Foto’s Francois Oberholster | Stilering Misi Overturf

Ek is mal oor kuns; dis noodsaaklik in ’n huis en moet ’n storie vertel, selfs in die kombuis. – Juanita

WIE WOON HIER?

Juanita Lacock en haar kinders, Lily (19) en Adriaan (16)

WAAR Worcester

GROOTTE 18 m²

In 2001 het Juanita Lacock, binneontwerper en stilis by Incanda, ’n pragtige ou huis wat in 1953 gebou is in Worcester se middedorp gekoop. Maar destyds het haar begroting net voorsiening gemaak vir oppervlakkige verbeterings in die kombuis, soos om die bestaande kaste te verf. Sestien jaar later het die tyd uiteindelik aangebreek vir ’n volskaalse opknap, insluitend strukturele veranderings.

Juanita het nog altyd gedroom van ’n aparte opwaskamer en daarvoor sou sy ’n 9 m²-vertrek moes aanbou. Tipies van ouer huise was daar ook nie genoeg natuurlike lig in die kombuis nie; daarom was ’n kontemporêre staalraamvenster nog ’n groot oorweging in die opknap en deel van die inspirasie agter die voorkoms.

“Ek is gaande oor kleur, maar is altyd jaloers op mense met netjiese huise wat so natuurlik lyk,” sê Juanita. “Ek wou graag daardie netjiese voorkoms hê, maar ek wou nie karakter prysgee nie. Die kaggel was ’n belangrike toevoeging om daardie warm, knus gevoel te skep. Worcester kan in die winter bitter koud raak en dis ’n lekker plek waar ons saam kan kuier en kook.”

’n Ander vlak

Dit kan intimiderend wees om die regte soort werkvlak vir jou kombuis-opknap te kies. Jou begroting en die voorkoms wat jy wil skep, is waarskynlik die belangrikste faktore wat jou uiteindelike keuse gaan bepaal. Stephanie Forbes, die nasionale bestuurder by The Kitchen Specialists Association of SA (KSA), gee raad:

• Die huidige trend is ’n dun, skoon voorkoms soos dié van porselein en ander soliede materiale soos Corian. Selfs vervaardigers van saamgestelde klip het heelwat gevorder om hul blaaie so dun moontlik te maak sonder om integriteit in te boet.

• Die marmervoorkoms is weer gewild. Natuurlike marmer is nie ’n goeie opsie vir ’n kombuis nie omdat dit sagter en meer poreus is as graniet, maar baie van die kunsmatig vervaardigde produkte slaag daarin om die kleur en tekstuur van marmer so goed na te boots dat verbruikers die estetiese voordele daarvan kan geniet saam met die duursaamheid van saamgestelde klip.

• Die natuurlike, ruwe voorkoms bly gewild. Ongeag die produk kan vervaardigers nou aan verbruikers die verweerde voorkoms van ou hout, leiklip en beton bied.

• Gelamineerde blaaie is nog altyd as outyds beskou, maar kyk mooi: die gehalte van gelamineerde oppervlakke, soos Formica, het geweldig verbeter. Danksy vordering in druktegnologie het dié blaaie die “gevoel” van klip of hout en is dit duursaam genoeg vir gebruik op werkblaaie en deure. Dis boonop ook in die trendy dunner formaat beskikbaar.

• Nog ’n gewilde opsie is om materiale te kombineer, soos verskeie soorte houtfineer, hoëglans- en mat oppervlak-materiale. Kombineer dit met vlekvrye staal, beton en glas vir tekstuur.

• Soliede oppervlakke, soos Corian, het aanvanklik gesukkel om pos te vat in Suid-Afrika, maar danksy die groeiende behoefte aan dun, ononderbroke lyne, neem dit toe in gewildheid. Vervaardigers het daarby nuwe kleure ontwikkel, wat die marmer- en sementvoorkoms insluit.

KONTAK ksa.co.za

Juanita se kombuistafel is perfek vir pasta rol. Houtrak van Weylandts

Dis in die detail
Die gangdeur is vervang met ’n glas-stortdeur om meer lig in te laat.

Kombuis

Al is die kombuis aan die klein kant, is daar genoeg sitplek danksy ’n netjiese viersitplektafel met ’n Corian-blad as deel van die eiland. Skilderye van Juanita se kinders deur Jeanne Hendricks en ontwerper-hanglampe deur Lisa Firer gee persoonlikheid aan die vertrek. Corian-blad deur Wijnland Aluminium & Shopfitting; stoele van Incanda

Ek hou daarvan dat die eetarea deel is van die kombuiseiland. Dis heerlik knus. – Juanita

Voor
Ons is dol hieroor!

’n Ou koper-geiser se kante is uitgerol en as spatplaat gebruik. Marmerblaaie van Sangengalo Marble & Granite

Uitgebreek

Om plek te maak vir die nuwe opwaskamer is een van die buitemure uitgebreek, en alles wat in die kombuis was, verwyder. “Dit was so terapeuties om daardie muur uit te breek,” sê Juanita en lag. “Ek het dit regtig geniet om met die brekery te help!” ’n Klein stoep perfek vir al fresco-middagetes is ook aangebou. “In die warmer seisoene is dit heerlik om buite te eet en na die geluid van die water in die fontein te luister,” voeg sy by.

In pas met haar begeerte na ’n natuurlike voorkoms het Juanita besluit op eenvoudige kaste met ’n eikehout-afwerking, oop, wit rakke bo die wasbak, marmeroppervlakke en Corian vir die kombuistafel se blad. Die basis is neutraal, maar ’n koper-spatplaat en bykomstighede soos skilderye, plante en gekleurde dienborde, potte en toestelle verleen tekstuur.

Hoewel onderbeklemtoon, is niks in dié kombuis vervelig nie. Die vloer met sy donkergrys teëls – met stroke kleiner seshoekige teëls tussenin – is ’n ware apploustrekker. Dis vir Juanita wonderlik dat sy en haar kinders hier saam kan wees wanneer sy kook en hulle studeer, veral in die winter omdat dit so ’n intieme, knus ruimte is – dis alles wat sy van die opknap wou hê.

Die kaggel word ook gebruik vir braai en die nuwe staalraamvenster bring tonne natuurlike lig in. Gordynstok van BUCO; gordyne en poefs van Hertex; teëls van Muse Tiles en WOMAG; dekor en plante van Incanda

Hanglampe van Lisa Firer Design

Rakke en keramiekware van Weylandts

Krane van BUCO

Opwaskamer

’n Nuwe opwaskamer van sowat 9 m², asook ’n klein stoep, is by die bestaande kombuis aangebou. 

VERSKAFFERS