Foto’s Justin Patrick

Wie woon hier? Cara-Lee Dely
WAAR Kylemore

Die reuk van nat verf is een van Cara-Lee Dely se mooiste herinneringe uit haar kinderdae. “Een oggend toe ek wakker word, het my ma ’n groot son en wolke teen my slaapkamermuur geverf,” onthou sy.

Dié herinneringe was weer helder in Cara (27) se gedagtes toe sy hier op Kylemore, ’n dorpie langs die Helshoogtepas tussen Franschhoek en Stellenbosch, en naby die Môreson-wynlandgoed waar sy as assistent-wynmaker werk, haar eerste huis kon begin mooimaak.

Toe sy einde 2014 dié 42 m²-plekkie koop, was dit ’n leë dop – deel van ’n bouval wat ná ’n verwoestende brand in agt eenhede omskep is. Dit het loodgieterspype en trappe na ’n solder-slaapkamer gehad, maar die mure was nie gepleister of geverf nie, en daar was geen elektrisiteit nie.

“Ek het my hart verloor op die rustieke gebou met sy skoon lyne,” sê Cara. “Toe ek daar instap en die tuintjie sien, het ek geweet dis die plek vir my. Die eiendom het net so magies en vreedsaam gevoel; ek het nie eens na ander eiendomme gekyk nie! Dit was ’n skoon skilderdoek waar ek kon doen net wat my hart begeer.’’

’n Vliegtuig se skroef is as trapreling ingespan. Dit bring hulde aan haar pa, Frans Dely, ’n lugvaartfotograaf wat in 2011 in ’n vliegongeluk oorlede is. “Ek moes dit in Muizenberg vir my ma gaan haal, maar toe ek dit sien, het ek dadelik geweet dis iets wat ek vir altyd in my huis wil hê,” sê Cara.

Die Union Jack-strooikussings herinner Cara aan haar Britse oupa, Raymond Packwood, wat in 2016 oorlede is. Cara het ’n stuk lap oor die rusbank gegooi, want haar hond, Veuve, het daaraan gekou en “dit kom nog uit my studentedae ...” Beker van MRP Home

Cara het besluit om die gebou se ou sementvloer net so te hou. “Ek is dol oor die karakter van die ou verfspatsels en krake.” Sy het die koperpyp-plantrak self gemaak en haar yskas met swartbordverf bedek. “Dis nie nodig vir skuur of onderlaag aanwend nie; jy kan net verf! Die swartbordpenne wat Superbalist.com verkoop, werk beter as bordkryt.”

Ek noem my huis die kweekhuis omdat dit sulke ongelooflike natuurlike lig kry. Hier kan ’n mens nie laat slaap nie! – Cara-Lee

Die tweedehandse kombuiskas was ’n saai grys met verf wat afdop. “Ek het dit net oorgeverf en nuwe handvatsels aangesit,” sê Cara.
Kombuiskas geverf met Dulux Niagara Blues 4

Doen dit self!

Danksy haar slag met selfdoenprojekte het die toestand van die gebou Cara glad nie afgeskrik nie. Maar haar ma, Janet Dely, was glad nie oortuig nie. “Die dag toe ek haar die eiendom kom wys, kon ek die paniek in haar oë sien. Sy kon nie glo hoeveel werk vir my voorlê nie. Maar ek was baie opgewonde oor die uitdaging.”

“Ek het al vroeg geleer hoe belangrik dit is dat ’n mens dinge self doen. My ouers het baie hard gewerk om seker te maak ons het ’n huis van ons eie. Ons het baiekeer soggens, smiddae en saans eiers op roosterbrood geëet sodat hulle die verband kon betaal. As enigste kind is dit in my ingeprent dat as jy iets gedoen wil hê, jy dit self moet doen.”

Potte en breekgoed word op oop rakke uitgestal – Cara se begroting was te knap vir kombuiskaste. Vir die werkblaaie het haar bouer bekisting gebou en toe beton daarin gegiet.

Cara het dadelik geweet die sitkamer moet groot stapeldeure kry wat al die natuurlike lig kan benut. “Daai deur het die ruimte heeltemal verander,” sê sy. “My tweede beste besluit was die kaggel, want dit maak my huis heerlik warm in die winter!”

Cara het die visdam gemaak met swembadvoering en klippe wat dit in plek hou. Die Dely & De Kock-bord het aan haar oupagrootjie, ’n eiendomsagent, behoort.

Cara wou ’n prieel in haar tuin hê, maar die kwotasies van sowat R10 000 was bo haar vuurmaakplek. “Op die ou end het ek sowat R2 000 bestee aan latwerk en vier stutpale, en dit self gebou. Die balke en latwerk is aan die huis vasgesit met ou rakstutte. Met die feetjieligte daarby lyk dit soos iets uit ’n sprokie!”
Strooikussings van Skinny laMinx

Cara se geldspaarwenke

  • Hou jou begroting fyn dop en voeg 10% by elke kwotasie. Dis maklik om te vergeet van dinge soos elektrisiteit, kragopwekkers of ’n huurtoilet. Sit ook geld weg vir onbeplande veranderinge of verrassings.
  • Moenie vergeet van kleiner ysterware-kopies tussendeur nie – dit hol gou weg met ’n mens!
  • Tref ’n balans in jou begroting tussen noodsaaklikhede en luukshede. Onverwagte uitgawes sal jou dwing om na te dink oor wat nou moet gebeur en wat eers kan wag.
  • Kies tydlose afwerkings vir areas wat die eiendom se waarde verhoog, soos die badkamers.
  • Goeie sekuriteit voeg waarde toe en skep gemoedsrus.
  • As jy tonne idees het, verfyn hulle en gebruik net die bestes. Anders kan jou dekor en afwerkings “oordoen” lyk as gevolg van te veel botsende elemente. Ek het koper-elemente in elke vertrek gebruik vir eenvormigheid.

Cara het besluit op groot teëls wat lig weerkaats om die badkamer ruimer te laat voel. “My groot aankoop was die stortkop; dit het meer gekos as wat ek eintlik wou bestee, maar dit was vir my net te mooi.” Die sementblad op die wasbakkas is net soos die kombuisblaaie gegiet.

1. Die aantrekkamer is gerieflik agter die badkamer geleë. “Ek kon dit ’n studeerkamer of tweede slaapkamer gemaak het, maar omdat daar in die res van die huis so min bêreplek is, het ek besluit op ’n instapkas. Ek het groot planne hier gehad, maar my begroting het my beperk,” sê Cara. Die hoë laaikas van mahonie uit die Chippendale-era (laat 1800’s) het sy op ’n veiling van die TV-reeks Black Sails gekoop.

2. Dié twee antieke militêre kiste ‘n Gumtree-kopie, dateer uit die middel-1800’s en doen diens as laaikas in die aantrekkamer. “My ma het dit by ’n bejaarde paartjie in Port Elizabeth gekoop; dit was vir minstens drie geslagte in hul familie,” verduidelik Cara. Sy het die smal rakke daarbo geïnstalleer vir haar skoonheidsmiddels en hang haar serpe aan ’n loodgieterspyp met stortgordynhake en veerklampe.

Ek het ’n gevoel gehad dat ek dié plekkie kon omskep in iets wat werklik my persoonlikheid weerspieël. – Cara-Lee

Oud en nuut bymekaar

Cara se dekor weerspieël kosbare herinneringe. Buiten die vliegtuigskroef by die trap stal sy ook reisherinneringe uit. “Daar is ’n reiswekker van my oupa Raymond, ’n versameling orgideë wat aan my ma herinner, en geskenke en foto’s van vriende. Al dié items gee die ruimte persoonlikheid en beklemtoon my styl.”

Cara se meubels is ’n interessante kombinasie van oud en nuut, maar alles in een styl. “As jy te veel verskillende vintage-style saam gebruik, kan dit oorweldigend raak. Die nuwe meubels was eerste daar en ek het met verloop van tyd ouer stukke bygevoeg. Ek dink toe die skroef eers sy plek teen die muur gekry het, kon daar ook ander ouer meubels by die grootliks kontemporêre ruimte inpas.”

Al het die gebou se argitektuur ’n rustieke plaasgevoel, wou Cara nie dié styl aan die binnekant herhaal nie.

Sy het heelwat inspirasie geput uit haar herinneringe van ’n ou gasfabriek in die Johannesburgse middestad. “Fotografie was een van my vakke op hoërskool en ek kon daar insluip vir een van my projekte. Ek was dol oor die rou industriële atmosfeer, die ontblote balke, vlekvrye staal en funksionele ligte. Dit het ’n groot indruk op my gemaak en ek het besluit om dié elemente in my huis in te bring – vandaar die sementvloer en -kombuisblaaie.

“Bygesê, ek hou ook baie van die eenvoud van wit dekor en hoe dit ’n gevoel van ruimte skep; daarom het ek besluit op ligte kleure en wit mure, behalwe in my slaapkamer. My gunstelingkleure is blougroen, dofpienk, ment en duifgrys. En ek is gaande oor die weelderige tekstuur van fluweel.” 

Die slaapkamer is een van Cara se gunstelingruimtes. “Van my dakvenster kan ek die Simonsberg en snags die sterre sien; baiekeer maak die maan my wakker. Die vintage-SA Spoorweë-lessenaar was ’n geskenk van Cara se ma, wat dit op ’n veiling gekoop het.
Strooikussings van Skinny laMinx; deken van MRP Home; skoenkas met spieëlvoorkante (onder) van Cielo Lifestyle; vloerlamp van superbalist.com

Cara se wenke

Leef lekker in ’n klein ruimte

Bêreplek was ’n uitdaging. ’n Ruimte soos myne kan maklik deurmekaar lyk, so ek moes dink aan bekostigbare, praktiese alternatiewe vir tradisionele ingeboude pakplek. Dit help as jy toestelle wegpak wat jy nie daagliks gebruik nie.

Lig In ’n klein ruimte is dit belangrik om natuurlike lig ten volle te benut; die 3 m lange glasdeur tussen my leefarea en tuin het die wêreld se verskil gemaak. Wanneer jou buite- en binne-areas aaneenvloei, voel jou leefarea groter.

Oopplan-uitleg en dubbelvolume Indien ek die slaapkamer toegebou het, sou die huis beknop gevoel het.

Funksionele uitstalgoed Dis nuttig om gebruiksartikels uit te stal sodat dit byderhand is.

Maak minder Raak ontslae van dinge wat soos onkruid vermeerder – plastiekhouers, betaalstrokies, of klere wat jy nie meer dra nie.

Organiseer gereeld As jy iets vir ’n ruk lank nie gebruik het nie, is die kanse goed dat jy dit nooit weer sal gebruik nie.

die afwerking

Bouwerk Paul Stein (083 231 8002)

Verf Voordeur, vibracrete-mure en kombuisrakke in New York Square uit die Plascon Architectural Greys-reeks; slaapkamermuur in Dulux Azure Fusion 1; kombuiskas in Dulux Niagara Blues 4

Glas-stapeldeur Ambassador Doors & Windows (021 931 2197, ambas.co.za)

Dakvenster Velux Roof Windows (021 531 6646, loftwindows.co.za)

Beligting Spoorligte van Glo Lighting (011 440 1781, glolighting.co.za)

Kaggel GC Fires (021 851 3187, gcfires.co.za)

Laboratoriumwasbak Bellini-reeks van Womag (021 512 2600, womag.co.za)

Spatpaneel in kombuis Eikestad Glass & Aluminium (021 883 8386)

Kombuiskaste en wasbakkas in badkamer Wilfred Leibrandt (073 385 0694)

Badkamerteëls en -wasbak Womag  (021 512 2600, womag.co.za)

Krane en stortkop CTM (0861 433 337, ctm.co.za);

Toilet Italtile (021 552 2101, italtile.co.za)

Handdoekrelings Eagle Lighting (021 852 0807, eaglelighting.co.za)

Prieel Stodels (021 528 4000, stodels.com)

Koperpyp en -stutte (meubels, gordynrelings en klererelings) Builders (0860 2845 3377, builders.co.za)

Bykomstighede Cielo Lifestyle (0861 999 193, cielolifestyle.co.za); MRP Home (0800 212 535, mrphome.com); Skinny laMinx (021 424 6290, shop.skinnylaminx.com)