Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE Stanley Cornelius en Candice Theunissen
WAAR Kaapstad
GROOTTE 42 m²

Candice Theunissen en Stanley Cornelius het in Maart 2017 ’n woonstel in Kaapstad gekoop met die doel dat hulle daar kon bly wanneer hul huis in Flamingo Vlei op Airbnb bespreek is.

Die paartjie, finaliste in ons Regruk met Flair-kompetisie van 2016, pendel reeds tussen Kaapstad en Wolseley waar hulle ’n ou skoolgebou, wat hulle Skoolhuisie noem, opgeknap het – tot groot lof van ons beoordelaars.

Maar noudat hulle dié 42 m²-woonstel in die stad so mooi en gerieflik ingerig het, is dit net so gesog as huurverblyf. “Ek het nog steeds nie my eie slaapplek wanneer ek Kaapstad toe kom nie!” spot Candice.

Die woonstel is reg in die middel van die Moederstad. “Dit was ’n leë dop vol bourommel toe ons dit gekoop het,” onthou Candice. “Ons kon glad nie by die deur inkom nie; ek kon skaars my kop by die deur inkry om te sien wat binne aangaan. Die muur wat die ruimte in twee verdeel het, was reeds afgebreek. Wat voorheen ’n eenslaapkamer-woonstel was, was kaal gestroop van elke liewe afwerking.”

Die stoel wat as bedtafeltjie dien was ’n skrootwerf-winskoop. “Dit het ’n aaklige kunsleersitplek gehad. Ons het die raam swart gespuitverf en ’n houtblad opgesit. Nou is dit my kosbaarste besitting!” sê Candice. Die linnedeken op die bed kom van ’n antiekmark in Frankryk en die hanglampe is jare gelede op ’n Weylandts-uitverkoping gekoop.

Toe die paartjie die woonstel gekoop het, was ’n deel van dié muur nie gepleister nie en hulle het besluit om dit net so te hou. Hulle het net die rande reguit gepleister en die stene verseël. Die klerekas was ’n Gumtree-vonds wat hulle afgeskuur en verseël het, en die maklikste en vinnigste oplossing vir die sementvloer was wit Plascon Floor Paint.
Handdoekstaander van POCO

Die woonstel se dekor is effens meer modern, meer retro as ons gewone styl. Tog werk dit vir my en is ek dol oor alles! – Candice

Candice het Faffie Smuts, ’n skrynwerker van Wolseley, gevra om met die kombuis te help. Hy het die behandelde populierhout vir rakke bo en onder die wasbak verskaf. Die paartjie het self die hanglampe gemaak uit onderdele gekoop by Eagle Lighting. Die vlekvryestaal-wasbak en retro-buffet was Gumtree-vondste en die staal-eiland is op ’n veiling gekoop.

Dis in die detail
Die spatplaat agter die stoof is van veiligheidsglas wat My Glass Parklands gespuitverf het.

Toekomsplanne

Danksy die kosbare lesse wat Candice en Stanley met Skoolhuisie se opknap geleer het, wou hulle dié keer die beste bouers kry wat hulle kon bekostig. “Ongelukkig het ek nie my eie raad gevolg nie en halfpad deur die projek van bouer verander!” erken sy. Maar eind goed, als goed, soos die spreekwoord lui. En nou is die paartjie die trotse eienaars van ’n eenvoudige dog stylvolle stadswoonstel wat ook vir hulle ’n inkomste inbring.

Ondanks die bekommernis dat hulle nie altyd slaapplek het wanneer hulle vir werk stad toe kom nie, het Candice en Stanley geen planne om binnekort iets soortgelyks aan te pak nie. “Ons volgende projek is woonwaverblyf by Skoolhuisie. Ons stort nou al ons energie en aandag daarin en hoop om dit een van die dae gereed te hê.

“Uiteindelik wil ons ’n hele dorpie op ons stukkie grond naby Wolseley skep, met koel karavane wat ons kan verhuur. Eendag, wanneer ons meer geld het, sal ons weer ’n klein eenheid in Kaapstad of die Woodstock/Soutrivier-omgewing opknap, ook met die oog op korttermynverhuring.”

Candice het ’n inspirasiebord gemaak toe sy die dekor beplan het. “Ek het ’n voorliefde vir ’n boheemse Afrikastyl en moet my soms inhou.”

Candice het ’n kans gewaag met die lap waarmee sy twee ou stoele oorgetrek het. “Ek wou so graag groen as aksentkleur saam met al die plante gebruik en was omtrént verlig toe die kleur daarna gewild word!”
Hertex-lap in die kleur Emerald Velvet van Constantia Interiors; Nguni-vel gekoop op Gumtree; plantsakke van Skinny laMinx; ysterbed van King Olaf; hanglamp van superbalist.com

Omdat Candice ’n gevoel van weelde in die klein badkamer wou skep, het sy ’n 2 x 1 m-stort met raamlose glas laat insit. Twee wasbakke verskaf “hotel-gerief” in die Airbnb-huurwoonstel. Die badkamerdekor is skoon en sonder tierlantyntjies.
Spieël van Arkivio; bêrebokse van superbalist.com

Dis in die detail
’n Oulike koedoekop van MRP Home bring ’n tikkie Afrika in.
’n Gestroopte ruimte van net 42m2 verg verbasend baie rou materiaal om dit weer leefbaar te maak. – Candice

V&A met Candice

Julle het nou al ’n losstaande huis asook ’n woonstel opgeknap; is daar ’n verskil?

Die meeste woonstelle is deeltiteleenhede, waar jy die beheerraad se reëls moet volg! Ek moes deur baie dokumente werk en ses weke wag vir goedkeuring net om ’n gas- stoof te koop. Lees die fyndruk noukeurig as jy vertragings wil vermy. En sorg dat jy genoeg geld het vir ’n moontlike veiligheidsdeposito; ons moes R10000 neersit voor ons kon begin.

Is dit makliker om jou begroting vir ’n kleiner ruimte te bestuur?

Beslis. Minder items op die lys beteken minder verrassings!

Wat sou julle volgende keer anders doen?

Ek hoop om my eie raad te volg en seker te maak ek kry uiteindelik ’n betroubare bouer!

Wat was dié keer die grootste les wat julle geleer het?

Vertrou jou intuïsie. Ek het besef die oorspronklike staalraam-vensters moet vervang word om die straatlawaai uit te hou, maar het dit behou en die kiaatvensterbanke met liefde skoongeskuur. Ná verskeie klagtes van Airbnb-gaste moes ons dit toe later vervang met PVC-rame wat geraas verminder; ASAP PVC het dit op die mate van die ou venster- openinge gemaak en dis nou heelwat stiller.

Enige wenke om koste te besnoei?

Ons het oop rakke gekies pleks van ingeboude kaste; laasgenoemde is duur en dikwels ’n mors van spasie, veral vir korttermyngaste. Dit raak wel soms vol stof, maar alles is sigbaar, wat die inventarisnemery vergemaklik wanneer gaste vertrek. Ek is mal oor die vlekvryestaal-eiland wat ons op ’n veiling gekry het – dis so maklik om skoon te hou!   

Koste

Totaal: R88 610

Loodgietwerk R19 000
Bouer R8 000
Materiaal R6 000
Nutsman R6 000
Vloer- en kroonlyste R3 000
Elektriese werk R10 000
Houtblaaie in badkamer  R2 000
Vensters R21 000
Badkamertoebehore R6 200
Kombuistoebehore R5 300
Ligtoebehore R2 110

Die afwerking

Houtwerk Faffie Smuts (023 230 0524, thewoodwhisperer.co.za)

PVC-raamvensters ASAP PVC (072 106 2842)

Badkamerteëls Italtile (0861 555 109)

Spatpaneel in kombuis My Glass Parklands (0861 694 527)

Bykomstighede