Wie woon hier? Natalie en Stefano Madies
WAAR Glenvista, Johannesburg
GROOTTE sowat 8m²

madies-badkamer-reno-before2

Rede vir opknap

Die Madies-badkamer was ’n sewentigs-ontploffing. Met pers porseleinteëls en bypassende mosaïek-vloerteëls, ’n pers bad en toilet was dit tipies van dié tydperk. “Ek het dit gehaat!” lag Natalie.

Boonop het die hoë stortmuur heelwat lig versper. Die badkamer was donker en somber, en die oorhoofse beligting onvoldoende. “Die wasbakeenheid was ’n baie ongerieflike soliede betonblad (met pers mosaïekteëls, natuurlik). Die kaste was te laag en ons het dit nooit gebruik nie – die toonbank was dus altyd vol toiletware. Dit was ook baie koud.”

Nadat hulle 14 jaar met die pers badkamer saamgeleef het, was Natalie en Stefano keelvol. Dit was tyd vir plan maak, want hulle wou ’n badkamer hê met ouwêreldse styl en ’n luukse gevoel wat modieus en ook funksioneel is. Toe spring hulle aan die werk.

Die projek het sowat twee maande geneem en hulle het als self gedoen, behalwe die teëlwerk.

V&A met Natalie

  • Enige geldspaarwenke? Koop aanlyn, en hou ’n oog oop vir al die spesiale aanbiedinge in plaaslike koerante.
  • Waar het jy jou idees gekry? TuisHouzz.com en verskeie dekorwinkels.
  • Enige ander wenke? Kry eers ’n idee van wat jy wil hê; begin dan met navorsing en stel ’n begroting op om daardie droom ’n werklikheid te maak.
  • Waarvan hou jy die meeste? Die vintage-styl en min losgoed wat rondstaan.
  • Wat is volgende? Oor ons al twee van die huis af werk, wil ons ’n skeepsvraghouer in ’n kantoor omskep...

Hoofveranderinge

1.  Die teëls is afgekap en die helfte van die stortmuur is verwyder om meer lig in te laat; die ander helfte is behou om die toiletware op ’n rak aan die binnekant van die muur weg te steek – en vir die toiletrolhouer aan die ander kant.

2.  In die stort is metroteëls op die mure gebruik en byekorfteëls met grys voegbry is op die vloer gebruik.

3. Die ou plafon is vervang en nuwe gesonke ligte is geïnstalleer. Die badkamerdeur is vervang met ’n skuifdeur om ruimte te bespaar omdat dit agter die bad inskuif.

4. Die sementwasbakeenheid moes met ’n hoekslyper verwyder word omdat dit staalversterkte stawe gehad het.

5. Nadat hulle die toilet en bad uitgehaal en die gesonke dele gevul het, is ’n afvlaklaag oor die bestaande porseleinteëls gegooi om ’n gladde, egalige oppervlak te skep vir die nuwe swart-en-wit vinielvloer. ’n Nuwe toilet en badkrane is geïnstalleer, asook ’n voetstuk en wasbak. Vir afronding is tong-en-groefmuurpanele op al die mure aangebring.

madies-badkamer-reno1

madies-badkamer-reno3

madies-badkamer-reno2