Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Herbert en Marlene Trollip en hul tweelingseuns Richard en Stephan (2)
WAAR Vrykyk, Paarl
GROOTTE 31,5 m²

Die Trollips het in Mei 2014 die sleutels van hul eerste huis gekry en sommer dadelik weggespring met die opknap daarvan. Die leefarea het dringend ’n regruk gekort – om van die outydse, beskadigde kombuis nie te praat nie! Dit was so klein dat jy een van die deure moes toemaak as jy die oonddeur wil oopmaak.

Gelukkig skrik Herbert en Marlene nie vir ’n uitdaging nie. Hulle het al hul huisraad – behalwe ’n matras, televisie en yskas – in ’n bergplek gesit en laat waai.

“Ons het elke aand die matras uit die garage gesleep en op die sementvloer in die sitkamer geslaap,” sê Marlene. “Ons troetelhase, Stoffel en Jangles, het by ons geslaap, want hulle was bang vir die katte in ons nuwe buurt.”

Die paartjie het voltyds gewerk en moes die kombuis so tussen hul dagtake deur inpas. “Dit was nogal ’n uitdaging. Ons was tot in die vroeë oggendure besig,” sê Marlene. “Gelukkig is my man ’n harde werker wat graag wou leer en die meeste van die harde werk self gedoen het.

“Buiten die min ruimte het die kombuis outydse afwerkings en vuil Novilon-vloere gehad; daar was ook waterskade aan die plafon,” verduidelik Marlene. Langs die kombuis was ’n onpraktiese stoepie, skaars groot genoeg vir ’n tafeltjie en stoele; die Trollips het besluit om die muur uit te breek en die stoepie deel van die kombuis te maak. 

Voor

Marlene is ’n logistieke bestuurder in die wynbedryf, daarom is daar altyd oorgenoeg wyn in die Trollip-huis. “Omdat daar min rakspasie is, het ons besluit om ’n wynrak onder die toonbank in te bou,” verduidelik Marlene. “In ons vorige huis het ons spens oorgeloop van die wyn!” Die Trollips wou swart en wit teëls vir die kombuisvloer hê, maar hulle kon net grotes kry (600 x 600 mm). Toe laat hulle elke teël in kwarte sny vir die skaakbord-effek.

‘Dit voel soos ons’

Nadat die paartjie besef het die kwotasies wat hulle aangevra het, is bo hul vuurmaakplek, het hulle besluit om maar self in te spring. Herbert het die ou kaste, Novilon-vloere en muurteëls verwyder – dit het hom twee weke geneem. Hulle het ook die mure afgevlak en geverf, en Herbert het geteël tot waar die nuwe kaste moet kom.

“Ek het vier lae verf van die oorspronklike Oregondennehout-kosyne gestroop,” onthou Marlene. “Daar was heelwat trane tydens die proses, maar wonder bo wonder het ons dit reggekry om deur te druk!”

Deesdae is daar goeie vloei in die kombuis. Dit voel regtig soos ons,” sê sy. “Dis pragtig, funksioneel en knus.”

In November 2014, nadat al die groot opknapwerk voltooi is, kon hulle uiteindelik hul besittings inbring; hulle het toe ook ’n hondjie, Luka, gekry. Kort daarna het Marlene uitgevind sy is swanger met ’n tweeling! “Die opknap was ’n verrykende ervaring met baie trane, lag, sweet en rugpyn – maar ons verruil dit vir niks.”

Die binnebraai net langs die kombuis was ’n geskenk van Marlene se broer. Herbert moes ’n plan bedink om dit te installeer in ’n opening wat eers ’n kas vir potte en panne was. Hulle het die houtbalk bo die kaggel by ’n skrootwerf gekry.

Baie van die items in die kombuis is erfgoed wat Marlene by haar ouma gekry het. Eers toe hulle die wit verf op die uitstalkas begin afstroop het, het hulle besef dis Oregondennehout.

V&A met Herbert & Marlene

Hoe het julle jul rande gerek?

Ons het ons ou kombuiskaste op Gumtree verkoop vir R5 000, wat gehelp het om die nuwe kaste te betaal. Herbert het al die ligte en die nuwe braaikaggel met ’n vriend se hulp geïnstalleer.

Wat sou julle volgende keer anders doen?

Ek sou ’n ander huis huur om in te woon; om vir sewe maande op ’n matras op die koue vloer te slaap met al die stof, sement en bakstene wat met ’n kombuis-opknap gepaardgaan, is nie ideaal nie!

Enige wenke vir ander opknappers?
  • Werk van bo af ondertoe – ou plafonne kan nogal vuil wees. Nadat ons al ons mure skoongemaak het, het ons die plafon uitgehaal. Toe moes ons weer die mure was.
  • Maak seker jou vrieskas is vol tuisgemaakte etes; ons het so moeg geraak van wegneemkos!
Begroting

Totaal: R93 238

Kaste en kiaatblaaie R32 042
Ligte R3 966
Krane en spoelwasbak R1 700
Huur van toerusting en gereedskap R8 000
Bouvoorraad R930
Arbeid R25 500
Rakke en stutte R960
Verf R2 930
Teëls en voegbry R12 710
Loodgietersmateriaal R800
Elektriese benodigdhede R3 200
Toestelle R500

AFWERKING EN KONTAKTE
  • Kaste Caraldo Kitchens (022 921 2033, caraldokitchens.co.za)
  • Ligte Eagle Lighting (021 424 4071, eaglelighting.co.za)
  • Teëls Malls Tiles (021 510 5500, mallstiles.com)
  • Kroegstoele Decofurn (087 740 1800, decofurnsa.co.za)
  • Rakke en stutte Dassiesfontein (028 214 1475, dassies.co.za)
  • Muurhorlosie Bali Trading (028 713 2080, balitrading.co.za)