Foto’s Elza Cooper Stilering Amanda van Wyngaardt

Pa en seuns moes veiligheidstoue gebruik terwyl hulle die hoë afdak oor hul braaidek gebou het. 

Wie woon hier?

Saranie en Eddie Harvey en hul seuns, Matthias, Simon en Edward

WAAR Rietondale, Pretoria

GROOTTE 50 m²

Die wenspan, van links: neef Evann, Matthias, Eddie Harvey sr., Eddie, Saranie en Simon.

Voor

Vra jy vir Saranie Harvey wat die hoogtepunt is van hul dekprojek, huiwer sy nie ’n oomblik nie: “Dis nie die voor-en-ná-foto’s nie,” sê sy, “maar hoe my man, skoonpa en drie seuns saam- gewerk het. Dit was so mooi om te sien.” En spanwerk was dit voorwaar ...

“Gelukkig is die seuns almal amateur-rotsklimmers en gevolglik was dit sommer kinderspeletjies vir hulle om met veiligheidstoue dakplate op te sit of sweiswerk hoog in die lug te doen!” sê dié trotse ma wanneer sy vertel hoe die dek by hul huis, waar hulle nou die aande – en luilekker dae – omkuier, staangemaak is.

Hul plan was duidelik: Ontwikkel die onbenutte ruimte aan die agterkant van die huis deur die vloer te lig met ’n dek rondom ’n ingeboude vuurput. ’n Ingenieursvriend van Letsitele, Kobus van Wyk, het vir hulle die planne vir die staalstruktuur waarop die dek rus, geteken, en toe een naweek deurgery om te help met die insit van die pilare vir die afdak. Alles moes presies volgens die planne gedoen word. En van daar was als die pa-en-seunspan se werk.

Vuurput

“Hulle het elke naweek gewoeker,” vertel Saranie. “In die week moes alles nood-gedwonge stilstaan omdat almal óf by die werk óf by die skool was, maar toe kon twee handlangers darem solank die bou- en pleisterwerk van die vuurput afhandel.”

Vir die dek het die Harveys Zimbabwiese kiaat gebruik, wat hulle met Timberlife Satinwood 28/28 Base geseël het. Dié olie voed ook die hout. “Kiaat is uiters gehard; dis destyds vir spoorwegdwarslêers gebruik omdat dit so taai is. Ons het dit teen ’n goeie prys by African Dawn Timber gekry. “Ons hou dit skoon met gewone seepwater, en een keer per jaar sit ons twee lae van die Timberlife-seëlaar op. Dis baie minder werk as vernis wat eers afgeskuur moet word.” Die hele projek het hulle uiteindelik drie en ’n half maande besig gehou, maar die Harvey-manne is dit eens: Dit was ’n verrykende ondervinding ...

’n Oopvouvenster verbind die kombuis met die dek.

So het hulle dit aangepak:

1 Nadat die ou plaveiblokke verwyder is, is die baksteenbraai opgebou en gepleister. Tussendeur is die raamwerk vir die dek gebou.

2 Die ou eetkamervenster is uitgebreek en met ’n dubbele oopswaaideur vervang om vloei tussen binne en buite te vergemaklik.

3 African Dawn Timber het uitgewerk presies hoeveel planke nodig gaan wees en dit toe op maat gesaag. Die eienaar, Donald Wolvaardt, se advies was ook om houtstutte aan elke dwars-staalstaaf vas te skroef sodat die houtdek aan hout vasgeskroef word en nie aan staal nie – dit keer dat die skroewe mettertyd begin roes en die houtplanke loskom wanneer ’n mens daaroor loop.

4 Nadat die dek gelê is, is dit geseël vir beskerming. Die afdak is teen ’n helling gebou sodat reënwater netjies in die huis se geute val.

V&A met Saranie en Eddie

Wat is jul grootste geldspaarwenk?

Doen alles self!

Waar het jy jou idees gekry?

Ons argitekvriendin, Karen Trieloff, en vriend Kobus van Wyk, ’n meganiese ingenieur en boer van Letsitele.

Wat geniet jy die meeste van die voltooide projek?

’n Mens kan lekker kuier en gesels tussen die kombuis en braaiplek.

Die afwerking

Houtstutte AGM Mills (083 643 4230)

Bakstene en sement Rymar-sementverspreiders (012 800 1701)

Dakplate Natralite-polikarbonaat van Builders (0860 284 533)

Dekplanke Zimbabwiese kiaat van African Dawn Timber (060 971 4264)

Nuwe deur en venster Karula Glass & Aluminium (083 276 3964)

Staal MacSteel (012 542 2255) Seëlaar Timberlife (012 803 8595)