Foto's Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

Wie woon hier? Marieta en Derick Maree
WAAR Bethlehem, Vrystaat
GROOTTE 4,7 x 5,5 m
ORIËNTASIE Wes

VOOR

Die ou, verweerde leiklipteëls en sauna oorgetrek met sink op haar geliefde stoep het Marieta dwars in die krop gesteek. “Dit was regtig ’n seeroog. Ek wou so graag ’n mooi stoep hê waar ek soggens lekker my koffie kan drink en stiltetyd hou, en in die middag weer die lekker westeson kan geniet,” vertel dié Vrystater.

Hulle wou nie kontrakteurs gebruik nie; daarom het sy in ware Regruk met Flair-styl self ingespring, met haar jare lange tuinwerker en huishulp wat hand bygesit het.

Die leiklipteëls is opgekap, die vloer is glad gemaak met ’n sementmengsel en toe geverf – eers met ’n bindingsonderlaag en daarna met Dulux Acrylic PVA Exterior en laastens met ’n klipseëlaar. “Ja, ek weet PVA is nie eintlik geskik vir my doel nie, maar ek het my hart op die kleur – Maison Blanche – verloor en dis nie in stoepverf te kry nie. Daar is ’n klein gedeelte wat afdop omdat dit nat raak, maar ek verf en seël dit maar net weer,” verduidelik Marieta.

Die dak kon onveranderd bly, en net die hulp van ’n elektrisiën is ingeroep om die ligte, wat sy nuut gespuitverf het, weer te verbind.

“Ek het ook seile laat aanbring vir winderige en reëndae,” vertel Marieta. “Dit beskerm my meubels en wanneer dit nie benodig word nie, rol ons dit op en dan is dit netjies buite sig. Die seile is ’n groot aanwins en rond die stoep mooi af.”

1. Marieta het dié twee optel-stoele gered en met Bleached Lichen van Dulux geverf. 2. Die seilskerms was letterlik ’n vonds – weggooigoed wat Marieta se seun opgeraap het en nou die stoep teen wind en weer beskerm. Ná ’n goeie skoonmaak lyk dit weer splinternuut.

1. Die lang tafel dateer uit 1955 en kom uit die droogskoonmakery-enwassery wat die Marees al vir 36 jaar op die dorp bedryf. Lakens en slope is daarop opgevou en gepak. 2. Teen die muur is ’n ou skildery wat met swartbordverf toegeverf is. Kuiergaste skryf graag boodskappe daarop. Die tweedehandse bank is met Plascon se Mayan Stone geverf en toe nuut oorgetrek vir ’n vars voorkoms.

V&A met Marieta

Wat iemand anders wil weggooi, is dalk presies waarna jy soek – daarvan kan Marieta getuig.

Watter geldspaarwenke het jy vir ander opknappers? Kyk rond vir goed wat ander mense nie wil hê nie – veral by plaasskure en sommer in die veld.

Wat sal jy volgende keer anders doen? Ek sal die vloer liewer met ’n sementafvlaklaag afrond, want ek verkies die gladde voorkoms bo die growwe afwerking wat ons tans het.

Waar het jy jou idees gekry? Ek steel altyd met die oë by kwekerye en kyk ook graag in Tuis en op Pinterest – dit is my passie om van ou, weggooigoed iets moois te maak.

Wat geniet jy die meeste van die voltooide projek? Dis nou ’n heerlike kuierplek – saam met my vriendinne of alleen met my gedagtes. Dis ook waar ek stories vir my kleinkinders lees.

Wat is volgende? My gastebadkamer. En dan is daar nog ’n pophuis wat ek vir die kleinkinders wil omskep ...

Koste

Arbeid vir die vloer R600
PVA vir die vloer 770
PVA vir meubels 1600
Stoffeerwerk van bank 500
Seilskerms se skoonmaak 1000
Elektrisiën 500

Totaal: R4 970