Foto’s Francois Oberholster en Henrique Wilding • Stilering Marian van Wyk

Swellendam, Lisa, lounge, fireplace, makeover, din

Kaggel #1

Toe Lisa Spaarwater en haar man, Michael Muller, ’n paar jaar gelede verlief raak op die 100 jaar oue huis op Swellendam waar hulle nou woon, was dit beslis nie die kaggel wat die transaksie beklink het nie.

“Die donker dwarslêers reg rondom was net te morbied. Ons wou dit stroop en eenvoudiger afwerk. Boonop was die muur spierwit – klaar genoeg rede om in te gryp!” lag Lisa van Lemon & Lilac Paint Techniques.

Swellendam, Lisa, lounge, fireplace, makeover, din

Die kaggel spog nou met ’n gesellige dog moderne baadjie. Die blouerige steenkoolgrys muur (Plascon Chiaro) pas perfek by die wit plafon en ryk amber kleur van die Oregondennehout rondom die kaggel. Donkergrys kombers van MRP Home, mat van Coirtex; keramiekbees op kaggelrak) van Ceramic Factory

Skoner lyne

Michael het die taak op hom geneem om die kaggel reg te ruk. Hy het die buitenste dwarslêers afgebreek en vervang met ’n eenvoudiger omranding van 110 mm- Oregondennehoutplanke.

Omdat dié houtwerk net aan die buitekant van die kaggel is en die skoorsteen goed trek, sal dit nie brand of swart word weens rook nie. Michael het die hout met Genkem Nova 30 behandel teen verrotting en boorwurm.

Die onderste dwarslêer is wel behou omdat dit as goeie basis dien vir die kaggel se ontwerp, verduidelik Michael. “Dit was die enigste deel van die oorspronklike ontwerp wat aanvaarbaar was. In die winter braai ons gereeld in die kaggel en die dwarslêer is lekker stewig en breed genoeg om my braaibak en toebehore op neer te sit.”

Swellendam, Lisa, lounge, fireplace, makeover, din
Ek voel baie gemakliker met ’n donker muur – dis beslis geselliger, en perfek vir kaggelaande en rooiwyn. – Lisa

Hoewel die kaggel nou ’n meer kontemporêre baadjie het, pas dit steeds by die styl en ryk geskiedenis van die ou huis – danksy die Oregondennehout. Lisa vertel die vorige eienaar het ’n hoop van dié planke op die werf gelos; dit het Michael toe ook geïnspireer om ’n groot boekrak te bou wat die TV en lugreëlaar verbloem.

Om als netjies af te rond, het Lisa die mure met ’n blouerige steenkoolgrys verf (Plascon Chiaro) afgewerk.

“Ek weet dit klink ’n bietjie verkeerdom, maar met ’n versigtige hand wat óm die boekrak verf, het alles op die ou end oukei uitgewerk!”

Kaggel #2

Die gesellige huis van Letitia Watson en haar man, Charl, is weggesteek in ’n stil straatjie in boomryke Durbanville buite Kaapstad. En soos dit maar gaan met besige ma’s, hou haar twee dogters, Milandre en Karoline, haar so besig dat sy selde tyd het om by huisopknapprojekte uit te kom. En dié gesin se kaggel het om aandag gesmeek!

Die losstaande kaggel van swart metaal is gemonteer op ’n voetstuk wat met terracotta-teëls bedek was. Hoewel prakties, was dit net te donker na die Watsons se smaak.

“Teen die ligte muur en ligte vloer het dit soos ’n seeroog uitgestaan,” vertel Letitia, ’n sakeskrywer. “Boonop het die hele ruimte vir my leweloos gevoel, ondanks die mooi skildery teen die muur.”

Plakpapier van Smart Art; hittebestande vinielteëls en Krabbel-muurkuns van De Waal Art; mat en houtmandjie van Weylandts; houtskool Salsa-stoel van Woodbender; gehekelde poefs van PommePomme; groot Crittervloerkussings van Design Team; bekers van Woolworths

Ons hele gesin is lief vir lees en bordspeletjies; die Krabbel-letters pas inderdaad perfek by ons. – Letitia

Kleur gee lewe

Letitia het op Tuis se nommer gedruk, en ons het die opknap-ghoeroe Lecia de Waal van De Waal Art ingestuur om die kaggelhoek reg te ruk.

“Vir die groot muur regs van die kaggel het ek ’n donkerkleurige PVA van Duram (Satin Touch in die kleur Inneswood) gekies om die groot oopplanvertrek snoesiger te laat vertoon,” vertel Lecia. “Die vloerlys rondom die voetstuk het ons afgerond met ’n wit waterbasis-emaljeverf. Dit werk wonderlik, want dit drup nie so maklik nie en jy kan jou kwas met water skoonmaak.”

Die muur agter die kaggel is met plakpapier bedek omdat dit die fokuspunt in die vertrek is. “In ’n klein area soos dié is dit maklik genoeg om plakpapier self te hang.

Al wat jy nodig het, is plakpapiergom en geduld – en natuurlik ’n paar ekstra hande!” Op die voetstuk van die kaggel het Lecia vinielteëls gebruik. “Ek het hittebestande vinielteëls laat maak met die voorkoms van afgewitte hout wat by die nuwe plakpapier pas. Die viniel is selfklewend, en daarom baie maklik om te installeer. Maak net seker jou oppervlak is stofvry en glad, sodat die viniel behoorlik kan kleef.”

Kaggel geroes?

Letitia se kaggel was nog in ’n goeie toestand. Maar as joune geroes is, oorweeg ’n laag spesiale verf. Probeer Duram NS7 Heat Resistant Paint (beskikbaar in swart of silwer aluminium) of Plascon Fireplace Paint (net beskikbaar in swart). Geen onderlaag is nodig nie.

Berei die oppervlak só voor: Gebruik ’n draadborsel, of skuur die kaggel sodat alle roes en verf wat afdop, verwyder is. Jy moet ’n skoon metaaloppervlak hê. Maak skoon met Duram NS2 Galvanized Iron Cleaner of Plascon Aquasolv Degreaser. Spoel goed af, laat die metaal droog word en verf so gou moontlik. Wend ’n tweede laag aan nadat die eerste laag goed droog is.

VERSKAFFERS