Foto’s Francois Oberholster

Alles in proporsie

Die huiseienaar en binneontwerper Wouter le Roux deel sy topwenke vir ’n klein ruimte:

Kies liggewig-meubels “Deursigtige” stoele, ’n rusbank op pote en veeldoelige of modulêre meubels soos nestafeltjies of ’n sytafeltjie wat oor die rusbank se armleuning skuif, is goeie opsies.

Bring hoogte in met ’n hoë staanlamp, plante, en deure wat tot teen die plafon strek.

Meer lig is beter Kies afwerkings wat die natuurlike lig weerkaats, soos vloere in ’n ligte kleur of glasdeure as verdelers. Met verdofskakelaars – selfs in die badkamer en onder toonbanke – kan jy altyd die gewenste luim skep, of jy nou gaste vir skemerkelkies oornooi of jou in ’n kunsvlytprojek verdiep. Moet net nooit atmosfeer- en taakbeligting meng nie!

Maak pakplek Slim oplossings is noodsaaklik, veral vir die vyf “gruwels” van ’n klein woonstel: die mop, stofsuier, strykplank, vullisblik en groot reistasse.

Een in, een uit Wanneer jy ’n nuwe paar skoene koop, moet jy ’n ou paar aan jou naaste skuiling skenk. Daar is nie plek vir Imelda Marcos-versamelings nie! Dieselfde geld huis- en kombuisware.

Kleur As jy donker kleure slim inspan, kan dit die illusie van ’n groter ruimte en ’n weelderige atmosfeer skep, maar die geheim is om die palet af te wissel met treffende aksente, ligte tone, wit rande en kontras.

Kragpunte Bestee ’n bietjie ekstra en installeer ’n groep elektriese en USB-punte aan weerskante van die bank. Daar behoort minstens een so ’n kragpunt in elke hoek van ’n vertrek wees. Só vermy jy lelike, ongerieflike verlengkabels.

Wees dapper Vat ’n paar kanse! Binneontwerp moet pret wees en jou persoonlikheid weerspieël – jy kan altyd weer die voorkoms verander. Dit gaan jou nie bankrot maak as jy iets oor vyf of 10 jaar moet oorverf of herstoffeer nie. Kies wel die beste gehalte vir permanente afwerkings. 

’n Metaalkabinet word as TV-kas gebruik. Die twee kunswerke is stukke handgeborduurde Chinese sy wat Wouter agter ’n groot hoop afdrukke by ’n Decorex-stalletjie ontdek het.

WIE WOON HIER?

Wouter le Roux en Brendon Foster

WAAR Chelsea Village, Wynberg

GROOTTE 67 m2

Novilon wat afdop, ’n outydse kombuis, afgeleefde badkamer en sjokoladebruin volvloermatte het Wouter le Roux baie gelukkig gemaak toe hy dié woonstel in Wynberg se byderwetse Chelsea Village die eerste keer sien. Waar dit vir ander net moeilikheid voorspel, het hy potensiaal raakgesien.

“Die woonstel het ’n eenvoudige dog funksionele uitleg gehad,” verduidelik Wouter van Hello Charlie Interior Design Studio. Die slaap- en badkamer is van die leefareas geskei, daarom was dit nie nodig om mure uit te breek nie. Nog ’n bonus was die oorvloed natuurlike lig danksy groot vensters.

Toe Wouter en sy lewensmaat, Brendon Foster, die woonstel in November 2018 koop, was hulle van plan om dit permanent te verhuur. Maar dié planne het gou verander.

Brendon verduidelik: “Ons het besef ons kon ’n goeie huurinkomste verdien met ons groter woonstel in Rosebank, waar ons toe gewoon het.”

’n Maand later het Wouter en Brendon by die nuwe woonstel ingetrek, met bruin mure en al. Wouter weet hoe belangrik dit is om eers ’n ruimte gewoond te raak voor jy veranderings aanbring; só kon hy die opknap tot in die fynste detail beplan – soos waar hy die stofsuier gaan bêre sodra die stof gaan lê het. Vier maande later, in April 2019, het die bouers aangemeld. Wouter het na ’n tydelike blyplek getrek, en Brendon was in Johannesburg vir werk.

Die Eero Saarinen Tulip-tafel en -stoele neem ’n ereplek in die sitkamer in, pragtig omraam deur houtlyste teen die muur. Wouter se oupa Hannes Bekker het dié klassieke ontwerp uit die 1950’s in Switserland gekoop, waar hy in die sewentigerjare gewoon het. Toe hy dit twintig jaar later Suid-Afrika toe bring, was dit vir die 10-jarige Wouter liefde met die eerste oogopslag. Amper twee dekades daarna het sy oupa dit vir hom gegee. 

Gelamineerde vloere in die ontwerp Krono Nevada Oak van SQM Flooring; skildery deur André du Toit  

Staalraamdeure deur Hello Charlie Interior Design Studio; kanttafel van Chair Crazy

Die opknap

Die woonstel, gebou in 1951, het heelwat uitdagings en onvoorsiene uitgawes ingehou. “Die ergste was die badkamer. Dit het lae en lae pleister gekos om die skewe mure reguit te maak; die ou, geroeste waterpype moes ook dringend vervang word. Dit alles het enorme eise gestel aan die beplande tydlyn van drie weke,” onthou Wouter.

Al die matte in die leefarea en slaapkamer is vervang met gelamineerde vloere in ’n ligte eikehoutkleur vir naatlose vloei van die voordeur tot die slaapkamer aan die teenoorgestelde kant van die woonstel. Die kombuis en badkamer het eenderse vloerteëls gekry.

Die kombuis is geheel en al herontwerp in swart met hoëglans-afwerkings, ingeboude toestelle en oorgenoeg versteekte pakplek – ook oop rakke met plek vir 40 borde en soveel glase dat Wouter nie eens die presiese getal wil noem nie.

“Daar’s ’n rede daarvoor,” sê hy laggend. “Die kombuis word gereeld tot die uiterste beproef wanneer ons partytjies hou vir meer as 20 mense.”

Albei is baie ingenome met die resultaat. “Ons is gaande oor ons plek; dis ongelooflik gemaklik. Omdat dit so klein is, is alles wat hier is vir ons kosbaar. Jou huis moet ’n toevlug wees waar jy kan ontspan en van jou dag kan vergeet. Dit is wat ons hier geskep het.”Vierkantige teëls in ’n roosterpatroon op die vloer is taboe in ’n moderne ruimte! “Kies liewer reghoekige teëls (of laat vierkantiges in ’n reghoek sny) en lê dit in strykverband op die vloer – dit skep beweging en ’n interessante patroon,” sê Wouter.

Dubbeldeure aan weerskante van die leefarea skep ’n ruspouse waar die portaal op die leefarea oopmaak en ook tussen die leefarea en die badkamergang. “Ek het die onderste panele effens groter gemaak, met riffelglas, om die hoogte te beklemtoon.”Vir Wouter is goed beplande beligting ononderhandelbaar: “Jy kan ’n fortuin op die pragtigste dekor uitgee en dit dan bederf met ’n helder sentrale oorhoofse lig. Ons het geen sentrale plafonligte nie; alles word met verdofskakelaars beheer en saam met vloer- of tafellampe gebruik.” Wouter het die hasie-lamp jare gelede by MRP Home gekoop en gespuitverf.

 Wouter, Brendon en hul vriende het intense debatte gehad oor of die kombuis deel van die leefruimte moet wees al dan nie. Wouter het hom laat lei deur wat hy tydens sy verblyf hier voor die opknap ervaar het: “Enige deurmekaarspul is ‘weggesteek’, en as ’n aparte vertrek is die kombuis nou nóg ’n toevlug in die klein woonstel.”

Kombuiskaste en -rakke deur Hello Charlie Interior Design Studio; mat vloerteëls van Rock SQM Flooring; 6mm-Fiandre Unipepper-werkblaaie van porselein van Stonehenge Marble & Granite

Wouter het reghoeke en vierkante in die oop staal-en-eikehoutrakke gekombineer om uitstal-areas te skep. “Met die paar oop rakke het die kombuis ’n soort leefruimte geword waar ons boeke en snuisterye van ons reise en van vlooimarkte met alledaagse kombuisware kan kombineer.”

[WOUTER SE ONTWERPRAAD VIR ’N KLEIN KOMBUIS]

“Dit hang alles van jou leefstyl af!” sê hy. “Gelukkig raak toestelle nou kleiner, en jy kan meer in ’n klein ruimte inpas.” Hier is ’n paar dinge wat vir hom noodsaaklik is:

• Maak plek vir ’n volgrootte-yskas – kroegyskaste is net vir studente en kroeë!

• Benut soveel toonbankruimte moontlik – steek noodsaaklike toestelle agter deure weg en haal dit net uit wanneer nodig.

• Maak die beste gebruik van die pakplek in kaste met items soos uittrekmandjies en speseryrakke.

• Vermy gasstowe, want dit straal baie hitte uit; gebruik liewer ’n induksiestoof, wat baie vinniger en doeltreffender is en makliker skoonmaak. Dit werk ook goed op ’n smal toonbank en neem minder ruimte in beslag. ’n Ooghoogte-oond is prakties, aangesien dit jou meer ruimte onder die toonbank gee.

• Belê in afwerkings en toonbanke van goeie gehalte. Só skep jy ’n gesofistikeerde voorkoms. En aangesien dit ’n klein ruimte is, gaan dit nie jou sak ruk nie.

• Kies ’n diep enkelwasbak pleks van ’n dubbelwasbak – dit neem minder plek in beslag.

• ’n Kombuis is baie belangrik vir die waarde van jou eiendom – maak seker dat dit die uitgawe werd is!

‘Ek’s ’n opgaarder vermom as ’n minimalis’

Wouter het goed daarin geslaag om tydlose artikels – soos sy oupa se oorspronklike Tulip-tafel en -stoele – met kontemporêre stukke te kombineer en ekstra karakter te skep met treffende bykomstighede. “Ek het ’n voorliefde vir minimalisme en skoon lyne, want dit laat jou oë ononderbroke deur ’n ruimte beweeg. Maar ek geniet dit ook om hartsgoed te versamel en uit te stal. Ek is seker ’n opgaarder vermom as ’n minimalis,” bieg hy.

Huisplante is ingespan om harde argitektoniese lyne te versag. “Elemente uit die natuur verleen tekstuur en kleur sonder om met ander skakerings in die ruimte te bots,” sê Wouter.

Sy liefde vir donker kleure om ’n tikkie drama te skep, is duidelik te sien in die woonstel. Aangesien die kombuis en die badkamer uit die ingangsportaal sigbaar is, het Wouter swart as aksentkleur in al twee vertrekke gebruik. “Die idee was om die kombuis, wat naaste aan die voordeur is, as wegspringplek in die swart palet te gebruik,” verduidelik hy.

Die tema word subtiel in die leefarea herhaal met swart ligtoebehore, plafonwaaiers, staaldeurrame, ligskakelaars en kragproppe, en bereik dan ’n hoogtepunt in ’n bykans heeltemal swart badkamer. Ondanks sy liefde vir vars wit en donker kleure wou Wouter ’n rustige, eenvormige kleur vir die leefareas en slaapkamer hê.

“Die sitkamer kry heelwat natuurlike lig, daarom het dit logies gevoel om dié ruimte oop en ontspanne te hou. Ons het deur heelparty verfkaarte gewerk, tot een van my handelsverskaffers by Dekro Paints tot ons redding gekom het met die kleur Shady Knoll. Dit het die perfekte verhouding van grys tot olyfgroen, afhangend van hoe die lig daarop val.”  

Equipe Spain-muurteëls in die kleur Moss Green van Limegreen Sourcing Solutions 

[NADAT DIE STOF GAAN LÊ HET...]

Kunswerke Pleks van alles op oogvlak hang (volgens die goue reël), is dit vir my interessant om ’n paar effens laer te hang: Stel jou voor ’n knus hoek met ’n stoel en kanttafel en ’n pragtige kunswerk op oogvlak wanneer jy sit. Dieselfde beginsel geld die vloerruimte en ’n treffende mat wat ook ’n “kunswerk” kan wees.

Matte anker ’n ruimte; dit skep ruimtelike definisie tussen die eet- en leefareas in ’n oopplanvertrek waar meubels geneig is om te “dryf”.

Proporsie is belangrik: Maak seker jy kies die regte grootte vir jou ruimte; die mat moet onder die rusbank en stoele se voorste pote lê. Proporsie Probeer vermy dat al die meubels en bykomstighede dieselfde hoogte, kleur en styl het, want dit kan ’n ruimte saai en bewegingloos laat lyk. Kies wel een artikel om ’n ruimte te anker – soos ’n groot rusbank. Bykomstighede, nie noodwendig in dieselfde styl nie, moet die algehele voorkoms van die ruimte aanvul. ’n Fyn balans tussen “swaarder” artikels, soos ’n rusbank of staanlamp, en “ligter” artikels, soos stoele en ’n koffietafel, sorg vir perfekte proporsie in jou leefruimte.

As jy twyfel Soms knip ek sommer koerantpapier so groot soos ’n bepaalde item om te sien hoeveel ruimte dit in beslag sal neem. Ek glo dat ’n tegniese tekening jou nie altyd die volle prentjie gee nie en dis soms ’n goeie idee om dit fisies te sien. 

Lang, smal staanlampe as bedlampe in die kompakte slaapkamer skep meer plek op die bedkassies.

Blindings en kopstuk van Hello Charlie Interior Design Studio; chartreuse deken van Hertex Haus; bedkassie van Popstrukt

Omdat die slaapkamer vensters het wat noord én oos front, is UV-rolblindings en uitblokgordyne ’n moet. Die vorige eienaars het die onderste helfte van die vensters aan die straat se kant laat sandblaas vir privaatheid. Verf en nuwe handvatsels het die ingeboude kaste vernuwe. Mat van Hertex Haus

Vir die ingangsportaal het Wouter lasergesnyde metaalrakke ontwerp. Boeke en uitstalgoed verberg die boute waarmee dit teen die muur vasgesit is.

Muur geverf met Dekro Paints Shady Knoll; metaalrakke deur Hello Charlie Interior Design Studio

[AS JY ’N HUUREIENDOM OPKNAP]

Al woon Wouter en Brendon nou permanent hier, het hulle die woonstel opgeknap met die plan om dit te verhuur.

Hier is Wouter se wenke as jy dieselfde wil doen:

Grootte tel Die voordeel van ’n klein woonstel is dat dit redelik bekostigbaar is om die hele ruimte na hartelus op te knap. Die balans tussen huuropbrengs en jou kapitaaluitgawes of verbandterugbetalings is beter in klein een- of tweeslaapkamerwoonstelle. In ’n relatief lae prysklas in Kaapstad, byvoorbeeld ’n eiendom van R1,5 miljoen, kan jy ’n huurinkomste van sowat R15 000 per maand vir ’n pragtige woonstel kry. Maar jou kans is veel kleiner om ’n huis van R4 miljoen teen dieselfde verhouding te verhuur, dit wil sê vir R40 000. Met kleiner woonstelle kan jy jou risiko ook makliker oor verskeie huureiendomme versprei, pleks van met een duur huis waar al jou eiers in een mandjie is.

Koop jy ’n opgeknapte plek of nie? Wanneer jy ’n reeds opgeknapte eiendom koop, kry jy ’n standaard-interieur wat in elke Jan Rap en sy maat se smaak moet val – dink beige mure, ’n wit kombuis en stroke mosaïekteëls in die badkamer. Jy sal meestal ook meer betaal vir so ’n opgeknapte eiendom. ’n Lelike eendjie, soos die een wat ons gekoop het, gee jou die kans om fyn ontwerpersdetail by te voeg.

Mat porselein-muurteëls en mat Rock-teëls op die stortvloer van SQM Flooring; Lazio-wasbakkas met Genova-mengkraan van Continental Bathroom Supplies; spieël met LUD-lig van Arkivio; stortpaneel deur Hello Charlie Interior Design Studio

’n Swart palet gee die badkamer ’n manlike gevoel en skep die illusie van ruimte; die wit muur oorkant die venster weerkaats lig in die vertrek.

TOTAAL R276 986

Kombuis: Kaste, rakke, teëls, toonbanke, toestelle en sanitêre ware 117 730

Badkamer: Loodgieterswerk, sanitêre ware, teëls en toebehore 45 071

Bouerskoste 68 335

Elektrisiën 7 800

Vloerteëls en gelamineerde vloere (installasie ingesluit) 14 650

Lugversorging (installasie ingesluit) 18 000

Sweefrakke in ingangsportaal 5 400