Foto’s Henrique Wilding Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Kate en Rudy Gibbons
WAAR Heathfield, Kaapstad
GROOTTE 96 m²

In 2013 het Kate en Rudy Gibbons aangebied om vir vriende huis op te pas, min wetend dat dié guns sou lei tot die koop en opknap van hul eerste huis.

Kate, hoof van verkope by TravelGround en LekkeSlaap, en Rudy, ’n restaurantbestuurder by The Shortmarket Club, het destyds ’n piepklein solderwoonstel gehuur en was glad nie van plan om huis te koop nie. “Maar toe ons hoor die huis reg langsaan was te koop, het ons die kans aangegryp. En soos die noodlot dit wou hê, het die vorige aanbod pas deur die mat geval!” sê Kate.

“Ons was dol oor die sjarme van die huis en die buurt. Die huis was groter as die solderwoonstel waar ons toe gewoon het en die prys was reg,” sê Kate. “Dit was drie maande voor ons troue, so dit was nogal stresvol, maar wat is die lewe nou sonder ’n bietjie opwinding?” sê sy.

Die paartjie het in die volgende paar jaar stadigaan kreatiewe, kostedoeltreffende veranderinge aangebring sodat die huis hul persoonlikheid weerspieël. “Ons het geweet ons kon dié outydse, karakterlose ruimte omskep in iets besonders,” sê Kate.

“Ons is albei ’n bietjie eksentriek en glo ons huis is ’n verlengstuk van ons persoonlikheid. Dit voel regtig of ons hier ’n blyplek geskep het wat propvol inspirasie is.”

Die paartjie kry baie van hul idees in Tuis, hul gunsteling-dekortydskrif. “Ons skep dan inspirasieborde en gaan loer wat in die winkels is om te sien wat uitvoerbaar is,” sê Kate. “Gewoonlik verskil die eindresultaat taamlik van wat ons beoog het, maar op ’n manier kom dit beter uit – iets pragtigs, maar met ons eie stempel daarop afgedruk!”

’n Binnehof met ’n glasdak is deel van die huis gemaak en dien nou as opwaskamer. Die melamienkaste is geverf met Fired Earth Extreme Roof Paint in die kleur Charcoal. Mat van Airloom

Die paartjie het so gou hulle kon die hele huis se matte opgetel. Hulle het sandkleurige vloerverf met ’n epoksi gemeng om die vloer duursamer te maak.

Dol hieroor!
Dié imbuia-kas, ’n erfstuk, is helderrooi geverf en dien nou as drankkas in die eethoek.

Die leunstroele was ’n tweedehandse vonds op ’n Facebook-groep. “Ons is altyd op die uitkyk na artikels wat ons huisie se voorkoms sal komplementeer,” sê Kate.

In fokus!
Kate het haar hart verloor op ’n ryk pruimpers wat sy in ’n troue se kleurskema gesien het en het besluit om dit teen ’n fokusmuur in die sitkamer (bo) te gebruik. Kate en Rudy het driehoeke van verskillende groottes met maskeerband afgebaken en dit geverf met Dulux Ruby Fountain 1 en Earth Fire Liquid Metal in Penny Bronze. “Elke dag as ek na dié muur kyk, sit dit ’n glimlag op my gesig,” sê Kate.

Rudy het die boekrakke gemaak van planke wat met ’n ligte houtbeits behandel is. G-klampe dien as speelse boekstutte.

Die paartjie het besluit om die plafon in die studeerkamer in ’n fokuspunt te omskep met Dulux Amber Queen 3; die draad-lampkap en mat skakel in by die treffende swart kroonlys. ’n Titsel oranje – Plascon Clown Fish – gee die tweedehandse imbuiakis nuwe lewe.
Strooikussing van Woolworths; vinielplakkers van Graygar Signs

Die paartjie wou ’n slaapkamer vol persoonlikheid hê. Hulle het aksentstukke soos dié tweedehandse imbuia-hangkas helderblou (Dulux Blue Diamond 2) laat verf en driehoekige vinielplakkers op die muur agter die bed geplak (tweede foto).
Muurplakkers van superbalist.com; bedlamp van Hoi P’loy; strooikussings van MRP Home

1. Kleurkeuse Badkamermuur geverf met Duram Bathroom and Kitchen- antibakteriese verf in die kleur Castle Rock. 2. Om plek te bespaar hang die wasgoedmandjies in die studeerkamer, regoor die badkamer.
Vinielplakkers van Graygar Signs

Beter badkamer

Die oudmodiese badkamer het hulle die meeste gepla; hulle wou iets hê met klassieke styl, maar moderne elemente. Hulle het besluit om die bad uit te haal en te vervang met ’n ruim stort (oorkant, links bo) waarvoor Rudy se pa, Derrick, ’n byderwetse staalraamskerm gemaak het.

’n Dubbelwasbak en krane is geïnstalleer, met ontblote koperpype en -krane om by die koperraam-spieëls bo die wasbak te pas. Die twee het ’n wasbakkas van donker hout gekoop, die hout afgeskuur vir ’n ligter afwerking en toe verseël teen waterskade.

V&A met Kate en Rudy

Watter lesse het julle tydens die opknap geleer?

Ons het geleer om te gee en te neem. Dit gaan nie net oor een individu se smaak nie. Jy en jou maat gaan saam in dié ruimte woon, so jy moet seker maak dit vervul albei se behoeftes.

Dis ook goed om met ’n plan te werk. Soms gebeur die wonderlikste goed per ongeluk, maar ons het al agtergekom dat ’n ordentlike plan dikwels tot die beste resultate lei.

Enige geldspaarwenke?

Ons upcycle eerder as wat ons nuut koop. Dit verbaas ons altyd wat jy met ’n stuk skuurpapier en ’n kannetjie spuitverf kan regkry! Die paar items waarop ons wel geld uitgegee het, is aanlyn op Facebook en Gumtree of by tweedehandswinkels gekoop.

Vra familie en vriende om hand by te sit; ons mense het baie gehelp om ons huisie ’n tuiste te maak.

Die afwerking

Loodgieterswerk Mathew Swartz van Proline Plumbing (021 558 0835, 076 023 3783)

Vloerverf House of Paint and Décor (086 112 2114, houseofpaint.co.za)

Bykomstighede