Foto’s Elza Cooper

Vir Clifford Rosen was die besluit om ’n vervalle tennisbaan op sy eiendom in ’n kostuin te omskep, ’n maklike een. “Ek was op soek na ’n volhoubare, gesonde manier om kos vir my gesin te kweek sodat ons meer self-versorgend kon wees,” verduidelik hy.

“Dit was vir my belangrik dat ons kos vry moet wees van plaagdoders en skadelike chemikalieë. Deur aanlyn-navorsing en gesprekke met vriende en medetuiniers het ek toe met permakultuur kennis gemaak. ’n Permakultuur-tuin is van nature organies en het ’n klein impak op die omgewing deurdat dit water, energie, hulpbronne en die grond bewaar.

“Mense het al gevra of dit ’n wyse besluit was om die tennisbaan op te kap – en my antwoord is altyd ’n besliste ja. ’n Stuk grond waarop kos groei, het tog baie meer waarde as ’n teerblad.”

Clifford sê hy het aanvanklik nie juis belang gestel in blomplante nie. “My passie vir tuinmaak het begin by plante wat kos en medisyne kan verskaf. Ek het eers later ’n waardering vir blomme ontwikkel, toe ek agterkom hoe belangrik dit in die hele proses is. Ek plant blomme as metgeselle in die hoek van elke groentebedding. Ek versorg dit net so ywerig soos die groente, want ek het besef die blomme verskaf weer kos aan bye.”

Die projek

Clifford se groentetuin het in 2009 begin met ’n klein, verhewe bedding met houtrande op die tennisbaan. “Dit was 1,5 x 1,5 m en 300 cm diep, maar ek het gou agtergekom die teer is te warm vir die plante, want net ’n paar het floreer,” verduidelik hy.

“Ek het toe ’n drie weke lange permakultuur-kursus deur die Kaapstadse organisasie Seed voltooi en die inligting gebruik om my tuin in harmonie met die natuur te ontwerp. “Met die natuur as die bloudruk het ek my tuin beplan volgens die plante se sonligbehoeftes, waar die bome se skaduwee val en hoe die reënwater vloei en afloop. Ek het ook watertenks op strategiese plekke staangemaak om ekstra water op te gaar.”

Toe het Clifford beddings in die 20 cm dik teerlaag begin grawe. “Ek het gewag vir warmer dae wanneer die teer sag is en dit met pikke en grawe opgekap. Die beddings (1,2 m breed x 5 m lank en sowat 800 cm diep) is daarna gevul met kompos en grond van goeie gehalte.”

Deesdae pronk dié ou tennisbaan met 21 beddings, ’n groot kweekhuis, en ’n kleiner een met verhitting. Aangesien sy eiendom in ’n rypgebied is, gebruik hy dié strukture om rypgevoelige plante, soos rissies, in die winter te beskerm. 

Botterslaai

Nieskruid en smeerwortel

Erfenistamaties Foto Clifford Rosen

Boerkool

Ek het gou besef om in die stad te boer is ’n kombinasie van liefde, kuns en wetenskap. – Clifford

Pers blomkool

Wanneer jy kos kweek, is daar nie ’n verkeerde manier nie, net ’n beter manier. – Clifford

Deel in die oorvloed

Toe Clifford se groentetuin ’n ruim oes begin lewer, het hy sy opbrengs en kennis met ander begin deel.

In 2011 het hy ’n nie-winsgewende onderneming met die naam Let it Grow Foundation gestig saam met sy mede-tuiniers Jayson Fox en Calvin Ncube. “Sodra ek meer in voeling met die natuur gekom het, het ek besef stadstuine is die sleutel tot volhoubaarheid en voedselsekuriteit. Daarom wou ek my kennis oor groente kweek met ander deel,” sê hy.

Die Let It Grow Foundation bedryf die stadstuin by die Soweto Association of Persons with Disabilities; nie net geniet hulle hul eie kos nie, hulle verkoop ook hul surplus aan die plaaslike gemeenskap en genereer sodoende ’n inkomste.

Organiese volhoubaarheid

Clifford maak sy eie kompos – ’n mengsel van koffiemoer wat hy by ’n plaaslike koffiekroeg kry, groen organiese materiaal uit die tuin, droë blare wat in die buurt opgetel word, hoendermis van sy agt werfhenne, asook kraalmis wanneer hy dit kan kry. “Ek kweek ook smeerwortel, wat as kompos-aktiveerder optree deur die organiese materiaal af te breek.” Hy het altyd kruie soos nieskruid, smeerwortel en wurmkruid in sy beddings omdat dit sogenaamde dinamiese akkumulators is en die grond gesond hou. “ ’n Dinamiese akkumulator is ’n plant wat minerale diep uit die grond opneem en aan ander plante beskikbaar stel,” verduidelik hy. “Om die grond ’n hupstoot te gee dien ek elke jaar ’n EM-produk van Lindros Whole Earth Consultants toe. Dis ’n mengsel van effektiewe mikro-organismes wat die voedingstof-inhoud verryk en ’n beter oes tot gevolg het.” Clifford dien ook Talborne Organics-bemesting toe om te verseker sy plante is gesond en bestand teen insekte en siektes.

Seisoenale sukses

“Jy leer baie lesse uit groente kweek: geduld, vooruitbeplanning, bewustheid van die omgewing, die seisoene en weerpatrone,” sê Clifford.

Om elke groeiseisoen ten beste te benut, pas hy wisselbou in sy 21 beddings toe. In September plant hy somergewasse, wat hy van Desember tot Februarie oes. Winter-plante word van laat Maart geplant en hy begin in Junie daarvan te oes. In die winter kweek Clifford ook groen- bemesting soos lusern, wiek en swarthawer omdat dit voedingstowwe soos stikstof aan die grond verskaf.

Hy maak nat met boorgatwater en gebruik tenkwater om die dammetjie aan te vul. “Ek het nie ’n outomatiese stelsel nie, want ek verkies om ’n tuinslang te gebruik – dit fokus my aandag op die beddings en plante,” verduidelik hy.

’n Dik deklaag van strooi in die beddings en basstukkies op die paadjies help om klammigheid in die grond te behou. Clifford sê dis moeilik om presies te bereken hoeveel sy tuin-op-’n-tennisbaan gekos het. “Elke tuin is uniek. Die aanvanklike koste van so ’n projek gaan aan die rehabilitasie van die grond, en dan moet jy saad en saailinge koop. Ek koop al my erfenissaad aanlyn by Living Seeds en het al ’n voorraad organiese saad opgebou.

“Oor die jare het my tuin my vele lesse geleer, hoofsaaklik dat ’n bietjie basiese kennis oor kweek en oes genoeg is dat enigeen self so iets kan aanpak, ongeag hoe groot hul lappie grond is.”

/

Voor (September 2010, Augustus 2011, Augustus 2011, Oktober 2015)

1 Clifford se eerste groentetuin was ’n klein, verhewe houtbedding op die tennisbaan, maar hy het dit opgegrawe, want die teer op die tennisbaan was te warm vir die plante.

2 Dié rommel is toe gebruik om ’n ronde verhewe bedding te bou waar Clifford mielies, botterskorsies en boontjies kweek.

3 Elke 1,2 x 5 m-bedding is met kompos en grond gevul.

4 ’n Dammetjie met ’n natuurlike moerasfilter verhoog die biodiversiteit van die tuin. “Snags jag die paddas die insekte wat andersins aan my groente sou vreet,” sê Clifford.

Nadat hael sy oes twee keer vernietig het, het Clifford alles met skadunet bedek. “’n Net met 40:60-deurlatendheid werk goed vir my,” sê hy. Foto’s Clifford Rosen

Knoffel 

KONTAKTE EN VERSKAFFERS