WIE WOON HIER? Stefnie en Daryn Britz en hul seun, Daniël, en die honde Watson en Mufassa
WAAR Centurion
GROOTTE 35 m²

“My ma spot altyd dat ek lugkastele bou en my man, Daryn, moet dit dan realiseer,” sê Stefnie. En dis gewis ’n gepaste beskrywing vir hul kombuis-opknap, wat in 2015 voltooi is.

“Ons het verlief geraak op ’n ou huis in Centurion, maar die kombuis was klein, donker en afgesonder van die res van die huis; dit het my laat voel ek is uitgesluit van alles,” verduidelik Stefnie. “Ek het toe begin dink hoe ek die situasie kon verander. Met ’n pen en maatband in die hand het ek ’n paar idees neergeskryf en kort voor lank het ons nuwe kombuis in my gedagtes begin vorm aanneem.”

Stefnie het haar visie aan Daryn verduidelik en saam het hulle begin beplan aan die groot oopplanruimte wat hulle graag wou hê, insluitend ’n “massiewe kombuis-eiland reg in die middel” waar Stefnie kon kook en steeds deel van die aksie wees. “Ek is die kreatiewe een en Daryn is die praktiese probleemoplosser – saam is ons ’n wenspan,” sê Stefnie en glimlag.

Dis in die detail
Eenvoudige maar elegante dennehoutrakke komplementeer die wit metroteëls en ligte grysgroen muur. Swart rakstutte is wit gespuitverf om by die kleurskema in te pas.

Die vloer is afgevlak met Coolcrete in die kleur Moonstone van Tile & Floor Care (TFC) en verseël met TFC Top Seal, wat ook op die eiland se blad gebruik is. Die muur agter die oop rakke is geverf met Plascon Velvaglo Sheen in die kleur Fynbos Leaf
Teëls van CTM; rakstutte van Builders

Slim plan!

Die Britz-gesin wou graag ’n spens hê, maar daar was nie plek vir ’n aparte vertrek nie. Die oplossing? Hulle het vier gelamineerde boekrakke op mekaar gestapel vir ’n groot spenskas!

Dis belangrik om jou projekte te geniet, so breek dit liewer op in kleiner, hanteerbare dele. – Stefnie

Stefnie het dié patroon (bmet ’n stensil en Harlequins Furniture-kryfverf in die kleur Aged White op die vloer aangebring en met Stevensons Industrial Epoxy geseël.

’n Groentewasbak en kopergeplateerde kraan is op die eiland ingebou. Al kan koper vlek as jy wasmiddels gebruik, gee dit soveel karakter. Die ruwe dwarslêer-rak dra by tot die aardse gevoel.
Mengkraan van Victorian Side Bathrooms; dwarslêer-rak van Independent Traders

V&A met Stefnie

Watter geldspaarwenke het jy vir ander opknappers?

Doen voorbereiding soos om mure te kap vir teëlwerk of om die Polyfilla aan te wend voor die teëllêer en verwer opdaag.

Wat sou jy volgende keer anders doen?

Ek sou laaie langs die stoof sit vir kookgereedskap.

Waar kry jy jou idees?

Koffiewinkels, restaurante, ou Tuise en Pinterest.

Enige ander wenke?

Maak seker jy het genoeg kragpunte; ons het uittrek-kragpunte ingesit.

Wat geniet jy die meeste van die voltooide projek?

Ek hou van die oop kombuis. Daar is genoeg plek dat almal saam kan kook en dit voel of die kombuis die hart van die huis is.

Wat’s volgende?

Ons wil die buitekuier-area oordoen en ’n boma bou.

Begroting

Totaal: R57 800

MATERIAAL

  • Spenskaste 6 000
  • Ligtoebehore 1 500
  • Bakstene, sement en epoksi 3 500
  • Teëls en teëlsement 1 800
  • Wasbakke en krane 7 650
  • Rakke 950
  • Blindings 700
  • Verf 1 200
  • I-balk en IsoBoard 5 000
  • Elektriese en gas- materiaal 4 000

KONTRAKTEURS

  • Kombuiseiland en vloer 15 500
  • Plafonne en I-balk 7 000
  • Elektriese en gasinstallasie 3 000

1. Die kaste is versigtig uitgehaal sodat dit aangepas en weer in die nuwe kombuis gebruik kon word.

2. Twee mure is uitgebreek om ’n oopplanruimte te skep en die kombuis se grootte te verdubbel.

3. ’n Groot eiland is met rooi stene gebou, al die ou muur- en vloerteëls is afgekap en ’n nuwe sementvloer is gegooi.

4. ’n Kontrakteur het die beton-werkblad gegiet met plek vir ’n ingeboude gasstoof en groentewasbak.

5. Daarna het die Britze die ander werkblaaie self gegiet. Staalplate is as basis vir die beton gebruik en die blaaie is uiteindelik verseël met Stevensons DuraChem Epoxy, ’n hitte- en chemikalie-bestande middel wat ’n harde, glasagtige bolaag vorm.

6. ’n Stutmuur is uitgebreek en ’n I-balk is geïnstalleer, waarna nuwe IsoBoard-panele reg onder die dak ingesit is om die balke ontbloot te hou.

Die afwerking
  • Rakke Chamberlains (012 356 9500, chamberlains.co.za); Independent Traders (011 026 0235, independent-traders.co.za)
  • Wasbakke, stutte en boekrakke Builders (0860 284 533, builders.co.za)
  • Koperligte MRP Home (0800 212 535, mrphome.com)
  • Uittrek-kragpunte Gelmar (012 653 0780, gelmar.co.za)
  • Metroteëls CTM (010 003 9987, ctm.co.za)
  • Koperkraan Victorian Side Bathrooms (021 982 0461, victoriansidebathrooms.co.za)
  • Verf en seëlaar Megapaints (megapaints.co.za)