Foto’s Francois Oberholster l Produksie Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

JD en François van Zyl-Lebrun en hul dogter, Isabella (2)

WAAR Woodstock, Kaapstad

GROOTTE 101 m²

Daar is ’n duidelike skeiding tussen die “ou” en “nuwe” dele van die huis waar die oorspronklike Oregon-dennehoutvloer en die byderwetse swart en wit teëls ontmoet. “Ons het die kleiteëls wat in die kombuis was, laat uitkap sodat die kombuis en atrium se vloer aaneen kon loop,” sê JD.

“Ek wou hê die vloer moes van die voordeur tot by die agterdeur op een vlak wees, sonder trappies tussen die onderskeie vloere. Dit het nogal moeite en baie teëlsement gekos om dít reg te kry!” Bouwerk deur Best Build Homes

Kleur is amper soos Tabasco-sous. In klein hoeveelhede gee dit pizzazz, maar te veel daarvan is oorweldigend. – JD

Wanneer ’n Suid-Afrikaner en ’n Fransman ’n eeu oue huis in ’n boheemse buurt regruk met inspirasie uit Engeland, kan jy weet dis g’n koekiedrukker-projek nie.

JD het die huis in 2005 gekoop en self daar gewoon voor hy dit verhuur het toe hy vroeg in 2008 na Engeland verhuis het. “Ek het toe reeds allerhande idees gehad van hoe mens die plek kon opknap, maar het myself belowe dat ek eerder sal wag en dit behoorlik doen as om ’n laslappie-projek aan te pak,” vertel hy. Min het hy geweet daar sou ’n volle vyftien jaar verloop voor hy daarby kon uitkom…

Wat aanvanklik twee, toe vyf jaar in Engeland sou wees, het agt geword. Daar het JD vir François, oorspronklik van die Franse platteland naby Le Mans, ontmoet. Die twee het uiteindelik in 2018, ná ’n sabbatsreis en wêreldtoer van nege maande, permanent na Kaapstad verhuis. Hulle bedryf nou ook Starry Starry Night-selfsorgverblyf op ’n eko-reservaat buite Montagu.

In pas met die 21ste eeu

Aanvanklik het hulle oorweeg om die eiendom te verkoop en elders te koop. “Maar ek kon dit eenvoudig nie oor my hart kry nie!” onthou JD. Die huis moes dus opgeknap word om by hul leefstyl te pas – dié van ’n 21ste-eeuse paartjie met ’n hond en planne vir ’n baba. “Dinge wat ’n mens as vanselfsprekend aanvaar in nuwe huise het ontbreek,” verduidelik hy. “Die huis was eintlik ’n rits klein kamertjies, met geen vloei tussen die kombuis en leefarea nie. Elke vertrek het ook net een kragprop en een sentrale oorhoofse lig gehad.”

Die Van Zyl-Lebruns wou die siel en karakter van die huis laat behoue bly, maar tersefdertyd moes dit ook in hul moderne behoeftes voorsien. In Januarie 2020 kon die opknapwerk eindelik begin. “Die plan was dat ons teen middel April sou klaar wees, maar toe gebeur Covid-19. Ons moes skarrel om die huis eers net leefbaar te maak!” onthou hy. “Die water, gas en elektrisiteit was betyds klaar, maar goed soos kombuiskaste moes wag totdat die streng maatreëls verslap is.”

Ou staalplafondele uit Argentinië verleen ’n ouwêreldse gevoel aan die eetkamer agter François (links) en JD. Plafondele van Onsite Gallery

’n Byderwetse smeulstofie is in die ou kaggelraamwerk ingebou. “Só bly nog ’n stukkie van die huis se erfenis behoue,” sê JD. Die Van Gogh-portret is van herwinde doppies en koeldrankblikkies. Mandjie van Arabesque

Voor

Oud en nuut leef in harmonie saam in die oopplan-leefvertrek. Baie van die dekor is aandenkings wat JD en François op hul reise na Nieu-Seeland, Australië, Suidoos-Asië en Europa bymekaargemaak het. “Die gebruik van kleur, saam met die antieke elemente hier en daar, gee die huis karakter.” Ontblote stene en oorspronklike plafonne verklap iets van die huis se ouderdom. Matte van Mr Price Home

Vir meer ruimte in die badkamer is ’n geiser teen die plafon en ’n groot hoekkas uitgehaal en vervang met ’n klein gasgeiser en ’n laaikas. “Ons het die krane van die koppenent na die kant van die bad toe geskuif – nou het ons nie meer die probleem met krane wat jou in die rug steek nie!” JD het die eikehout-laaikassie, net soos die bad ’n Facebook Marketplace-kopie, afgeskuur en verseël en toe die wasbak daarop gemonteer. Reghoekige teëls in ’n visgraat-patroon bied ’n lieflike fokuspunt in die stortbad.

Muurteëls van Cash Tiles, vloerteëls van Stiles

Nuwe ingeboude kaste van die vloer tot die plafon, met skuifdeure en ’n vollengte-spieël, is ’n ruimtebesparende oplossing in die hoofslaapkamer. Bedrukte lap oor bed van Arabesque

Waar die voordeur voorheen in ’n muur vasgekyk het, kan ’n mens nou reg deur die huis sien tot heel agter, waar die boom en atrium ’n sterk fokuspunt skep.

Victoriaanse inspirasie

Die grootste verandering was om die binnehof aan die agterkant van die huis in ’n atrium te omskep deur die kombuis se buitemuur uit te breek en die hele ruimte met ’n glasdak te bedek. “Die huis was voorheen besonder donker en somber, en ná die tyd in Engeland met sy grou weer wou ons sonskyn by die emmer vol hê,” verduidelik JD. Voor dié verandering was dit net Charlie, hul hond, wat die binnehof gebruik het.

“Dit was ’n nuttelose ruimte, maar nou gebruik ons dit daagliks.”

Glashuise in Kensington Gardens en Kew Gardens in Engeland het dié idee geïnspireer. “Die klimaat daar is nie gunstig vir stoepe soos ons dit in Suid-Afrika ken nie, en baie huise maak van glas gebruik vir ekstra lig,” vertel JD. Hoewel die glasdak supermodern is, wou hy hê dit moet die tradisionele Victoriaanse styl van die res van die huis eggo.

Daarom het hulle op die lanterndak-ontwerp besluit. “Die huis front suid, en dié dak maak nou ’n reuseverskil aan ons onthaalruimte.”

Buiten die lieflike lig wat deur die atrium by die res van die huis instroom, het hulle ook sowat 25 m² by die bruikbare vloeroppervlakte gevoeg. Waar die gesin voorheen op hul skote in die sitkamer moes eet, kan hulle nou by ’n ruim eetkamertafel aansit. “Die atrium het sowat ’n kwart van ons totale begroting uitgemaak, maar dit was elke sent werd. In so ’n knap ruimte maak elke vierkante meter ’n verskil!”

Só is dit gebou...

Die oorspronklike kombuis was beknop en afgesny van die res van die huis.

’n Nuwe sementvloer is gegooi sodat die atrium dieselfde vloervlak as die res van die huis kon hê.

Die grensmuur is hoër gebou om soveel volume moontlik onder die nuwe glasdak te skep.

Die mure tussen die kombuis en leefvertrek is uitgeslaan om die nuwe oopplan-ruimte te skep.

Veiligheidsglas is in die atriumdak gebruik en boksgeute reg rondom voer reënwater weg.

I-balke dra by tot die Victoriaans-industriële dekorstyl.

Totaal: R456 150

Atriumdak 80 000

Staalplafonplate 4 200

Aksentligte 1 500

Ingeboude kaste 75 000

Opknap van antieke vensters 3 000

Bouwerk 230 000

Kombuiskaste 45 000

Krane en wasbak 2 700

Teëls 12 050

Eikehout-badkamerkassie 1 800

Tweedehandse bad 900

KENNERSRAAD

[VOOR- EN NADELE VAN ’N GLASDAK]

Die grootste voordeel van ’n glasdak soos dié een is die oorvloed lig wat dit in jou huis bring. “Dis as’t ware ’n reuse-dakvenster,” sê Nadine Clarke van Meik Architects.

“Daar is verskeie faktore wat huiseienaars moet oorweeg voor hulle so ’n dak laat installeer. Dit is duur, en kan moeilik wees om skoon te hou indien toegang nie reeds in die ontwerpfase in ag geneem word nie. Kondensasie kan ook problematies wees indien daar ’n groot temperatuurverskil tussen die lug binne en buite die huis is.”

Sy beveel dubbel- of driedubbele glas aan vir so ’n struktuur. “Gewone enkelglas is ’n swak isoleerder, wat tot groot hitteverlies in die winter lei en in die somer die ruimte baie warm kan laat word. Dit keer ook nie die son se UV-strale nie, daarom kan die lig jou meubels onder so ’n dak verbleik.

“Onthou ook dat so ’n dak aan regulasies ten opsigte van energiedoeltreffendheid moet voldoen. Om moontlike lekkasies te vermy, moet die oppervlak goed dreineer en liefs nie na ’n klein afvoerpyp lei nie, maar na ’n groter oppervlak of direk van die gebou af.”

KONTAK meik.co.za

KONTAKTE & VERSKAFFERS

Aldiy Lifestyle Conservatories 021 709 0901

Arabesque 061 072 1054

Best Build Homes 084 296 5307

Cash Tiles 021 001 6493

Mr Price Home 0800 212 535

Onsite Gallery 021 462 1357

Starry Starry Night 063 639 8522

Stiles 021 510 8310