book-icon Uitgawe September 2019
Deel

Ou kelder opgeknap met staal en glas

akkreditasie
Terwyl omstanders net hul koppe geskud het, het dié boer gedroom van ’n plek waar oud en nuut ontmoet.

Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

DIE EIENAAR
Braam Colyn
WAAR Robertson, Wes-Kaapland
GROOTTE 175 m²

Meer as 60 jaar lank het oupa Abraham Colyn se kelder hier in die Robertson-wynvallei leeg gestaan. Tot Braam, sy kleinseun wat vandag voltyds op die plaas boer, in 2018 begin droom het van ’n eie blyplek.

“My oupa en sy broer Jan het destyds die wynkelder self gebou. Die stene is hier op die plaas reg voor die gebou gemaak, maar nie watwonders gebak nie!” vertel Braam laggend.

“Nogtans is dit vir my die mooiste kleistene, en baie van hulle nog ongepleister. Daarom was my ooreenkoms met die argitekstegnoloog om soveel moontlik van die oorspronklike kelder se mure te behou. Noem my maar ‘ou skool’, maar ek verkies om iets na te laat waarna my drie kinders eendag kan kyk en aan die mooi van die verlede herinner word.”

Omdat die ou mure taamlik onstabiel was, het Gawie Viljoen, ’n senior argitekstegnoloog by Vil.Arch op Robertson, voorgestel dat ’n staalraam binne-in die ou gebou opgerig word. Op dié manier kon die ou mure onaangeraak bly terwyl die staalraam die gewig van die nuwe boonste vloer en dak dra.

Braam se ander opdrag was dat geeneen van die bestaande vensteropeninge geskuif mag word nie. “Dis ook hoekom die enigste nuwe vensters op die boonste vlak ingesit is,” verduidelik hy. “Maar dis so mooi. As jy deur die ou vensters buitentoe kyk, lyk dit soos skilderye van die Langeberge wat in die vertrek hang.”

Die projek het in Mei 2018 begin en is in Oktober daardie jaar voltooi. Die resultaat is ’n asembenemende argitektoniese struktuur van staal, sement en glas, maar met die mooiste herinneringe aan die verlede.

Vooraansig

’n Mens kan kwalik glo dié moderne struktuur was voorheen ’n vervalle wynkelder! Die kombinasie van die oorspronklike kleimure en die nuwe staalraam slaan behoorlik jou asem weg. “Die skuins dakplaat en houtprieel bo die stoep gee dié gebou ’n wip in sy stap,” vertel Gawie. Danksy die veranderings is die grondvloer nou 85 m² groot met ’n slaapkamer, badkamer, leefarea en kombuis; die stoep bied ’n ekstra 30 m² kuierplek. Die nuwe boonste vlak beslaan 60 m². Hier is ’n oopplan-slaapkamer en suite. ’n Lae muurtjie rondom die gebou baken die werf af en herinner aan ’n tipiese plaaswerf. Die plonspoel en ’n vierkantige braai-boma is ook nuwe byvoegings.

Die dak en een van die vier baksteenmure – voor, waar die stoep nou is – is verwyder. Hierna is die staalkolomme van die nuwe raamwerk aan die ou vloer vasgebout voor die nuwe betonvloer gegiet is. Die boonste vloer rus op staalbalke.

Staal van Brandwacht Staalkonstruksie; aluminiumrame van Greenline Aluminium

Leefvertrek

As deel van die regrukprojek is vuil water en modder uit die kuipe onder die kelder gepomp. Plaaswerkers het hand bygesit met die skoonmaakwerk.

Binne is die rou kleistene geseël met Novabrik; buite is al die ou pleister afgekap, sifdraad oor die stene gespan vir beter stabiliteit en toe weer gepleister. Ligte van Eurolux; Dovre-smeulkaggel van Home Fires; koffietafel van MRP Home; ander meubels van Coricraft en Tafelberg Furnishers

Byderwetse vloere

Braam het kleistof uit die ou baksteenmure oor die nuwe sementvloer “gewas” vir ’n verouderde voorkoms. Daarna is die oppervlak geseël met deursigtige Duram Showfloor-poliuretaanvloerverf. “Omdat die huis nogal koud kan lyk weens die ontblote baksteenmure, wou ek graag warmte inbring met die smeulkaggel teen die muur en Nguni-vel op die betonvloer,” vertel Braam. Onder die Nguni-vel is ’n glasvenstertjie waardeur jy na die oorspronklike ondergrondse kuipe kan kyk. LUD-stringligte is oral in die staalstruktuur se I-balke versteek en gooi die mooiste sagte lig oor die mure. Die oulike TV-trollie was dekades gelede ’n pomptrollie wat gebruik is wanneer wyn uit die kuipe gepomp moes word.

eetkamer

Ouma Alida se ou eetkamertafel spog nou met spierwit pote, terwyl die wit skuifdeur daaragter een van die kelder se oorspronklike deure was. Verfkleur Plascon Ewa; ligte van Weylandts; stoele van Cielo

kombuis

Die nuwe werkblaaie in die kombuis rus op die oorspronklike muur van die parskuip waar die druiwe destyds getrap is.

Oom Danie Conradie, die meganiese voorman op die plaas, het die staalraamwerk vir die kombuisrak bo die wasbak gesweis volgens ’n skets wat Braam gemaak het; dit het blaaie van glas en roosterstaal.

slaapkamer en badkamer

Die mure aan die binnekant van die dakvertrek is beklee met Lambdaboard (’n soort isolasiebord). Die spieëltafel was ouma Alida s’n en is wit gespuitverf. Ottoman van Cielo; bad van AH Marais; wasbak van CTM; teëls van Union Tiles; glas en raam van Greenline Aluminium

Asemrowende uitsig

Die slaapkamer bo is een ruim, oop vertrek. Braam en sy pa, Gawie, het self die houtvloer ingesit en toe met gelamineerde vloerplanke afgewerk.

Klein vensters wat saam met die tweede vloer ingesit is, help dat die gebou saans maklik afkoel. ’n Klein rolblinding sorg vir privaatheid wanneer nodig. “Ek is mal daaroor om uit te staar na buite,” sê Braam. “Daarom dat die stort ook ’n venster het sodat jy die uitsig op die suurlemoenboorde en mooi berge kan geniet.”

Die ou leer van bamboes en kiaat het aan sy oupagrootjie behoort en is al oor die honderd jaar oud. Braam het al die spieëls self gemaak van die bo- en onderkant van ou wynvate.  Deesdae is die ou kelder selfsorgakkommodasie met die naam Cellar1947. “Dis besiger as wat ek gedink het,” sê Braam, “maar dis vir my lekker om dit met ander mense te deel en hulle van die geskiedenis te vertel.”

Braam se pa, Gawie, het die houttrap gebou wat na die kuipe onder die vloer lei.

KOSTE

Totaal: R1,4 miljoen

Staal 300 000
Glas 250 000
Aanlê van elektrisiteit 80 000
Aanlê van water 30 000
Boukoste 750 000

Boer maak ’n plan!

Ná al die jare was die koerante – almal Cape Times’e uit 1946 – omtrent net poeier. Braam het dit met bindvloeistof gespuit om dit te bewaar. Gaste kan hulle veral verkyk aan die koepeldak, waar al die koerante wat oupa Abraham gebruik het om die bekisting te verdig sodat die nat sement nie deurloop toe dit gegiet is nie, steeds teen die dak vassit.

Die grootste uitdaging?
Daar was geen dienste nie en ons moes elektrisiteit en water aanlê, vertel Braam. “Dit was baie snaaks om die diensverskaffers op die terrein te sien waar hulle net staan en kopskud! Dit was net ek, my vriend Riaan Pienaar en die argitekte wat die eindproduk kon visualiseer.”
Knap op met staal

Staalraamhuise is wêreldwyd warm nuus, ook in Suid-Afrika. Dit word meestal vir nuwe geboue gebruik, maar ’n staalraam kan ook ’n rol speel wanneer jy ’n ou huis wil opknap – soos Braam Colyn op sy familieplaas in die Robertson-distrik gedoen het. Hier is die ou kleimure van sy oupa se wynkelder, wat uit 1947 dateer, so ver moontlik behou, maar ’n staalraam is ingebou ten einde ’n tweede verdieping en ’n onderdakstoep te skep.

Gawie Viljoen, ’n senior argitekstegnoloog by Vil.Arch, en sy kollega, die tekenaar Stefe Giliomee, het saam met Braam oor dié innoverende opknap gedroom en hom dit help uitvoer. Hulle gee vyf wenke oor die gebruik van staal in ’n opknapprojek:

  1. Voor jy met enige werk aan ’n bouval soos dié begin, is dit noodsaaklik dat jy ’n struktuuringenieur vra om die stabiliteit van die gebou te ondersoek. Kies ’n ingenieur wat passievol is oor argitektuur, dan kan jy saam met jou argitek iets besonders ontwerp.
  2. ’n Staalstruktuur stel jou in staat om die bestaande mure van ’n ou gebou te behou en via die nuwe struktuur daarby aan te bou of ’n tweede vlak bo-op te sit. Dié nuwe raamwerk word dan die lasdraende struktuur in die ou mure se plek.
  3. Nuwe waterpype en kraggeleidings kan al langs die staalrame geïnstalleer word – sodoende hoef jy nie die bestaande mure of vloere te ontwrig nie.
  4. Onthou, elke deel van die struktuur gaan ontbloot en sigbaar wees, maar wanneer die projek voltooi is, moet dit nie voel of jy in ’n pakhuis bly nie. Gee daarom aandag aan detail soos sweislasse en boute.
  5. Alle rolspelers moet noukeurig saamwerk tydens ’n ongewone projek soos hierdie een om ’n suksesvolle eindproduk te verseker – van die ingenieurs en argitekte tot die bouers en diensverskaffers.

KONTAK vilarch.com

VERSKAFFERS EN KONTAKTE
Jongste uitgawe

Julie 2023

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

OPKNAP

Jongste uitgawe
Die jaarlikse Tuis Opknap-gids is nou te koop, met inskrywings uit ons jaarlikse Regruk met Flair-wedstryd, aangebied in samewerking met JoJo.
Begin lees