Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?
Nina en Petrus Steyn, hul dogters, Jackie (5) en Pippa (2 maande), en die honde Dirkie en Katrien
WAAR Kenridge, Bellville
GROOTTE 110 m²

Ná drie jaar in hul knus drieslaapkamer-meenthuis in Bellville moes Petrus en Nina Steyn besluit wat die beste sou wees: aanbou of verkoop. Want in hul kop was die huis besig om te klein te raak vir dié groeiende gesin.

“’n Mens sal seker altyd dink jy het ’n groter plek nodig,” vertel Nina.

Maar toe hulle begin planne maak, het hulle besef die huis is eintlik die perfekte grootte. Al wat gekort het, was ’n goeie regruk.

Met die beginselbesluit geneem dat hulle nie gaan aanbou nie, kon die paartjie met die beplanning van hul regrukprojek begin. Nina en Petrus is albei dokters wat heeltyds werk, daarom het hulle verkies om projekbestuurders aan te stel. “Ons wou die kopsere van ’n opknapprojek liewer aan iemand anders oorlaat,” vertel Nina.

Die opknap het in Junie 2017 begin en die Steyns het vir die vier maande wat dit geduur het, elders gaan bly.

Noudat die projek voltooi is, word elke vierkante sentimeter van die huis optimaal benut: ’n Ongebruikte instapkas tussen die gastekamer en badkamer is selfs as ’n klein studeerhoekie met ingeboude rakke omskep, en in die motorhuis bied ’n nuwe tussenvlak pakplek vir groter artikels.

Leefarea

In die oopplan-leefvertrek by die kombuis was drie verskillende soorte vloerbedekking ’n seeroog. Die Steyns het daarom alles laat opkap en met groot vierkantige teëls vervang – hulle wou aanvanklik die voorkoms van ’n sementvloer hê, maar was bang dat dit die ruimte te koud sou laat voel. Nina en Petrus het albei ’n voorliefde vir ongewone meubels en verkies aardse kleure en materiale soos klip, hout, leer en suiwer wol. Die paartjie is ook dol oor handgemaakte artikels. “Ons hou van meubels met ’n storie en kombineer graag ouer en eietydse stukke. Dit skep ’n warm, huislike gevoel,” sê Petrus. Hanglamp van TrenDIY; koper-kershouers en mat van MRP Home; swart-en-wit kussings van Woolworths

KOMBUIS

’n Kort muur in die kombuis is afgebreek en die ou toonbank langsaan is uitgehaal ter wille van beter vloei. Die Steyns wou oorspronklik die binnehof tussen die kombuis en motorhuis toebou, maar hulle het besef dit sou nie die huis minder donker maak nie. Hul nuwe swart Smeg-stoof en -suigkap het die monochroom palet geïnspireer. Plantpot op staander van Woolworths

Dis in die detail
Die ou kombuiskaste is vervang met nuwes in die tydlose Shaker-styl wat pragtig by die klassieke metroteëls pas.

EETAREA

Die hanglig in die industriële styl pas by die eetkamertafel wat die paartjie spesiaal laat maak het. George Croucamp van CraftsmanXDesign het die tafel se raamwerk gemaak van koper- en staalpype, en die blad is van marmer. Nina het die oortreksels vir die kussings op die eetkamerstoele self gehekel. Die Steyns het by Marco Zampini van Fine Interiors Marco gaan kers opsteek oor van die binneversiering. Marco het die dinamiese patroon van die vloerteëls in die oopplan-area voorgestel om die illusie van ’n groter ruimte te skep. Lamp van KAMERS/Makers; koper-kershouer van MRP Home

’n Mens raak maklik meegevoer wanneer die bouwerk eers begin. Hou jou einddoel in gedagte! – Nina

BaDKAMER

Die badkamers het nuwe teëls gekry en die deure is vervang met skuifdeure, wat minder plek in beslag neem. Nina het die karaktervolle kassie by Nerf-Af gekoop. Die spieëls bo die wasbak was ’n trougeskenk van haar oupa en ouma. Badmatjie van MRP Home

Ons is nou so mal oor ons huis, ons wil glad nie trek nie! – Nina

slaapkamer

Nina se ma het die kwilt op die bed in die hoofslaapkamer as trougeskenk vir die paartjie gegee. Die linosneewerke bo die bed is Nina se handewerk. Kussings van MRP Home

buite

Omdat gras nie in die skaduwee wou groei nie, het Petrus en Nina besluit om stompe, klippe en inheemse plante in te span om die gevoel van ’n binnehof te skep. Petrus het die verskillende elemente volgens Nina se ontwerp uitgelê. Die nuwe braai-area in die waterwys tuin is gesellig en vra min onderhoud. Houtstompe en klippe van Atlantic Pebbles

Wat was jul grootste uitdaging?

Opknapwerk is altyd duurder as waarvoor jy begroot, en daar is ook altyd meer werk as wat jy aanvanklik gedink het! ’n Mens sou altyd nóg en nóg veranderinge kon aanbring, maar ons het besluit om te prioritiseer volgens ons begroting.

Begroting

Totaal: R388 850

Projekbestuurders 45 000 
Kombuis 89 500 
Teëls en vloere 45 000 
Elektrisiën 22 000 
Loodgieter 15 000 
Verfwerk 25 000 
Gastebadkamer 19 000 
Kantoor 13 500 
Kaste 40 000 
Herstelwerk en waterdigting in hoofslaapkamer 7 850 
Braaiplek en buitebeligting 16 000 
Garage 15 000 
Inrit 26 000 
Tuin 10 000

Pas perfek

Toe die Steyn-gesin van Bellville moes besluit of hulle hul huis moet verkoop en ’n nuwe een koop, het hulle gekies om liewer op te knap pleks van te trek. Daar is baie redes waarom dit ’n beter opsie kan wees, veral as jy gelukkig is in jou buurt en met die grootte van die eiendom, soos in hulle geval.

Letitia Watson, skrywer oor persoonlike finansies, noem vyf redes waarom opknap waarskynlik meer geldslim is:

  1. Oordragkoste (prokureur- en bankfooie) en hereregte (belasting betaalbaar aan die staat) is duur. Die bedrae word volgens ’n glyskaal bepaal: hoe duurder die huis en hoe groter jou verband, hoe hoër dié koste. Op ’n huis van R2 miljoen met ’n verband van R1 miljoen, beloop die totale koste verbonde aan die transaksie R116 548, volgens ooba se aanlynrekenaar. Daarmee kan jy wonderlike opknapwerk aan jou ou huis doen!
  2. ’n Goeie opknap verhoog jou huis se waarde – geld wat jy behoort terug te kry wanneer jy eendag jou huis verkoop. Maak net seker die verbeterings voeg waarde toe, en moenie oorkapitaliseer nie. Hou jou buurt se plafonprys in gedagte as jy begin somme doen.
  3. ’n Nuwe huis kan jou maandeliks meer kos, en dit gaan hier nie net oor die verband nie. Dink aan hoër erfbelasting en versekering, of die koste om ’n groter tuin of huis in stand te hou.
  4. Jy kan dalk kapitaalwinsbelasting opdok wanneer jy jou huis verkoop. By ’n primêre woning is die eerste R2 miljoen wins vrygestel van kapitaalwinsbelasting. As jy al jare in jou huis woon, kan jy maklik dié perk oorskry, en dan moet jy dié belasting op enige wins bo R2 miljoen betaal.
  5. Moenie eenmalige uitgawes uit die oog verloor nie! Dit kos geld om te verhuis. En ’n nuwe huis is selde perfek. Jy gaan heel waarskynlik daar ook veranderinge wil aanbring.
KONTAKTE EN VERSKAFFERS