Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Karin Shaw

WAAR Walmer, Port Elizabeth

GROOTTE 12m2

Vir 20 jaar het die ywerige selfdoeners Karin Shaw en haar man, Philip, hul Baaise huis op hul tyd en met groot vreugde ingerig nes hulle dit wou hê.

Een van die projekte wat hulle nog saam wou aanpak, was die vernuwing van die hoofslaapkamer se en suite-badkamer, maar Philip is oorlede voor hulle daarby kon uitkom.

Dis toe dat Karin besluit sy gaan dit op haar eie aanpak, in ’n poging om haar op te beur.

“In vergelyking met die res van die huis, het dié vertrek sleg afgesteek,” onthou sy. “Die oorgeverfde kaste en teëls was regtig ’n seeroog.”

Sy het ’n paar idees gehad, maar daar het niks van gekom nie – tot haar dogter Amy voorgestel het sy ontbloot een van die baksteenmure.

“Ek het gehou van dié idee. Die ontwerp van die badkamer is eenvoudig gehou sodat die muur al die aandag kon trek,” verduidelik Karin.

Sy het die hulp van ’n bouer, loodgieter en elektrisiën ingeroep, en ook self moue opgerol: vrou-alleen het sy al die ou toebehore uitgehaal, teëls afgekap, die mure geverf, sweefrakke geïnstalleer – en natuurlik die treffende fokusmuur geskep.

Die luukse bad staan voor die baksteenmuur (waar die wasbak eers was) met ekstra ruimte weerskante wat sy sjiek kurwes beklemtoon. Karin het die ander mure met Artisan Satin Cote in ’n liggrys kleur geverf vir ’n sagte, rustige atmosfeer. Die ou vloerteëls is vervang met 60 x 60cm-porseleinteëls in die kleur Metropolis Grey van CTM.

Hanglamp van Selective Lighting; mat van takealot.com

WENK
Al kan hanglampe enkandelare ’n romantiese atmosfeer in ’n badkamer skep, moet jy seker maak jy kies dié wat verseël is en geskik is vir gebruik in ’n badkamer.

Só maak jy

Skep jou eie treffende baksteen-fokusmuur. Karin verduidelik hoe:

Ek het begin deur die pleister met ’n hamer en beitel af te kap. Maar dis ’n baie ou huis en die pleister was amper 3 cm dik, toe vra ek die bouer om dit met ’n ligte klopboor te verwyder.

2 Daarna het ek al die orige pleister en sement met my hoekslyper afgeskuur. Dit was so ’n gemors – alles was die ene rooi stof van die bakstene daaronder.

3 Ek het al die krake en gate met ’n klaargemengde pleister opgevul.

Pasop net: Ek het sonder handskoene gewerk en die growwe mengsel het van die vel van my hande afgeskuur. Vir ’n paar weke het ek nie vingerafdrukke gehad nie, maar dit het mettertyd herstel. Toe span ek weer my hoekslyper in en het ek die kleiner gate met Smith & Co. Patching Plaster opgevul.

4 Om die pleisterwerk netjies af te werk, het ek dit geskuur sonder om al die sement te verwyder, wat toe ’n effens ruwe voorkoms geskep het. Daarna het ek die hele oppervlak met suikerseep gewas.

5 Uiteindelik het ek die muur geverf met Plascon Super Acrylic in White; ek het ’n amper droë kwas gebruik, want ek wou nie ’n soliede verflaag hê nie. Toe die verf droog was, kon ek die muur verseël met twee lae deursigtige Mattseal van Paintsmiths.

Ek is so trots op die eindresultaat; ek dink Philip sou ook dol daaroor gewees het! – Karin

Aan die werk ...

Karin kon die ou stort se raamlose glas weer gebruik. Die opgeboude rand om die stortvloer is verwyder vir ’n meer byderwetse voorkoms – dis nou gelyk met die grond. Die dubbele glasdeur is bedek met viniel met ’n sandblaas- effek; die doringboom-motief is geïnspireer deur Karin en Philip se voorliefde vir bosveldsafari’s.

2 Karin het nooit van die outydse gevoel van die twee klein vensters gehou nie, toe laat sy die een in die stort toebou en die ander een vergroot; die ou staalrame is met aluminium vervang en die ou diefwering met deursigtige stawe vir ’n moderne voorkoms. Die nuwe toilet en stort is op dieselfde plek as die oues.

3 Karin het die muurteëls, wat sowat driekwart van die muur bedek het, afgekap. Sy het ’n dubbeldeur by die ingang van die badkamer ingesit om ’n gevoel van meer ruimte te skep.

V&A met Karin

Wat geniet jy die meeste van jou nuwe badkamer?

Die oop, vars gevoel, die viniel-doringboom op die skuifdeur, die hanglampe wat ’n pragtige effek teen die baksteenmuur skep, en die toiletsitplek wat vanself weer toemaak!

Watter raad het jy vir ander opknappers?

  • Stel ’n begroting saam, maar hou ook ekstra geld eenkant, want jy gaan waarskynlik meer uitgee as wat jy beplan.
  • Moet oor niks oorhaastig besluit nie.
  • Maak seker jy dra ’n ordentlike veiligheidsbril en -skoene!

Wat’s volgende? 

Ek wil graag die oorblywende staalraamvensters vervang met aluminium en ’n patio buite die eetkamer bou. Maar ek wag eers dat my geldsake beter lyk ...

Kostes

Totaal: R51 858

Bad 8 219

Wasbak en kas 5 862

Muurgemonteerde toilet 2 549

Ander sanitêre ware, insluitend krane 5 249

Teëls, kleefmiddel, voegbry 4000

Verf, seëlaar 1 200

Hanglamp 2 439

Loodgieterswerk 10 000

Elektrisiën 1 540

Teëlaar 2 300

Boukontrakteur 8 500

DIE AFWERKING

Bad Builders 0860 284 533

Wasbak en kas Plumblink 0860 758 625

Teëls CTM 010 003 9987

Verf Jack’s Paint & Hardware 0860 522 577

Hanglampe Selective Lighting 041 365 2636

Skuifdeure Angel Designs for Gracen (041 581 0816); Mr Tint (041 364 1151)

KONTAKTE

Boukontrakteur Adams and Hearne 041 457 3995

Loodgieter Plumbing Plus Incorporated 079 550 2266

Elektriese werk Electrical Solutions 041 371 5349 

Uithaal en herinstallering van stortglas Gridline Architectural Products 041 581 0420