Foto’s Justin Patrick | Stilering Marian van Wyk

NAASWENNERS Candice Theynissen en Stanley CorneliusKATEGORIE Hele huisWAAR Wolseley, Wes-KaapGROOTTE 132 m2 (huis 72 m2; stoep 60 m2)

Toe Stanley Cornelius en Candice Theunissen in 2010 die eerste keer as paartjie gaan naweek hou, was dit sonder ’n beplande bestemming. By elke kruising het hulle beurte gemaak om te besluit hoe hulle verder moet ry: links, regs, of reguit aan. En so beland hulle toe op die prentjiemooi Tulbagh in die Boland.

Min het hulle destyds geweet hulle sou ’n paar jaar later ’n afgeremde plaasskooltjie in dieselfde pragtige vallei aanskaf, dit opknap en sedertdien as hul tweede tuiste beskou.

Omdat die leefarea kleiner is as wat hulle verwag het, het Candice en Stanley hul hoof-eet-en-kuierplek na die ruim stoep geskuif. “Ons is mal oor middagslapies op die dagbed, drink graag ’n teetjie op die rusbank, werk op ons skootrekenaars en geniet al fresco-etes by die tafel,” sê Candice.

“Ons wou ’n wegbreekplek skep waar ons eendag kan aftree,” sê Candice. “Ons ervaar albei baie stres en het ’n manier gesoek om daarvan te ontsnap.

“In Augustus 2014, ná ’n soektog van amper 18 maande, het ons ’n dringende oproep gekry oor ’n ‘rustieke eiendom wat ’n bietjie werk nodig het’ op Wolseley; ons het 24 uur gehad om dit te besigtig en ’n aanbod te maak!

“Die huis is in ’n landelike gebied 100 km buite Kaapstad. Daardie dag het die sonsondergang die berge in die pragtigste kleure laat gloei en die lieflike omgewing het ons aandag afgetrek van die swak toestand van die huis. Maar die Oregondennehoutvloere, staalraamvensters en vriendelike – maar lekkende – rooi sinkdak het ons hart gesteel.” Hul aanbod is aanvaar en hulle kon aan die werk spring.

Voor die opknap het Stanley en Candice net ’n “goedkoop, basiese boor” gehad waarmee hulle prente opgehang het. Vandag is hulle gesoute selfdoeners met ’n projek vir elke naweek wat hulle hier deurbring. “Af en toe neem projekte langer as ’n naweek, soos die buitestort of die nuwe braai-area, en daar is altyd iets wat afgehandel moet word voor ons weer die pad terug Table View toe vat,” sê Candice.

Die kombuiseenheid is gemaak van herwinde hout. Dis al meubelstuk wat die paartjie nuut gekoop het en is op maat gemaak deur Crystal & Twine op Riebeek-Kasteel.

Die platteland roep

Hul Skoolhuisie, soos dit nou bekendstaan, is in die 1950’s gebou, maar toe die paartjie daar aankom, was daar geen lopende water of elektrisiteit op die 1,5 ha eiendom nie. Boonop het ’n gesin knaagdiere hul intrek in die droëmure geneem. “Ons kan eerlik sê dit was nie die huis se voorkoms wat die transaksie beklink het nie,” sê Candice laggend.

Sy en Stanley het ’n mobiele toilet gehuur, ’n sonkragstort staangemaak en ’n koelboks vol ys vir ’n yskas gebruik. So het die paartjie amper vyf maande geleef totdat Skoolhuisie met die nodige waterwerke en elektrisiteit toegerus is. “Ons het die eerste keer op Oujaarsaand 2014 hier oorgeslaap!” sê Candice.

Nadat Candice en Stanley hul drieslaapkamerhuis verkoop het sodat hulle hul naweekplekkie kon koop, het die twee baie van hul meubels weggepak. Uiteindelik kon hulle dit Skoolhuisie toe bring. “Ek is lief vir my erfstukke; elkeen het ’n spesiale plek in ons huis,” sê Candice.

"As ons ’n argitek of professionele bouer gebruik het, sou Skoolhuisie sekerlik meer afgerond gewees het, maar vir ons is dit perfek nes dit is." – Candice

Hulle het ’n plaaslike bouer aangestel vir die loodgieterswerk, nuwe agterdeure en die fondament vir ’n nuwe stoep, maar dit het gou in ’n nagmerrie ontaard. “Die bouer het sonder ons medewete ’n ander, minder ervare bouer gesubkontrakteer. Ons moes die loodgieterswerk oordoen en die septiese tenke het nie gewerk nie! Ons het ook besef die nuwe stoep se fondament het reënwater by die huis laat inloop, pleks van buitentoe na die tuin.”

Maar pyp-probleme en agterstevoor stoepe was net ’n voorsmakie van wat oor die volgende paar maande sou kop uitsteek ...

1. Die en suite-slaapkamer en leefarea word geskei met ’n stapeldeur wat hulle agter die ou droëmure ontdek het. “Ons het besluit om dit te hou, want dis deel van die huis se geskiedenis,” sê Candice. 2. Candice het ’n gietysterbad op Gumtree gevind en Stanley moes dit van Groenpunt af Wolseley toe aanry. “Maar eers moes dit van die vierde verdieping af ondertoe gedra word, en dis swaar!”

Ná reën kom ... nog reën

’n Ramp in die hartjie van die winter was ’n groot terugslag: Tydens ’n storm het die ondersteuningsbalke wat Stanley en sy skoonpa op die stoep staangemaak het, omgeval – op die nuwe glas-stapeldeure!

“Ná ’n benoude oproep van die man wat ons hoenders versorg wanneer ons nie daar is nie, is ons inderhaas plaas toe. Dit was ’n groot slag en ons het oor ’n naweek in gietende reën die situasie probeer red,” sê Candice. Gelukkig het haar ouers in hul uur van nood kom hand bysit.

“Dit was skreeusnaaks toe ’n goeie vriendin se man vra watter soort saag ons vir die stoepprojek gebruik het. Stan antwoord toe heel trots: ‘My figuursaag!’ Dit was ’n Kersgeskenk en sy eerste elektriese saag. Toe hoor ons vir die eerste keer van ’n sirkelsaag; blykbaar sou dit veel vinniger werk gemaak het van ons 150 mmpale.” Maar, sê Candice, nou weet sy wat Stanley se volgende verjaardaggeskenk gaan wees ...

Noudat die stoep klaar is, bring Candice, ’n mediese verteenwoordiger, en Stanley, ’n IT-spesialis, sowat vier aande per week hier in hul toevlugsoord deur. “Ons geniet die alleentyd, of kuier buite met ons familie, honde en vriende en skep só nuwe herinneringe vir ons Skoolhuisie. Noudat ons terugkyk, is ons so trots op wat ons bereik het. Daar was vele hande betrokke by dié projek – maar die pad is nog lank ...”

"Skoolhuisie getuig van pure volharding en doelgerigtheid, asook die liefde en ondersteuning van vriende en familie." – Candice

V&A met ‘Standice’ (vriende se bynaam vir die twee)

Wat is die waardevolste les wat julle geleer het?

Nie alle boorpunte is gemaak vir dieselfde substraat of taak nie, en dieselfde geld vir elke slypskyf of sirkellem. Ook dat jy die moeite moet doen om te leer, nederig genoeg moet bly om te vra en te luister, en jou tyd vat – dan kan jy enigiets bereik.

Wat sou julle volgende keer anders doen?

Ek wens ons het al die “vuil werk” binne eerste gedoen. Nadat ons die helfte van die vloer geskuur en geseël het, was ons so uitgeput (en verveeld) dat ons die tweede deel eers ’n jaar later aangepak het. In daardie stadium was al die meubels en dekor op hul plek en die gemors en moeite wat dit meegebring het, was regtig frusterend.

Wat geniet julle die meeste van die ruimte?

Ek moet sê die nuwe stoep. Ons het herwinde sinkplate gebruik om my sithoekie met die dagbed en rusbanke teen die suidooster te beskut, en nou kan ek en die honde ure hier in die middagson lê. Dit beteken soveel meer vir ons omdat ons so baie teenspoed beleef het.

Enige wenke om geld te bespaar?
  • Jy spaar baie met herwinde bakstene en tweedehandse hout, maar dit verg ’n bietjie meer moeite. Ingeboude kombuiskaste is duur en heeltemal onnodig. Ek verkies ons losstaande eenhede van herwinde hout.
  • As jy ’n kenner huur, kry die beste wat jy kan bekostig – so spaar jy verdere uitgawes van projekte wat oorgedoen moet word. As ons iets self doen en droogmaak, is dit ten minste ook ’n les vir ons. Maar as ek ’n ambagsman betaal en hy maak droog, is dit net rampspoedig!
Wat moet liefs aan die kenners oorgelaat word?

Septiese tenke en loodgieterswerk. Maar ons beoog om ’n kursus in basiese koperpyploodgieterswerk by te woon ...

"Danksy ure se werk met ’n brandskuurder op die vloere het ek indrukwekkende spiere ontwikkel. Deesdae kan ek vloere skuur met ’n koppie tee in een hand." – Candice

’n Oud Wendyhuisie binne sig van die nuwe stoep is verwyder, wat ’n teeëlmuur blootgelê het. Candice het besluit om dit in ’n fokuspunt te omskep: Sy het ’n stensilpatroon aangebring met Annie Sloan-verf en dit toe geseël met Annie Sloan Wax.

Die afwerking
  • Rooi bakstene Tulbagh Bakstene (023 230 0691)
  • Herwinde hout, pale, dakkappe, dakplate, ligte en bakstene Ross Demoliton (021 511 1204, rossdemolition.com)
  • Nuwe hout Pennypinchers (021 927 5000, pennypinchers.co.za)
  • Dakmateriaal Youngman (021 511 8125, youngman.co.za)
  • Latte- en bamboesskerms Plaaslik gekry
  • Vloerseëlaar Rubio Monocoat in Cotton
  • White (011 979 4459, monocoat.co.za)
  • Strooikussings, kwilts en strooidekens Biggie Best-fabriekspakhuis (021 671 0532)
  • Breekgoed en bykomstighede MRP Home (0800 21 25 35, mrphome.com) en jaarlikse CY Market (083 234 8606)
  • Koper-kombuisgereedskap en -pan Woolworths (0860 022 002, woolworths.co.za)
  • Kombuis-dientafel Crystal & Twine (022 448 1290)
  • Stoele Boland Pickers (084 015 8851)
  • Gietysterbad Gumtree (gumtree.co.za)
  • Badmatjies The Duck Egg Company (084 912 6181, theduckeggcompany.com)