Die Lubbes, wat jare terug ’n korbeelhuisie op hul skaapplaas naby Loxton vir gaste ingerig het, het al hoe meer potensiaal in ’n ou klipgebou op hul grond begin sien: Dié was eens ’n skeerskuur, later stoorplek vir implemente, maar Natasha het besef dit kon ook verblyfplek wees. Ná vele Sondagmiddae se planne beraam voor die kaggel in hul plaashuis, het hulle in Maart 2011 met die restourasieproses begin.

VOOR EN NÁ: Eers stoorplek vir die ou trekker, nou ’n volwaardige slaapkamer met buitedeur na ’n opelug-stort. Die driewielfiets bo die klipmuur regs was Stegmann s’n as jonge plaasknapie.

Die eerste stap was om die pleister van die klipmure af te kap en die oortollige klei tussen die klip uit te krap om dieper groewe te vorm. Daarna is die mure sorgvuldig geseël met ’n deursigtige middel wat die ruwe tekstuur beklemtoon. Hul seun Le Roy het ook ’n reusekaggel in die een hoek van die oopplan-leefvertrek – waarvan die kombuis deel uitmaak – gebou vir warmte op koue Karoo-aande.

Die hoekkaggel is klip vir klip gepak en ingemessel deur Le Roy, die Lubbes se tweede oudste seun. Dit trek soos ’n droom! Die voordeur is skaars 1,6 m hoog! Die ou sementvloer is ook net so behou.

Klip wat op die plaas voorkom is gebruik om die slaapkamermuur te bou, en die ou sementvloere is met krake en al behou. “Ons wou die landelike voorkoms van die skuur bewaar en het gehou van die patina van die ou vloer.” Die plafon is kunstig toegemaak met fluitjiesriet – ’n tydrowende joppie, want elke riet moes perfek skoongestroop word! Bo-oor is ’n sinkdak, geverf in die kleur Red Wine van Builders Pride wat met die kliprantjies van die omgewing inskakel.

En buite het hulle twee klippilare gebou om ’n rietafdak oor die oorspronklike ou, lae voordeur te ondersteun.

Die wasbak in die kombuis is die onderste deel van ’n ou kopergeiser. Die warmwaterkraan word aangedui met ’n rooi merker wat eintlik aan ’n skaapoor hoort!

Buite die boks gedink

Min geld is bestee op die inkleding, en die meeste van die items het die Lubbes self geprakseer:

  • Stegmann het die stortkoppe gemaak van ou koperballe wat deel was van die vlotterklep by ’n waterkrip.
  • Die wasbak in die kombuis is gemaak uit ’n ou kopergeiser.
  • Die kopstuk van die yster-dubbelbed kom van ’n ou katel van ’n ashoop af, en die enkelbeddens is ou hospitaalbedjies.
  • Die hangligte van yster is op die plaas gesweis en afgerond met glas. Al die glas en spieëls is afvalstukke wat Stegmann gekry het by ’n vriend wat ’n aluminiumraamfabriek het.
  • ’n Populierstomp met twee telefoon-isolators is vernuftig as handdoekreling in die badkamer ingespan.
  • Die groot slaapkamervenster-opening moes ’n latei bo-oor kry; al wat lank genoeg sou wees en by die ou klipgebou sou pas, was die stam van ’n populierboom – waarvan daar baie op die plaas is!
  • ’n Ou wynvat se onderkant is afgesaag en die wasbak in die badkamer is bo-op gemonteer. Die afgesaagde stuk het weer in die kombuis plek gekry as rak.
  • Die kombuiskas is gemaak van dwarslêerplanke waarop ’n klipblad gemonteer is.
  • In die badkamer is ’n ou vensterraam as spieël ingespan.
  • Die houtluike voor die vensters is gemaak van planke wat van ou kabeltolle herwin is. Ellen, hul dogter, het die luike gemaak en Lukas, hul oudste seun, het dit in die klipmure vasgesit (dié moes ook die klipvloer in die badkamer klaarmaak toe Stegmann uit ’n boom geval en 3 ribbes gebreek het!).
  • Buite staan ’n tafel en bankies van soliede klipblaaie; die sitplekke om die buitebraai is rotsblokke afkomstig van dieselfde ou klipgroef as die oorspronklike bouklip.

Die wasbak is bo-op ’n ou wynvat gemonteer, terwyl die handdoekreling ’n populierstam is met telefoon-isolators daaraan vasgeskroef. Die stort in die badkamer het koperpype en besonderse kop.

Stegmann se klip-wenk

“Ou klipmure wat met klei gebou is, veroorsaak baie stof en moet geseël word. Ek gebruik Flexement (’n produk wat met sement gemeng word vir waterdigting). Ek het dit net met water gemeng om dit kleurloos te hou, en met ’n sprinkaanspuit teen die klip en kleivoeë gespuit. Nie net seël dit die mure nie, maar beklemtoon ook die ou kliptekstuur.”