Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Herman en Tiene Fourie
WAAR Sandbaai
GROOTTE 25 m²

Nadat ’n vorige opknapprojek lelik skeefgeloop het, was Herman en Tiene Fourie genoop om ’n nuwe plan te maak by hul vakansiehuis op Sandbaai. Die kaste het letterlik uitmekaargeval en was doodgewoon krom en skeef!

Dié huis is een van die oudstes op die kusdorpie en reeds sedert 1976 in die Fouries se besit. Dit het voorheen aan sendelinge behoort en spog met sy oorspronklike skuifraamvensters en hortjies in die dik, ou mure. Volgens Monica van der Berg, die Fouries se dogter en mede-eienaar van die vinielplakkeronderneming Hope Vol Hoop, was dit vir haar ouers belangrik om die oorspronklike gevoel van die streek te behou.

“Een van die kenmerke van die distrik is blou en wit melamien-vloerteëls,” vertel Monica, wat die nuwe kombuis vir hulle ontwerp het. “Tydens die opknapprojek het ons dus by die blou-en-wit kleurskema gebly om die gevoel te versterk.”

Om als mooi netjies af te rond, het Monica vir die mure viniel- teëls in dieselfde kleure laat druk om by dié tema te pas.

Voor

Om koste te bespaar is voorafvervaardigde melamienkaste met wit Supawood-deure op dieselfde plek as die ou kaste geïnstalleer. Die blaaie, rakke en rakstutte is met Harlequin Paints se Smokey Glaze behandel en daarna met ’n deursigtige waterbasis-vernis verseël. >>

Running Water-vinielteëls (150 x 150 mm) van Hope Vol Hoop versier die mure. Dit werk goed op bestaande teëls, maar kan ook op ’n gepleisterde muur geplak word, mits dit skoon en droog is – jy trek net die rugkant af en plak. As jy ’n fout maak, haal dit versigtig af en plak weer.

Die antieke koper-kombuisgereedskap komplementeer die blou teëls perfek. – Monica van der Berg (die Fouries se dogter)

V&A met Monica

Wat is jul grootste geldspaarwenk?

Om die bestaande uitleg van die kombuis te gebruik en klaar gemaakte kaste te koop.

Waar het jy jou idees gekry?

Ons inspirasie was die oorspronklike blou en wit vloerteëls en die blou see daar buite. Ons wou graag hê die kombuis moet die huis se persoonlikheid weerspieël.

Wat geniet jy die meeste van die voltooide projek?

Die vertrek het lieflike vloei en daar is ’n heerlike warm atmosfeer. Almal wil net hier om die kombuistafel kuier!

Wat is volgende?

Ons wil graag ’n kuierput buite onder die melkhoutbome maak.

Begroting

Totaal: R36 120

Kaste R22 125
Rakke R3 060
Toonbanke R3 960
Lig-installering R225
450 viniel-muurteëls R6 750

Voor

Die ou toonbank tussen die kombuis en eetkamer is afgebreek om meer ruimte te skep. Al die ou kaste is uitgehaal, en die waterpype is geskuif sodat die vertrek beter benut kon word.

Die afwerking en kontakte
  • Kaste Innovative Timber (084 209 2552)
  • Lampe en muurhake MRP Home (0800 212 535, mrphome.com)
  • Vinielplakkers Hope Vol Hoop (076 732 0785)