Die vrou van die huis het so te sê al die opknapwerk in dié kombuis self gedoen – wys jou wat jy met ’n goeie skoot kreatiwiteit en harde werk kan vermag!

1113RENOrood-18

Die projek

Vir 15 jaar nadat Jenny en haar man, Louis, hier ingetrek het, het hulle die onvermydelike opknapwerk uitgestel. “Maar toe ons die lieflike blokkiesvloere onder die matte ontdek, was ons vuur en vlam!”

Die muur tussen die eetkamer en kombuis moes beslis uit. “Ek wou ’n oopplanruimte met losstaande kaste hê,” verduidelik Jenny, wat ’n Franse plattelandse voorkoms met ’n Karoo-kinkel wou skep. Nadat hulle die ou kombuiskaste verwyder het, kon hulle teëls lê en die mure afvlak en verf. “Dis ongelooflik watter verskil net ’n nuwe laag verf kan maak,” vertel sy.

Die hele kombuis spreek van dié vrou se vernuf: Toe die wasbak verskuif is, was dit sy self wat die stene gelê en die werkoppervlak met lateie en sement gebou het. Dit was sy wat die toonbank tussen die kombuis en eetkamer uit ’n dennehoutbed se basis geprakseer het. En wat die res van die werkblaaie van iroko-hout gebou het, platverpakte laaie aanmekaargesit het, die kasdeure met ’n verftegniek versier en ’n nuttige kruidenierskas van nuuts af gebou het. “Ek het al die hout by Lumber City laat saag en dit toe self aanmekaargesit,” vertel sy trots.

Al wat Jenny nou nog begeer, is ’n gasstoof-en-oond. Maar omdat sy gou verveeld raak, dink sy nie dis die einde van haar opknappery nie. “Ek is gedurig op die uitkyk vir ou meubels om nuwe lewe te gee,” lag sy.

Sy’s juis al weer besig om haar dogter en skoonseun te help met die opknap van húl huis!

Voor2011-03-03 14

2011-02-14 12

2011-03-16 08

1113RENOrood-06

1113RENOrood-13

1113RENOrood-04