel (fyn aggregaat, sand en sement in ’n verhouding van 3:3:1) versterk deur die sement te verdubbel. 

“Die meeste bouerswerwe meng die sakke vooraf in die regte verhouding. Ons het die sakke gekoop en toe die sement verdubbel vir ’n sterker mengsel en ’n ligter kleur.” 

Die toonbanke het op die ou end net meer as R1 000 gekos: R120 vir staalstawe van ’n skrootwerf; R350 vir die sement- mengsel en ekstra sement, en R600 vir ’n industriële poliakrilaat-seëlaar (’n soort lateksverf) vir afronding.

Só het die Zekvelds hul eie sement-werkblaaie gegiet

Victoria het ’n oog vir ontwerp, en van een ding was sy seker: net nie ’n kombuis in die landelike styl nie! En gepaste werkblaaie was noodsaaklik. 

“Graniet was ’n opsie,” sê Andrew. “Maar ons het nie van die voorkoms gehou nie, en kwartsblaaie soos Caesarstone is hopeloos te duur. Omdat ons begroting so knap was, het ons amper-amper teruggeval op standaard-melamienblaaie. Maar ons het besluit dit sou die moeite werd wees om te eksperimenteer met sement – al loop daar iets skeef, sou dit nie so baie kos nie. 

“Ons wou ’n ligte sementkleur hê en die blaaie moes dunner as die standaarddikte van 10 cm wees. Ons ontwerp toe self ’n blad wat dunner dog sterk sou wees.” Trouens, hulle moes dit noodgedwonge self doen, want geen kontrakteur was bereid om ’n blad dunner as 10 cm te giet nie. Gelukkig was Andrew en Victoria oorgehaal vir die taak.

Dis hoe hulle dit gedoen het:

1 Andrew het die hout van die ou kaste gebruik om gietvorms vir die blaaie te bou. Hy moes ook spesiale vorms maak met die regte openinge vir die wasbak, stoof en pype. Dit moes perfek gemeet word omdat hulle dit nie agterna sou kon aanpas nie! 

2 Andrew het toe staal-bewapeningstawe (“rebar”) by ’n skrootwerf gekoop en dit gebruik om ’n stewige versterkingsnetwerk te maak. 

3 Nadat als op hul plek was, het Andrew  die hele 5 cm-blad op een slag gegiet om lasplekke te vermy. “Hy het heeloggend gewerk om daardie vorm vol te kry!” sê Victoria. Terwyl hy die sement gegiet het, het Andrew dit tegelykertyd met ’n waterpas gelykgemaak en versprei. Ná die gietwerk het hulle die blad van onder en die kante af met ’n wentelskuurder (minus die papier!) gevibreer. Dit het die sement eweredig versprei en ontslae geraak van enige lugborrels. Die resultaat was ’n soliede blad met gladde kante. Laat daardie selfde aand, voor dit te droog geraak het, het hulle die sement met ’n troffel gladgestryk – dit het die meeste riffels en enige ander ongelykhede verwyder. 

4 Teen die volgende oggend was die blaaie so te sê droog. Die Zekvelds het dit gereeld natgemaak om te keer dat dit te vinnig uitdroog en kraak. Drie dae nadat die sement gegiet is, het hulle die kante van die gietvorm verwyder, en ’n paar dae later die res van die gietvorm en ondersteuning- strukture weggeneem. 

As jy self wil probeer:

• Toets of jou idee haalbaar is deur dit eers in ’n klein area toe te pas. So kan jy potensiële slaggate vermy en nie met ernstige gevolge sit as daar ’n groot probleem opduik nie. Voor Andrew en Victoria die blaaie gegiet het, het hulle ’n toetslopie in die waskamer gedoen. 

• Kry raad by kenners. Vra verskeie mense om hul menings en maak dubbel en dwars seker van jou feite! Hulpbronne soos tydskrifte en blogs is ook van onskatbare waarde as jy iets nuuts wil probeer. 

• Hulle het lank gewik en weeg of hulle los seksies in vorms moet giet en dit dan stuk-stuk op die kaste moet installeer met die gladde onderkant na bo. Maar uiteindelik het hulle daarteen besluit, want ’n 1 m-deel is klaar taamlik swaar om te hanteer, en hulle wou ook nie so baie lasplekke hê nie. As jy die blad direk giet en genoeg versterking gebruik, behoort daar geen krake te wees nie (dis al ’n jaar later en die Zekvelds se blaaie het nog geen krake nie). 

• Kry ’n goeie staaltroffel en oefen daarmee sodat jy die oppervlak goed glad kan stryk.

• Gebruik silikoon in die hoeke van die gietvorm vir ’n mooi afgeskuinste rand.


V&A met Andrew 

Het julle enige hulp met dié projek gehad? ’n Goeie vriend het gehelp met die elektriese en teëlwerk. Die res het ek self gedoen, insluitend al die afbreek­ werk, loodgieterswerk (onder die wakende oog van ’n ander kundige vriend), die kaste se inbou, verf en afronding.

Het jy nog altyd ’n aanleg vir selfdoenprojekte gehad? Ek het op ’n plaas grootgeword; daar leer ’n mens maar om dinge self te doen.

Wat is volgende? Die badkamer! Die gevoel van genoegdoening nadat die projek klaar was, was ongelooflik – en dit was als klaar voor baba nommer 3 se koms!” 

Uit hul notaboek 

Koste 

Gasstoof en oond R6 600
Werkblad (bewapening, sement en seëlaar) R1 070
Kaste (hout en bykomstighede) R16 100
Elektriese werk  R1 400
Blinding R399
Spatpaneel R1 300
Vloer (teëls, kleefmiddel en voegbry) R800
Loodgieterswerk  R2 000
Algemeen (verf, pleister en ander) R1400
Arbeid R250

Totaal: R31 319


Die afwerking

Blinding Houtskoolgrys rolblinding van Game (0861 4263 2273, game.co.za) 

Glas (spatpanele) Raven Glass (033 394 5412) 

Verf (spatpanele) Duram NuGlo White Polyurethane Enamel

Verf (mure) Duram Bathroom and Kitchen Anti­Bacterial Paint in White; Excelsior Paints All Purpose Matt Acrylic in Zephyr

Kasdeure Storm Grey MDF (onder) en Super White MDF (bo) van Timbercity (021 927 5000, timbercity.co.za)

Mengkraan CTM (0800 010 810, ctm.co.za)
Kroegstoele Pote van The Streets (074 106 2662, thestreets.co.za)