Foto’s: Francois Oberholster | Stilering: Marian van Wyk

WIE WOON HIER?
Annelie Carstens
WAAR Durbanville
GROOTTE 50 m²

Annelie Carstens se kombuis-opknap is in 2012 aangewys as een van die topdrie in ons Regruk met Flair-kompetisie, maar sewe jaar later het dié vertrek sy ouderdom begin wys.

Toe word haar huis onlangs gekies vir ons regrukprogram 1, 2, 3 fixit! (in samewerking met BUCO, Timbercity en VIA, kanaal 147 op DStv), waartydens drie spanne die hele eiendom van binne en buite reggeruk het.

Die geel span, Jacques Müller en Justin Duckitt, het opdrag gekry om die kombuis oor te doen. En ons weet hoe vernuftig dié twee is – hulle het immers Regruk met Flair in 2017 gewen met die opknap van hul eie huis op Nieu-Bethesda.

Annelie se droom was nog altyd om die muur tussen die kombuis en ruim sitkamer uit te breek vir beter vloei. “Die kombuis het soos ’n aparte, afgesonderde vertrek gevoel en ek wou bitter graag ’n oopplanruimte met ’n gesellige eiland hê waar vriende en familie kan saamkuier terwyl ek kook,” sê sy. Tydens 1, 2, 3 fixit! is die muur uiteindelik afgebreek en ’n staalbalk ingesit om strukturele ondersteuning in sy plek te verskaf. Toe was dit tyd vir Jacques en Justin om hul towerstaffie te swaai.

“Ons doel was om die ruimte heeltemal oop te maak; nie net deur die muur tussen die kombuis en sitkamer uit te breek nie, maar ook deur onnodige kombuiskaste uit te haal en die uitleg aan te pas vir beter vloei,” verduidelik hulle.

Kombuis

Die enorme kas en muur links en ’n “eiland” in die middel was ongemaklik en het die vloei in die kombuis belemmer. Gevolglik is die muur en kas uitgehaal om die ruimte heeltemal oop te maak. Vir ’n naatlose voorkoms en om meer natuurlike lig by die ruimte in te bring is van die kaste uitgehaal en rondgeskuif, soos die stoofkas langs die agterdeur wat sonlig gekeer het. Die nuwe uitleg bied nou ook die perfekte werkdriehoek tussen die stoof, yskas en spoelwasbak.

Dis in die detail
Die bestaande kafeestyl-hanglampe is gespuitverf met Rust-Oleum: groen (Forest) buite-om en koper (Copper) binne. Justin en Jacques het natuurlike houtelemente soos die bekleding om die eiland gebruik om die rustieke plaashuisstyl van die huis te komplementeer. Dié hout is uit ’n vorige projek herwin.

Hout, verf, wasbakke, krane en toebehore van Timbercity en BUCO

Koel in blou

Die ou kaste lyk splinternuut danksy ’n laag O’Grady’s Chalk Craft-verf in die kleur Emperor’s Blue, wat agterna verseël is met O’Grady’s Liquid Antique Wax. Die deurhandvatsels is met Rust-Oleum Copper-spuitverf vernuwe en met Rust-Oleum Lacquer Clear verseël. Vir nog detail is dieselfde koperkleur op die skopplate en kroonlyste, asook die deurrame, gebruik; Jacques het laasgenoemde met ’n klein kwassie geverf.

Justin het al die bestaande swart marmerblaaie met ’n hoekslyper en diamantlem gesaag vir hergebruik waar nodig. Nadat al die teëls uitgekap is, is die mure gepleister en wit geverf; die plafon het ook ’n laag wit verf gekry. Die vloere reg deur die nuwe oopplan-kombuis-en-leefarea is afgewerk met ’n afvlaklaag van sand en sement en verseël met Woodoc 45-teël-en-sementverseëlaar.

Die nuwe matgrys Smeg- stoof, Annelie se geskenk aan haarself, is die applous- trekker in die kombuis. ’n Spatpaneel van wit mosaïekteëls met grys voegbry staan pragtig uit teen die houtskool muur.

WASKAMER

Die waskamer en opwashoekie was voorheen taamlik donker. Danksy ’n nuwe venster is dit nou ’n lieflike, helder ruimte. Nuwe venster, krane en toebehore van BUCO en Timbercity

Oopplanruimte

Wat eers ’n TV-kamer tussen die kombuis en ruim sitkamer was, is nou ’n eetkamer wat die ruimtes met mekaar verbind; ’n Persiese mat baken die eetdeel af. Omdat daar soveel kombuiskaste uitgehaal is, vergoed ’n nuwe uitstalrak in die eetkamer vir die verlies aan pakplek. Justin en Jacques het dié rak gebou uit 22 mm-laaghout wat hulle vooraf op maat laat saag het. Hulle het ’n onderlaag aangewend en dit toe geverf met twee lae houtskoolgrys dakverf.

Laaghout van Timbercity; tafel en bankies van Incanda Furniture; glasvase bo-op geel kas van Haus

Koste

Totaal: R34 905

Arbeid 3 950
Teëls 2 500
Herstel en verf van mure en plafonne 3 560
Verf vir aksente 790
Elektrisiën en loodgietwerk 3 600
Elektriese toebehore en gloeilampe 500
Gassilinder en -toebehore 600
Verf vir kaste 1 700
Venster in waskamer 2 445
Krane en toebehore 2 300
Blinding 4 285
Materiaal vir uitstalrak 7 800
Spuitverf en seëlaars 875

Trek weg of maak reg?

As jy die kenners inkry om vir jou ’n nuwe kombuis te installeer, kan dit jou maklik R100 000 tot R200 000 (selfs meer!) uit die sak jaag. Dit sal wel jou huis se waarde verhoog, maar almal het nie daardie soort geld nie. Gelukkig is daar kortpaaie wat jou kombuis splinternuut kan laat lyk teen veel minder – soos Annelie Carstens se Durbanville-kombuis wat teen minder as R35 000 opgeknap is.

Jacques Müller en Justin Duckitt, twee gesoute opknappers, deel hul wenke vir hoe jy ’n kombuis op ’n begroting kan regruk:

1. Begin deur ontslae te raak van alles wat oudmodies is en afgeleef lyk – hetsy ou toestelle of muurteëls. Om ou teëls uit te kap is nie so moeilik soos wat dit lyk nie: Verwyder eers al die voegbry met ’n draaibeitel (“rotary tool”); daarna is dit maklik om die teëls af te kap.

2. Maak die ruimte so oop en ruim moontlik om meer natuurlike lig in te bring. As daar kaste is wat die lig of uitsigte belemmer, haal dit uit. Kyk met nuwe oë na ’n oorgroot eiland of ingeboude kaste rondom die yskas – dalk werk dit nie vir jou spesifieke kombuis as dit te veel ruimte in beslag neem of die vloei belemmer nie.

3. Herwin wat jy ook al kan. Jy sal ’n fortuin bespaar deur jou bestaande kaste te hou en dit net te verf. Jy kan ook die handvatsels met metaal-spuitverf bydam vir ’n nuwe voorkoms – met die magdom produkte op die mark sal jy sekerlik iets kry wat in jou smaak val.

4. Bou self kaste. ’n Kontemporêre uitstalrak is byvoorbeeld maklik om te maak van bekostigbare laaghout en neem min ruimte in beslag.

5. Sekere take soos elektriese en teëlwerk moet wel aan die kenners oorgelaat word, tensy jy baie ervaring daarvan het. Begin deur te beplan wat jy self kan doen en watter spesialis-werk nodig sal wees – dit sal jou help om beter te begroot.

6. Die geld wat jy bespaar deur die meeste van die werk self te doen, kan jy uiteindelik op ’n nuwe toestel soos ’n stoof of yskas bestee.

Wat was jul grootste uitdaging?
“Dit was ’n enorme taak om die groot oppervlakke van die mure en plafonne te verf,” sê Jacques en Justin. “Die verf van die kasdeure en aanwending van die was agterna om dit te seël, was ook groot werk. Jy moet seker maak jy het genoeg tyd en moenie te veel op een slag aanpak nie.”
VERSKAFFERS EN KONTAKTE