Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

Wie woon hier? Jacques Müller en Justin Duckitt
WAAR Nieu-Bethesda
GROOTTE 75 m²

Jacques Müller en Justin Duckitt het in 2013 die stadsliggies vaarwel geroep en Die Waenhuis op Nieu-Bethesda in die Oos-Kaap gekoop met die doel om dit ’n trouvenue te maak.

Waar hulle sou woon, was nog nie seker nie.

Langs Die Waenhuis, wat uit die laat-1800’s dateer, was daar ’n ruim stoorkamer wat die voorafgaande 20 jaar in onbruik was en met verloop van tyd met allerhande weggooigoed gevul is: van plaasimplemente tot lendelam meubels. En dis hier waar Jacques, wat ’n agtergrond in ontwerp het, hope potensiaal gesien het. “Ek wou mal raak en moes myself tot kalmte maan,” vertel hy. “Hierdie pragtige, rustieke ruimte moes eenvoudig ’n tweede kans kry!” Dit sou die perfekte huis uitmaak, het hy besluit.

Gou-gou het sy entoesiasme Justin aangesteek – ook maar goed dat dié jare ondervinding van konstruksiebestuur het. Maar eers moes hulle genoeg geld spaar voor hulle plaaslike bouers kon kontrakteer om die binnemure te bou. Die res van die werk het Jacques en Justin so te sê alles self gedoen. Gelukkig het die stoorkamer hope skatte opgelewer wat tydens die bouproses herbenut kon word, want so kon hulle die koste laag hou.

Vandag spog hul kothuis met ’n oopplan-kombuis-eet-en- sitkamer, ’n slaapkamer, badkamer, ateljee, stoep – en ’n outydse donkie vir warm water! Sy naam is “Ampie”.

1. Dié boekrak is in ’n ou deuropening in die sitkamer gebou met hout van ’n ou stel trappe. Die vloere het ’n sementafvlaklaag gekry, waarna dit met Woodoc 45 geseël is. Die ruwe voorkoms is presies wat Jacques en Justin wou hê.
2. Die werkblaaie in die kombuis is van sement gebou, so ook die blad waarop die ou Welcome Dover-stoof staan; dié is ook ’n pakkamervonds. Sy pote is afgehaal en nou is dit die middelpunt van belangstelling in die kombuis. Die stoof se skoorsteenpyp loop deur die muur na die badkamer en maak só sommer twee vertrekke warm. Die lig in die kombuis was tussen iemand se weggooigoed.

Die stoorkamer het net een muur in die middel gehad – tussen wat nou die slaapkamer en sitkamer is. Jacques het die posisies vir die ander mure sommer met bordkryt op die rou sementvloer geteken sodat hulle ’n afsonderlike ateljee/kantoor-ruimte kon skep.

Jacques het die lig in die sitkamer van dryfhout gemaak wat hy in ’n rivierbedding opgetel het. Vir die plafonroos het hy ’n polistireenteël (te kry by ysterwarewinkels) in ’n sierlike vorm gesny en teen die plafon geplak.

1. Die kombuis. 2. Die houtrakke in die slaapkamer rus op staalpenne wat in die mure geanker is. 3. Omtrent al die meubels in die huis is uit die stoorkamer gered en opgeknap.

Ondernemingsgees

Terwyl die twee hul storie vertel, raak dit gou duidelik hulle het geen tekort aan ondernemingsgees nie. Jacques bestuur deesdae die trouvenue, en Justin en sy span lewer nutsdienste in die dorp en omgewing.

In die eerste jaar dat Die Waenhuis sake gedoen het, was daar nege troues, die tweede jaar sestien. Maar moenie dink dit het vanself gebeur nie.

Jacques vertel: “Die eerste bruid het na die trouvenue kom kyk terwyl ons nog besig was om op te knap. Dit was die 1ste Januarie en sy wou in Maart trou. Een van haar vereistes was ’n dak oor die stoep; dié wou sy sien voor sy die deposito betaal. Maar die deposito was nodig om vir die dak te betaal!

“Toe bou Justin ’n baie klein stukkie van die stoepdak, basies twee pilare met ’n sinkplaat bo-op, en stuur vir haar ’n foto! Sy was tevrede en het die deposito betaal. Daarmee kon ons toe die regte dak opsit!”

Die Waenhuis kan 80 mense akkommodeer, maar as ’n bruid meer gaste nooi, doen Jacques aansoek by die munisipaliteit om die straat voor die gebou te sluit, en slaan ’n tent op. “Dan ry Justin met die bakkie en gaan leen stoele regdeur die dorp sodat almal sitplek het!”

1. Jacques het die aksentmuur in die slaapkamer (links) afgewerk deur ’n mengsel van Gluex en Bond It met ’n koolborsel direk op die rou baksteenmure aan te bring, waarna hy dit met ’n verfskraper afgekrap het terwyl dit nog nat was.
2. Justin het al die riolering, loodgietwerk en elektriese installasies in die huis gedoen.
3. ’n Ronde stuk glas wat voorheen op troues as koekbord gebruik is (’n mens kan nog die mes se snymerke sien) is sommer as venster in die stortmuur gebou vir meer natuurlike lig!

1. Jacques het die grys muur geskep met ’n mengsel van wit en swart PVA-verf waaroor hy nog swart verf gesaksmeer het. Dis agterna geseël met Woodoc 45.
2. Met ’n vars laag verf pas die slaapkamermeubels perfek by die kothuisvoorkoms. Die mat kom van ’n tweedehandswinkel op Cradock.

Pleks van ’n ou kraalmuur teen die grens af te breek, het Jacques en Justin dit met ’n sementmengsel tussen die klippe versterk. Hul bouer het die stoepvloer gebou met leiklip uit die omgewing. Jacques het die banke al sedert sy studentedae – hy het dit self nuut oorgetrek.

Jacques en Justin se leuse was: Werk stadig, versigtig en van ’n kant af – haastige besluite is die grootste mors van tyd, geld en energie.

V&A met Jacques en Justin

Wat is jul grootste geldspaarwenk? Hou altyd jou inkopielysie byderhand. Ons het byvoorbeeld toevallig ’n Victoriaanse mengkraan vir R50 by ’n tweedehandswinkel ontdek! Loer ook by pandjieswinkels – daar is baie meer skatte as wat ’n mens ooit sal verwag.

Wat was jul grootste fout? Ons geld was op, maar ons moes ’n vloer gooi, anders sou die bank nie die laaste geld in ons lening vir ons gee nie. Ons het kortpaaie gevat en te min sement in die mengsel gebruik – die vloere het sommer gou begin afskilfer.

Waar kom jul idees vandaan? Meestal uit ons eie “rommelhoop” wat al die jare hier gelê het.

Wat geniet julle die meeste van die eindproduk? Die ongelooflike gevoel van ruimte en die binne-buite-leefwyse danksy die dubbeldeur wat op die stoep en tuin oopmaak.

Wat is volgende? Geute aan die agterstoep en ’n reënwatertenk sodat ons die volgende Karoo-reën kan opvang!

Koste

Plafonne en isolasie R11 100
Beligting R7 200
Loodgieterswerk R10 100
Vloere R2 750
Verf vir mure R3 000
Bouer R10 000
Wasbakke en krane R2 750
Sementwerkblaaie en rakke R1 000
Herstel van ou meubels en dekor R7 100
Badkamerteëls en -verf R450
Tweedehandse porseleinwasbak en toilet R500
Donkie om geiser te vervang R1 200
Stoepafdak R3 250

TOTAAL R60 400

So het hulle dit aangepak

Dit het groot deursettingsvermoë gekos om van die ou pakkamer ’n huis te maak.

1. Eers moes al die “gemors” wat voorheen in die pakkamer was, uitgesorteer word. Dit is in vier hope verdeel: materiaal vir toekomstige opknapprojekte, weggooigoed, regmaakgoed, en weggeegoed. Hoewel dit baie werk was, het dit Justin en Jacques gehelp om te onderskei tussen die skatte en die werklike gemors.

2. Die massiewe baksteenpilaar reg in die middel van die vertrek het geen doel gedien nie en moes heel eerste waai! Terwyl die bouers besig was met die binnemure, het Jacques die verweerde balke en spoorweg-dwarslêers wat in die pakkamer rondgelê het, afgeskuur en geolie; die bouer het dit daarna as lateie bo al die deure en vensters ingebou.

Die Waenhuis as trouvenue

Jacques se ma het in trane uitgebars toe sy ouers die plek sien wat hulle gekoop het. “Met die terugry het sy glo vir my pa gesê nou het die kinders ’n kat in die sak gekoop. Dit het ons natuurlik eers gehoor nadat hulle die eindproduk gesien het! Nou is hulle baie trots op wat ons vermag het.”

Die afwerking
  • Boumateriaal en isolasie Graaff-Reinet Hardware & Building Supplies (049 892 4181, grthardware.co.za) Bakstene Karoo Steenmakery (049 891 0996)
  • Verf en bykomstighede Build It (049 892 5401, buildit.co.za)
  • Elektriese bedrading, ens. TAC Wholesale & Electrical (049 891 0198)
  • Tweedehandse deure en vensters Colonial Antiques (041 484 2617) en PJL Contractors & Demolishers (041 451 2823)
  • Nuwe deure en vensters BUCO (011 847 7300, buco.co.za)
  • Kombuiswasbak en -krane Gelmar (041 363 0165, gelmar.co.za)
  • Vensterglas PG Glass (0860 03 03 03, pgglass.co.za)
  • Natuurlike goiingmatte Seasons (041 365 5650)