Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

Wie woon hier? Wynand en Nicola Pretorius saam met baba Mimi
WAAR Stellenbosch
GROOTTE 12 m²

Wynand en Nicola Pretorius het hul eerste huis in 2015 gekoop – ’n ou plek wat heelwat werk gekort het. Maar hulle was pas terug van ’n oorsese reis en die geldjies was skraps, daarom sou hulle klein moes begin – met die badkamer.

“Dit was regtig lelik en die veranderinge wat ons vir die res van die huis beplan het, was nogal omvangryk; toe reken ons die badkamer sal ’n goeie begin wees. En dit was!” sê Nicola.

Die projek het Wynand, ’n ingenieur, en Nicola, ’n digitale-mediabemarker, ses maande besig gehou – van beplanning tot uitvoering. Hulle het die meeste van die werk self gedoen: die muurteëls gespuitverf, nuwe vloerteëls gelê, die wasbakkas ingesit, loodgietwerk oorgedoen en lekkende pype herstel.

Die vertrek is afgerond met hortjies en oulike bykomstighede, waarvan die meeste tweedehandse vondste was. Laastens het die mure ’n vars laag verf gekry.

Vandag is die twee baie in hul noppies met hul klassieke badkamer.

“Ek kan nogal gou moeg raak vir ’n spesifieke styl, daarom het ons probeer om hier ’n ruimte te skep wat ons oor vyf tot 10 jaar nog sal geniet – en ek dink ons het dit reggekry!” sê sy.

Die wasbakkas is pasgemaak en donkerblou (Plascon Fat Alley Cat) geverf. Die paartjie het die nuwe wasbak in dieselfde plek as die oue ingebou; dit het koste besnoei deurdat hulle die bestaande pypwerk kon behou. Hulle het ook die stortdeur vervang en die stortvloer oorgeteël.

Wynand het twee lae wit Rust-Oleum Spray Paint oor die ou dofpienk teëls aangewend, ook in die stort. “Ons het gereken spuitverf sou minder kos as om die teëls uit te kap,” verduidelik Nicola. “Ons het dié verf toevallig in die ysterwarewinkel gesien en dit net eers op ’n paar teëls getoets. Die afwerking het ons beïndruk, toe besluit ons om dit met al die teëls in die badkamer te doen.” Die paartjie het die mure ’n dramatiese donkergrys (Plascon Dark Onyx) geverf vir kontras.

Wynand en Nicola het dié eenvoudige sweefrakke gemaak van ’n ou steierplank wat hulle in hul huis se dakspasie ontdek het. Hulle het metaalstawe deur die planke gesteek en in die muur vasgesit met epoksikleefmiddel.

V&A met Nicola en Wynand

Wat was jul grootste uitdagings tydens die opknap?

Ons moes elke sent twee keer omdraai. Dit het ook baie lank geneem om al die teëls skoon te maak voor ons kon spuitverf – maar hoe skoner die teël, hoe beter kleef die produk.

Het julle ooit stry gekry?

Ek wou graag liggrys mure hê, maar Wynand het aangedring op donkergrys. Op die ou end het ons die donkergrys gekies en ek is so bly ons het. Soms sit ons vas omdat Wynand te veel van die werk self wil doen. Dan raak ek ongeduldig, want dit vat te lank.

Het julle enige raad vir ander opknappers?

Dis ’n goeie idee om eers in die ruimte te woon voor jy begin opknap. Dikwels sal jy anders begin dink oor wat sal werk, en waarvan jy hou en nie hou nie. Laat projekte self ontwikkel en vorm aanneem. Vra vriende se eerlike mening en dat hulle kontrakteurs voorstel. Wat aanvanklik na die goedkoopste opsie lyk, kan op die ou end meer geld en tyd kos.

Wat is volgende?

Die kombuis, maar ons sal eers ’n jaar of twee moet spaar.

Uit hul notaboek

Spuitverf in ’n badkamer

Hoewel jy spuitverf op teëls kan gebruik, is dit op lang termyn nie ideaal nie omdat daar heelwat klammigheid in ’n badkamer is. Iets soos Rust-Oleum Tub & Tile Refinishing Kit is ’n beter opsie.

“Ons sal nie enigeen aanraai om teëls in ’n klam badkamer te spuitverf nie,” sê Nicola. “Ons is gelukkig dat ons groot vensters en voldoende lugsirkulasie het. Vir ons was dit ’n goeie oplossing wat in ons begroting gepas het.

“Al is die teëls maklik om skoon te maak, kan die verf met ’n skerp voorwerp afgekrap word. Ons het die teëls in twee storte gespuitverf en die een wat ons die meeste gebruik, wys ná ’n jaar al merke. Op die ou end sal ons die teëls uitkap, maar intussen is dit maklik om enige kap- of krapmerke te herstel.”

Koste

Hortjies en installering R4 500
Vloerteëls en bykomstighede vir teëlwerk R3 350
Spuitverf vir teëls R1 300
Muurverf R600
Wasbakkas R4 500
Wasbak R450
Mengkraan vir wasbak R1 500
Badkrane R250
Spieël R500
Handdoekreling R400
Ander bykomstighede R1 080

TOTAAL R18 430 

Die afwerking

Vloer- en stortteëls, krane, spuitverf
Builders (0860 284 533, builders.co.za)

Wasbak
Italtile (0861 555 109, italtile.co.za)

Spieël
Nest Vintage Shop (082 935 2544, stellenbosch-unlimited.co.za/nest)

Handdoekreling
The Shed (076 560 0541, ericatheshed.co.za)

Hortjies
Stellenbosch Blinds and Shutters (021 883 3783)