Wie woon hier? Amora en Merwe Erasmus
WAAR Hersham, Groot-Brakrivier
GROOTTE 261m2

Amora en Merwe Erasmus het hul vakansiehuis in 2016 gekoop. Die plan was destyds om net die voorstoep en braai-area op te knap, maar toe die bal eers aan die rol is, was daar nie keer aan die projek nie; dit het ontaard in ’n regruk van voor tot agter. Trouens, die paartjie was so beïndruk met die eindproduk dat hulle besluit het om dié huis hul permanente tuiste te maak. In September 2017 het hulle hul huis in Lonehill, Sandton, verkoop en sak en pak Groot-Brak toe getrek.

“Nou bly ons alte lekker hier en ons kinders en kleinkinders kom kuier gereeld uit Gauteng!” sê Amora.

In dié oopplanruimte omraam die venster ’n ongelooflike uitsig op Mosselbaai en die Indiese Oseaan. Hier bak Amora en Merwe se kleindogters, Nastassja (5) en Michaela (2), graag in die sonnetjie!

Benewens die voorkant van die huis wat hulle uitgebou het ter wille van ’n leefarea met ’n asemrowende uitsig, het die paartjie ook die oorspronklike vloere vervang met sement, die binne- en buitekant geverf, al die dekor vernuwe en selfs ’n tweeslaapkamer-kothuis gebou vir ekstra akkommodasie – als in net vier maande!

FASADE

Die huis front suid, en ’n stoep van 60 m2 is aangebou om die lieflike uitsig ten volle te benut. Drie groot gewels is aangebou, met vensters wat natuurlike lig inlaat. Die buitemure is geverf met Prominent Paints se Vintage White. Regs staan ’n tweeslaapkamer-kothuis wat die Erasmusse vir gaste opgeknap het.

LEEFAREA

Waar eers ’n smal, saai dek was, is nou ’n heerlike uitspanplek met stapeldeure. ’n Oorwegend wit binneruimte en ontblote balke skep ’n naatlose voorkoms en vars atmosfeer.

Pasgemaakte driehoekige glaspanele van 2 x 3,5 m breed in die oop dakruimte laat so veel moontlik lig in.
Kaggel van Hot Art

"Die uitsig deur dié venster verander elke uur. Sonsondergange oor die baai is veral in die somer ongelooflik mooi." – Amora

Eetarea

Die ou eetkamer het donker en beknop gevoel. Dis nou deel van die oopplanarea met ’n binnebraai, sitkamer en kombuis. Die ou houtvloere is vervang met wit CreteCote van Cemcrete. ’n Binnebraai van vlekvrye staal verskaf ’n tikkie elegansie.
Eikehout-eetkamertafel (3 m) van Bespoke Design, ontwerp en gemaak deur Meyer von Wielligh Furniture Design; lang bank van Beachsand

Sitkamer

Die sitkamer se ontblote baksteenmuur is iets wat Amora in ’n ou uitgawe van Tuis gesien het en besluit het om hier na te doen. Sy het ook haar hart verloor op ’n kas met sifdeure wat sy op Pinterest gesien het, en toe iets soortgelyks by The Trading Post op George laat maak; sy het dit met wit krytverf afgerond.
Dientafel van Arabesque; yskas van Smeg

Kombuis

Mure aan weerskante van die kombuis is uitgebreek om dit deel van die oopplanleefarea te maak. Die kombinasie van ruwe bakstene, natuurlike hout, spatsels ligblou en ’n fantastiese uitsig het die kombuis in ’n droommooi ruimte omskep. Die verfkleur op die kasdeure is spesiaal gemeng om by die Smeg-yskas te pas.
Kroegstoele van Orejen

Hoofslaapkamer

Amora het die aksentmuur in die slaapkamer geverf met ’n houtskool skakering wat sy by Paintsmiths laat meng het. Die inspirasie daaragter was Tuis se Junie 2016-voorblad. Sy het ook haar hart verloor op die Tretchikoff-afdruk, en ná ’n paar oproepe kon sy Lisa Spaarwater van Lemon & Lilac op Swellendam opspoor wat die einste afdruk aan haar verkoop het.

Badkamer

Al wat oor is van die ou badkamer is die losstaande bad. Die outydse ingeboude stort is vervang met ’n oop, kontemporêre ontwerp; daarby is ook ’n nuwe sementwasbakkas gebou.

Aantrekkamer

Die kaste van gelamineerde eikehout in die aantrekkamer is wit gespuitverf vir ’n vars, nuwe voorkoms. Ook hier het die mure ’n laag wit verf gekry.

V&A met Amora

Wat was die grootste uitdaging tydens die opknap?

Houtvloere is gewoonlik hol onder sodat dit kan “asemhaal”, en dit was nogal ’n storie om dit op te vul voor ons die sementvloere kon gooi! Die holte was heelwat groter as wat ons verwag het omdat die huis skuins loop na die see se kant toe; dit was op die hoogste punt sowat 70 cm diep!

Waar kry jy inspirasie?

Uit my stapels Tuis-tydskrifte! Ek het idees gekry vir als van geverfde meubels, sementvloere en ’n rustieke kombuis tot die ontblote baksteenmuur en die hanglampe bo die bedtafeltjies! Ons hou van eenvoudige, aardse dekor en het natuurlike hout en verweerde meubels gebruik om dieselfde gevoel te skep.

Watter raad het jy vir ander opknappers?

Wees dapper – wees baie dapper!

Enige geldspaarwenke?

Gee jou ou meubels nuwe lewe met ’n laag verf.

Wat is volgende?

Ons projek is klaar! Dit was ’n wonderlike ervaring, maar ons is verlig dat dit verby is.

DIE AFWERKING
  • Boukontrakteur FJ Johnson Boukontrakteur (082 465 8780)
  • Cemcrete-installering Eldrie Contractors (082 321 4394)
  • Wit houtblindings Windovert (044 873 6646, windovert.co.za)
  • Stapeldeure en vensters BAYCO Glass & Aluminium (082 446 5834)
  • Verfkontrakteur Welcome Zondi
  • Verf
    • Buite: Eden Paints (044 884 1407); (078 833 6312)
    • Binne: Annie Sloan (anniesloansa.co.za), House of Turquoise (082 527 2373), Paintsmiths (021 447 0217/14, paintsmiths.co.za)
  • Spuitverfwerk op slaapkamerkaste Deon le Roux (073 122 9650)
  • Loodgietwerk Plumlec (083 302 9310)
  • Kombuisinstallering Simply Kitchens (083 723 1016)
  • Blad op kombuiseiland Shipwreck Furniture (073 258 7800, shipwreckfurniture.com)
  • Binnebraai van vlekvrye staal Multi Metal Projects (044 873 6454)
  • Bykomstighede
    • Arabesque (082 494 6313, arabesque-shop.com)
    • Beachsand (044 690 3999, beachsand.co.za)
    • Bespoke Design (044 873 2454, bespokebyeddiedasilva.co.za)
    • Hot Art (044 343 1123, hotart.co.za)
    • Lemon & Lilac (082 964 4254, lemonlilac.co.za)
    • Meyer von Wiellligh Furniture Design (021 462 6470, meyervonwielligh.co.za)
    • Orejen (011 888 6811, orejen.co.za)
    • The Trading Post (083 309 5995)